Verbruikersake: Beskerm jouself só wanneer jy ’n franchise koop

(Foto: Tetiana SHYSHKINA/Unsplash)

Sommige verbruikers wat weens die pandemie hul werk verloor het, het ’n pakket gekry en sommige van hulle beplan om daarmee ’n nuwe onderneming te begin. Baie oorweeg dit om ’n franchise te koop, maar daar is baie mense wat vir jou nare stories kan vertel oor wat gebeur het toe hulle ’n franchise gekoop het sonder om twee keer te dink. Ina Opperman het gaan kyk hoe die Wet op Verbruikersbeskerming jou beskerm en waarna jy moet oplet indien jy ’n franchise wil koop.

Die Wet op Verbruikersbeskerming is eintlik gerig op die beskerming van verbruikersregte en nie soseer dié van ondernemings nie, maar die aankoop van ’n franchise word juis gedek omdat gewone verbruikers dikwels franchises koop al het hulle geen sakekennis en ondervinding nie.

Dit is baie belangrik om te sorg dat jy al die inligting het sodat jy ’n ingeligte keuse kan maak. Jy moet sorg dat jy al die klousules in die kontrak verstaan en dat jy al die verpligte inligting het om jouself te beskerm teen onbillike en onregverdige voorwaardes en risiko’s.

Die franchise-ooreenkoms

’n Franchise-ooreenkoms sluit bepalings in dat:

  • die koper betaal vir die reg om die onderneming te bedryf in Suid-Afrika, sowel as die franchiseverkoper se dienste en die gebruik van die handelsnaam en bemarking, soos reklame, handelsmerke, -simbole, -kentekens en -etikette wat die verkoper se eiendom is; en
  • die verkoper die stelsel of bemarkingsplan bepaal en dat die onderneming sal voldoen aan die franchise se vereistes oor hoe dit moet lyk.

Volgens Artikel 5(6) van die Wet word franchisekopers nie net beskerm nadat die franchise-ooreenkoms geteken is nie, maar ook wanneer:

  • hulle navraag doen oor ’n franchisegeleentheid;
  • hulle aanbiedings van ’n franchiseverkoper om ’n ooreenkoms te sluit bywoon; en
  • hulle ’n franchise-ooreenkoms of ’n ooreenkoms wat volg op ’n franchise-ooreenkoms en die verskaffing van goedere en dienste aan ’n franchise volgens die ooreenkoms oorweeg.

Artikel 7 van die Wet bepaal dat franchise-ooreenkomste op skrif moet wees, in gewone, verstaanbare taal en dat beide partye dit onderteken. Dit moet ook die volgende insluit:

  • Die presiese woorde: “a franchisee may cancel a franchise agreement without cost or penalty within ten business days after signing such agreement, by giving written notice to the franchisor. (Section 7(2) Consumer Protection Act. 2008)’, soos voorgeskryf deur regulasie 2;
  • Bepalings wat die verbruiker beskerm teen onbillike en oorgewaardeerde administrasiekoste/heffings, pryse of ander direkte of indirekte betalings of onregverdige optrede oor die risiko’s van een van die partye, of die werklike sakebelange van die franchise;
  • ’n Klousule dat die verkoper nie ’n onverklaarde direkte of indirekte voordeel of vergoeding mag kry van verskaffers nie, tensy die kopers van die franchise skriftelik daarvan verwittig is;
  • Die naam en beskrywing van die soorte goedere of dienste wat die franchisekoper kan verskaf, vervaardig, maak of verkoop, sowel as die verkoper en koper se verpligtinge en ’n beskrywing van die franchise;
  • Direkte of indirekte betalings wat die koper aan die verkoper moet betaal;
  • Besonderhede van die gebiedsregte, indien daar is, wat aan die koper toegestaan word en ’n beskrywing van die perseel en ligging van die onderneming, sowel as die aard en omvang van die verkoper se betrokkenheid by die goedkeuring van die perseel;
  • Wanneer die koper of sy boedel die regte en verpligtinge ten opsigte van die franchise kan oorplaas of toewys aan iemand anders;
  • ’n Beskrywing van die handelsmerk of enige ander intellektuele eiendom wat die franchiseverkoper besit of lisensieer en die voorwaardes vir die gebruik daarvan;
  • Die identiteit van die meesterverkoper as daar een is, sowel as die verkoper se regsnaam, handelsnaam, geregistreerde kantoor en franchisekantoor, straatadres, posadres, e-posadres, telefoonnommer, faksnommer en die verkoper se direkteure of soortgelyke ampsdraers se name, identiteitsnommers, dorp waar hulle woon, posisie en kwalifikasies;
  • Indien die maatskappy nie genoteer is nie, besonderhede van die eienaar, lid of aandeelhouer;
  • Inligting oor opleiding en bystand van die verkoper aan die koper;
  • Die voorwaardes vir beëindiging, hernuwing, klandisiewaarde en toekenning van die franchise, sowel as die opsie om die franchise uit te brei of te hernu;
  • ’n Geskrewe verduideliking van enige voorwaardes wat die koper nie heeltemal verstaan nie;
  • Enige beperkings op die franchisekoper;
  • Bevestiging dat enige deposito’s van die koper in ’n aparte bankrekening gehou word en hoe hierdie geld gebruik sal word;
  • Volledige besonderhede van die koper se finansiële verpligtinge, wat die voorafbetaling, koop of huur van die perseel, kostes om die perseel te verander, dekor en letterskilderwerk, toerusting, meubels, personeel, opleiding, voorraad, regs- en finansieringskoste en aanvanklike bedryfskapitaal insluit en ’n aanduiding hoe dit bereken is;
  • Watter uitgawes ingesluit is in die aankoopprys;
  • Die befondsing wat beskikbaar is van die verkoper, die voorwaardes daarvoor en die totale bedrag wat die koper moet bydra voordat die fondse aan hom geleen kan word;
  • Enige bedrae wat die koper gereeld aan die verkoper moet betaal en of dit altyd dieselfde gaan bly en of die koste vir goedere en dienste wat die koper by die verkoper moet koop, daarby ingesluit is (Die datums vir die betalings moet ook aangedui word); en
  • Enige heffings vir administratiewe dienste en wat hierdie dienste behels.

Reklame of bemarkingsfonds

Volgens regulasie 2 van die Wet moet die koper:

  • direk of indirek bydra tot die fonds vir reklame of bemarking en die ooreenkoms moet die bedrag daarvoor aandui;
  • ’n afskrif van die finansiële state kry wat die fonds se inkomste en uitgawes vir die afgelope finansiële jaar wys, binne ses maande na die einde van die finansiële jaar. Geld uit hierdie fonds mag nie gebruik word vir reklame of bemarking vir die verkoop van nog franchises nie; en
  • ’n sertifikaat kry van ’n geregistreerde ouditeur dat die fonds se rekening geoudit is en dat die state korrek is.

Verpligte franchise-inligting

Regulasie 3 bepaal dat die verkoper ’n dokument aan die koper moet gee wat inligting oor die franchise verskaf, ten minste 14 dae voordat die ooreenkoms onderteken word. Hierdie dokument moet deur die verantwoordelike persoon geteken word en die volgende inligting gee:

  • Die aantal winkels in die franchise;
  • Die groei van die franchiseverkoper se omset, netto wins en die aantal winkels wat in die vorige jaar geopen is;
  • ’n Verklaring dat daar geen belangrike veranderinge in die verkoper se finansiële posisie was sedert die laaste sertifikaat deur die ouditeur uitgereik is nie;
  • Geskrewe vooruitskattings oor die vlakke van moontlike verkope, winste of ander vooruitskattings en hoe dit bereken is;
  • ’n Sertifikaat op ’n amptelike briefhoof van die ouditeur dat die onderneming ’n lopende onderneming is, in staat is om sy huidige verpligtinge na te kom en dat die finansiële state opgestel is volgens wetgewing;
  • ’n Lys van die huidige franchisehouers en -winkels en die name van die verteenwoordigers, die fisieke adresse, e-posadresse en telefoonnommers;
  • ’n Verklaring dat die voornemende koper ander franchisehouers kan kontak of ander winkels in die franchise mag besoek om seker te maak die inligting is korrek; en
  • ’n Organogram wat wys hoe die ondersteuningstelsel vir franchisehouers werk.

Hoe om die ooreenkoms te kanselleer

Die koper kan ’n franchise-ooreenkoms kanselleer sonder om enige kostes of boetes te betaal binne tien werksdae nadat die ooreenkoms geteken is, deur op skrif kennis te gee aan die verkoper dat hy die ooreenkoms wil kanselleer.

Kla hier:

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor franchises wat skeef loop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.