Verbruikersake: Banke se pyne

banke-rekenaar-klagte

Foto: Helloquence/Unsplash.com

Die bankombud het verlede jaar 7 172 klagtes van verbruikers afgehandel en in 75% van die gevalle in die banke se guns beslis, wat hoofsaaklik dieselfde verdeling wys as in 2017, toe 73% van die klagtes in die guns van banke beslis is volgens die ombud se jaarverslag wat onlangs bekendgestel is. Ina Opperman het gaan kyk of verbruikers enige lesse kan leer uit die klagtes wat opgelos is ten gunste van die banke of verbruikers.

Verbruikers kla hieroor

Volgens die jaarverslag het die meeste verbruikers (22%) oor internetbankdienste gekla, gevolg deur OTM-bankdienste (14%), kredietkaarte (12%), persoonlike lenings (11%), lopende rekeninge (10%), huislenings (10%), voertuigfinansiering (8%), spaarrekeninge (3%), debietorders (3%), beleggings (2%), oortrokke rekenings (1%), tjekrekenings (1%), boedels en trusts (1%) en versekering (1%).

Aanlyn bankbedrog

’n Verbruiker het by die ombud gekla oor aanlynbankbedrog toe sy aanlynbankbesonderhede uitgelek is met ’n Microsoft-skelmstreek. Die skelm het toe transaksies gedoen met die verbruiker se aanlynbankprofiel en altesaam R140 000 uit sy rekening na ander rekeninge oorgedra. Toe hy die bank in kennis stel, kon die bank nie sy geld terugkry nie.

Gedurende die ombud se ondersoek na die klagte, het dit geblyk dat die bank waarheen die geld oorgeplaas is, ’n paar keer die verbruiker se bank gevra het om ’n beëdigde verklaring en saaknommer by die verbruiker te kry, anders word die ontvanger se rekening wat weens ’n vermoede van bedrog gevries is, ontvries.

Die verbruiker se bank het hom egter nie betyds in kennis gestel nie en toe die ontvanger se bank nie die saaknommer en verklaring kry nie, het die ontvanger al die geld getrek. Die ombud het toe bevind dat al was die verbruiker se bankbesonderhede met ’n slenter bekom, het die verbruiker se verlies nie daaruit gespruit nie, maar uit sy eie bank se versuim om hom te laat weet van die verklaring en saaknommer wat nodig is.

Die bank moes die verbruiker toe vergoed en het ingestem om dit te doen.

Wat leer ons hieruit?

As jou geld op ’n bedrieglike wyse uit jou bankrekening verdwyn, moet jy dit betyds aanmeld en sorg dat jy ’n beëdigde verklaring en saaknommerverskaf. As die bank nie betyds optree nie, is die bank aanspreeklik en nie jy nie.

Kredietverskaffing

’n Verbruiker het by die ombud gekla toe sy uitvind haar man het ’n lening van R25 000 gekry sonder haar toestemming al is hulle binne gemeenskap van goedere getroud. Sy was eksekuteur van haar man se boedel ná hy dood is en het tóé eers van die lening uitgevind. Die bank het geweier om die skuld af te skryf omdat sy nie toestemming gegee het vir die lening nie.

Sy het ook gemeen die bank het hom skuldig gemaak aan roekelose uitlening, omdat haar oorlede man nie die maandelikse afbetaling kon bekostig nie.

Die bank het ontken dat die lening roekelose uitlening was aangesine ’n bekostigbaarheidsondersoek gedoen is. Volgens die bank het hy ook vertrou die inligting wat haar man gegee het, korrek is, en dat sy vrou wel ingestem het dat hy geld kan leen.

Die ombud het in die ondersoek na die klagte bevind dat die lening nie roekeloos toegestaan is nie, maar by verdere oorweging dat die bank nie kon aanspraak maak op ’n ooreenkoms wat deur die verbruiker se oorlede man geteken is nie omdat die verklaringsvorm wat hy geteken het, spesifiek voorsiening maak daarvoor dat sy moet verklaar dat sy ingestem het tot die lening.

Die bank kon dus nie se dat hy onder die indruk was dat die ooreenkoms aangegaan word met die vrou se toestemming nie, aangesien sy nie die verklaring geteken het nie. Die ombud het egter opgemerk dat die gesamentlike boedel baat gevind het by die lening en aanbeveel dat die uitstaande bedrag aan die bank terugbetaal word en die bank die geld en rente wat daarmee verband hou, afskryf. Die bank het ingestem.

Wat leer ons hieruit?

Die bank kan aanspreeklik gehou word omdat dit duidelik was dat die vrou nie ingestem het tot die lening nie, maar nie in so ’n mate dat die verbruiker onregverdig verryk word op die bank se koste nie.

Onregverdig gelys as “agterstallig”

’n Verbruiker het by die ombud gekla oor die bank wat die finansiering vir sy motor verskaf het. Toe hy nie langer die maandelikse paaiemente kon bekostig nie, het hy die motor aan die bank oorhandig ingevolge artikel 127 van die Nasionale Kredietwet. Sy rekening was op datum.

Die bank het die motor aanvaar en die verbruiker se debietorder gekanselleer. Die verbruiker het egter later vasgestel dat die bank hom by die kredietbuuro’s gelys het omdat sy rekening agterstallig was.

Volgens die ombud maak artikel 127 voorsiening daarvoor dat die verbruiker se kredietprofiel nie beïnvloed word as hy die motor teruggee nie omdat hy stappe doen om te keer dat sy rekening agterstallig is. Dit is dus nie duidelik waarom die bank steeds van die verbruiker verwag het om sy maandelikse paaiemente te betaal nie.

Die bank het dalk verwag dat die verbruiker aanhou betaal totdat sy motor weer verkoop is, maar indien dit die geval is, is hy nie daarvan in kennis gestel nie en die bank het self sy debietorder gekanselleer. Die ombud het voorgestel dat die bank die inskrywing by die kredietburo’s verwyder, wat die bank toe gedoen het.

Wat leer ons hieruit?

Dit is banke se plig om jou duidelik te verwittig wat hulle van jou verwag en om te voldoen aan wetgewing.

Kla hier oor banke se produkte en dienste

Besoek die Ombudsman vir bankdienste se webtuiste by Obssa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.