Verbruikersake: Die regte prys om te betaal

Argieffoto (Foto: beeki, Pixabay)

Sedert die Wet op Verbruikersbeskerming in 2011 van krag geword het, weet baie verbruikers (en handelaars) steeds nie wat jou regte is as verbruiker met betrekking tot die pryse van produkte en dienste nie. As die prys op die rak en by die kassier verskil, kry jy dit mos gratis, nie waar nie? En dieselfde geld mos wanneer produkte nie verkoop word teen die prys waarvoor dit geadverteer is nie? Nee, dis nie so eenvoudig nie. Ina Opperman verduidelik wat jou regte is wanneer pryse verskil.

Twee artikels in die Wet op Verbruikersbeskerming maak voorsiening vir jou regte as verbruiker oor pryse wanneer jy iets koop: artikels 23 en 29.

Artikel 23

Die bekendmaking van die prys van goedere of dienste word in artikel 23 bepaal en hier beteken “prys” ook eenheidsprys. Volgens hierdie artikel is kleinhandelaars nie verplig om ’n prys aan te bring op goedere wat hoofsaaklik as ’n vorm van reklame uitgestal word of wat uitgestal word in ’n deel van die winkel waartoe die publiek nie gewoonlik toegang het nie, soos ʼn winkelvenster.

Wys die prys

’n Kleinhandelaar mag egter nie goedere as te koop uitstal sonder om aan te dui wat die prys is nie. Pryse moet skriftelik op produkte aangedui word in rand en sent. Die prys kan aan- of vasgeheg word, geskryf, gedruk, gestempel of geplaas word, of andersins aangebring word op ’n band, kaartjie, bedekking, etiket, verpakking, rol of rak.

Duidelike pryse

Jy moet redelikerwys kan aflei dat die prys van toepassing is op die betrokke goedere of dienste. ’n Katalogus, brosjure, omsendbrief of ander publikasie waarin goedere en dienste beskikbaar gestel word, moet aandui tot wanneer die prys wat aangedui word, geldig is, of dit moet ʼn datum hê sodat jy kan sien of dit ʼn ou prys is.

Wanneer pryse verskil

ʼn Winkel mag nie van jou verwag om ’n prys vir goedere of dienste te betaal wat hoër is as die prys wat aangedui word nie, of wat hoër is as die laer of laagste prys wat aangedui word as meer as een prys gelyktydig uitgestal word nie.

As jy dus by die kassier ʼn hoër prys moet betaal as wat op die rak aangedui word, kan jy daarop aandring om die laer prys te betaal, maar binne perke. Jy kan byvoorbeeld nie daarop aandring om R5 vir ʼn televisiestel te betaal as dit op die verkeerde rak beland waar die rakprys R5 is nie. ʼn Redelike verbruiker sal weet mens kan nie ʼn televisiestel vir R5 koop nie.

Dit is egter nie van toepassing op goedere of dienste waarvan die prys deur openbare regulasie vasgestel word nie, soos die prys van brandstof.

Twee pryse op mekaar

Wanneer ʼn prysplakker bo-oor ʼn ander een gepak is, word die prys op die boonste plakker beskou as die korrekte prys.

Verkeerde pryse

Wanneer ’n prys duidelik ’n onopsetlike en ooglopende fout is, word die winkel nie daardeur gebind nie, maar net indien die fout reggestel is en die winkel redelike stappe gedoen het om jou oor die fout en die korrekte prys in te lig. Winkels word ook nie gebind deur pryse wat deur ongemagtigde persone verander, geskend, bedek, verwyder of verberg word nie.

Geadverteerde pryse

Wanneer ʼn winkel pryse geadverteer het wat laer is as gewoonlik, moet die prys die gewone prys wees minus die afslag wat in geldelike of persentasiewaarde aangedui kan word, tensy die winkel twee of meer pryse op die produk aangebring het. Dan moet die verskil tussen die hoogste en laer of laagste prys gelyk wees aan die geadverteerde prysvermindering.

Uitsonderings

Hierdie artikel is nie van toepassing wanneer iemand klaar vir jou ʼn kosteberaming gegee het nie of jy afstand gedoen het daarvan nie. Die artikel is ook nie van toepassing op goed wat jy koop wat onderworpe is aan artikel 43 van die Wet op Elektroniese Kommunikasies en Transaksies nie.

Artikel 29

ʼn Deel van artikel 29 bepaal dat niemand goedere of dienste mag bemark op ’n wyse wat enigsins misleidend, bedrieglik of oneerlik is nie – die prys ingesluit. Die winkel mag jou ook nie mislei of bedrieg oor die pryse wat sy mededingers vir dieselfde produk vra nie. Dit beteken winkels mag nie iets adverteer as byvoorbeeld “die goedkoopste in die land” as dit nie inderdaad die geval is nie.

Onthou:

  • Pryse moet duidelik aangebring word op alle produkte of op die rak reg onder die produk.
  • Jy moet altyd die laer prys betaal indien die prys by die kassier hoër is as die prys op die rak.
  • Indien daar per abuis geen prys op iets is nie, moet die winkel moeite doen om jou te laat weet wat die prys is voordat jy betaal.
  • Pryse moet só aangedui word dat jy dadelik snap hoeveel dit kos. Pryse moet BTW en aflewering insluit.
  • Wanneer goedere net vir ʼn beperkte tyd teen ʼn spesiale prys beskikbaar is, moet die advertensie dit aandui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Ek sien gereeld by supermarkte dat die produk en die prys van die produk op die rak nie ooreenstem nie. En die prysetikette word op so ‘n manier op die rak aangebring dat jy net die prys kan sien, en nie noodwendig die naam van die produk nie. Hoe maak mens in so ‘n geval?

Piet Pompies ·

Die prys op die rak is nie noodwendig wat jy by die toonbank betaal, dit is onmoontlik om al die goedere se pryse te onthou as jy jou waentjie kruideniersware betaal.
Toevallig het ons Saterdag by Pick & Pay iLange Mall Nelspruit goedere gekoop, rak prys, R130,00 toonbank prys R131,99.
Die prys is reg gestel deur ‘n “Supervisor”, die vraag is net, hoeveel mense het die prysverskil agter gekom en die duurder prys betaal.

Meraai ·

Van die ketting winkels bring ‘n sogenaamde spesiale prys onder die produk op die rak aan, en dan is daar net nooit voorraad van die “special” nie. Behoort hulle nie die prys wat aandui hoeveel dit kos, dan liewers te verwyder nie, veral as hulle weet hulle gaan nie weer voorraad van die item teen die spesiale prys inkry nie. As mens vra of jy dan nie ‘n soortgelyke produk/maak teen dieselfde prys kan kry nie, is hulle gewoonlik moeilik daaroor en verbied jou om meer as een produk te koop!

Stephan ·

Dink nie die tweede punt van onder af is korrek as “pryse moet aflewering insluit nie”. Onmoontlike stelling?

Wonder ·

Moet nie vergeet hoe agterbaks, die verbruiker kan wees nie. Baie verbruikers wil baie dienste en goedere amper verniet hê. Nee wat hou op altyd die besighede probeer skuldig en moeilik laat lyk. Verbruikers in Suid-Afrika het my al baie ingedoen deur nie te betaal nie. En hier praat ek van die verbruikers wat in die ” estates ” bly en die duur karre ry. Om nie te vergeet van die wat altyd armoede predik as hulle, by jou wil koop, maar ry ‘n motor van oor honderde duisende rande nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.