Verbruikersake: Beter beskerm met nuwe eiendoms­praktisyns­wetgewing

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Om ʼn huis te koop of te verkoop of om ʼn plek te huur of te verhuur was nog altyd vol struikelblokke as jy nie versigtig is nie, veral as jy die verbruiker is wat geen kennis het van wetgewing oor eiendomstransaksies nie. Die nuwe Wet op Eiendomspraktisyns wat op 1 Februarie in werking getree het, gaan verbruikers nou beter beskerm teen al die moontlike slaggate wat kan opduik. Ina Opperman het gaan kyk hoe die nuwe wet jou gaan beskerm.

Om ʼn huis te koop of ʼn blyplek te huur is een van die grootste uitgawes wat verbruikers ooit sal aangaan. Daarom is dit belangrik dat daar wetgewing is wat hulle kan beskerm wanneer hulle hul swaarverdiende geld bestee, veral as hulle nog ekstra geld moet uitgee om dinge in die huis reg te maak waarvan hulle nie vooraf geweet het nie.

Die doel van die Wet op Eiendomspraktisyns is om:

  • Eiendomspraktisyns te reguleer.
  • Te verseker dat die Eiendomsagentskapsakeraad voortleef as die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns.
  • Voorsiening te maak vir die aanstelling van raadslede, die hoof van die reguleringsowerheid en ander personeel.
  • Transformasie in die eiendomspraktisynsektor te verseker.
  • Die transformasie-en-navorsingsentrum te stig.
  • Voldoening aan en toepassing van dié wet te verseker.
  • Te verseker dat die Getrouheidsfonds vir Eiendomsagente voortleef as die Getrouheidsfonds vir Eiendomspraktisyns.
  • Verbruikers te beskerm.
  • Die Wet op Eiendomsagentskapsake te herroep.

Verbruikersbeskerming

Die wet maak voorsiening vir verbruikersbeskerming in artikels 67, 68 en 69 deur ʼn openbaarmakingsvorm verpligtend te maak, te bepaal wat in eiendomsooreenkomste moet wees en dit verpligtend te maak vir die gesagsowerheid om verbruikers op te voed en in te lig.

Verpligte openbaarmaking

Artikel 67 bepaal dat ʼn eiendomspraktisyn nie ʼn mandaat mag aanvaar tensy die verkoper van die eiendom of die eienaar van ʼn woonplek wat uitgehuur word ʼn verpligte openbaarmakingsvorm ten volle ingevul en geteken het nie.

Volgens die konsepregulasies moet die eienaar aandui of hy of sy bewus is van of nie bewus is nie van:

  • Defekte in die dak.
  • Defekte in die elektrisiteitstelsel.
  • Defekte in die afvoerstelsel, wat die swembad insluit.
  • Defekte in die verhittings- en verkoelingstelsels, wat lugfilters insluit.
  • Defekte in die septiese of ander sanitêre stelsels.
  • Defekte aan die eiendom en/of die kelder of fondament, wat insluit krake, vog wat deursyfer en uitstulpings of vloede, vogtigheid of nat mure en onveilige konsentrasies van muf, of defekte in die drein.
  • Strukturele defekte.
  • ʼn Grenslyndispuut.
  • Herbouings of herstelwerk wat die struktuur raak.
  • Aanbouings of verbeterings of enige bouwerk wat gedoen is sonder die vereiste goedkeurings.
  • ʼn Struktuur wat geoormerk is as ʼn geskiedkundige struktuur of ʼn erfenisterrein.

Die eienaar sertifiseer dan dat die inligting waar en korrek is tot die beste van sy wete op die datum wat die vorm geteken is. Die koper teken die vorm ook om te erken dat hy ingelig is dat professionele kennis en/of tegniese vaardighede nodig kan wees om defekte op te spoor.

Die eiendomspraktisyn moet dan ʼn afskrif van die voltooide verpligte openbaarmakingsvorm aan voornemende kopers of huurders gee sodat hulle ʼn aanbod kan maak om te koop of te huur. Alle relevante partye moet die voltooide vorm onderteken en dit moet aangeheg word by enige ooreenkoms om die eiendom te koop of te huur.

Dit vorm ʼn integrale deel van die ooreenkoms en indien die vorm nie voltooi is nie, moet die ooreenkoms beskou word as dat geen defekte of gebreke aan die eiendom aan die koper geopenbaar is nie. Verbruikers wat geraak word, kan dan die eiendomspraktisyn verantwoordelik hou.

Die gesagsowerheid kan dan ook teen ʼn eiendomspraktisyn optree of ʼn gepaste straf gee in so ʼn geval. Verbruikers kan ook die eiendom self inspekteer voordat die transaksie gefinaliseer word en moet die koste daarvan betaal.

Eiendomsooreenkomste

Artikel 68 bepaal dit is verpligtend vir die ontwikkelaar of verkoper om die ooreenkoms op te stel om te verkoop of te koop of om te verhuur of te huur, asook die verpligte openbaarmakingsvorm en om te betaal om dit op te stel. Die gesagsowerheid moet gereeld bygewerkte riglyne daarvoor op sy webwerf plaas.

Verbruikersopvoeding en -inligting

Artikel 69 bepaal dat die gesagsowerheid veldtogte van stapel moet stuur om verbruikers op te voed en in te lig oor hul regte in eiendomstransaksies en eiendomspraktisyns oor hul funksies, pligte en verpligtinge.

Uitreiking van voldoeningsertifikate

Artikel 66 beskerm ook verbruikers teen ander probleme in ʼn eiendom wat weggesteek kan word al word ʼn sertifikaat uitgereik dat dit nie ʼn probleem is nie. Die artikel bepaal dat ʼn eiendomspraktisyn nie vergoed mag word of ʼn kundige mag vergoed om ʼn sertifikaat uit te reik volgens wet nie vir:

  • Die toestand van of defekte in die elektriese bedrading.
  • Die voorkoms van peste.
  • Die voorkoms van water of vogtigheid.
  • Enige ander betrokke saak of toestand waarvoor wetgewing voorsiening maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik ·

Met die nuwe wette gaan verkopers sukkel om hulle pryse te kry. Die agente sal maar hulle kommissies en verkoops pryse laat daal anders gaan huis verkope gekniehalter word. Lyk my amper asof huis pryse gaan val.

Johann ·

N mond vol Maar absoluut niks nuut nie Daar was niks fout met die Eiendomsraad nie en wetgewing het al die aspekte gedek Bv ‘n elektriese sertivfikaat was verpligtend Wat Ina nie se nie is dat in die gees van trasformasie voorheen benadeelde agente geen boetes of agterstallige gelde gaan betaal nie Terwyl blanke agent dit moet byhou Ook dat voorheen benadeelde agente nie dieselfde kwalifikasies as blanke agente benodig nie Dit lyk vir my skryf en lees is nie eers ‘n vereiste nie en hulle gaan hulle FFC sertifikate vir 3 jaar gratis kry Ook se sy nie dat agentskappe wat ‘n omset van meer as R2.5mil het ‘n BEE venoot moet kry met ‘n 52% aandeel nie
Die Property practitioners act gaan nie oor dienslewering nie, maar oor transformasie

Carl ·

Johann slaan die spyker op die kop. Kyk na die doelwitte van die nuwe wet soos bo omskryf. Slegs 1 van die 9 doelwitte is om die verbruiker te beskerm. Die enigste werklike doel van die Wet is om verdere transformasie te dryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.