Verbruikersake: Dis jou reg om goedere terug te gee of om te ruil

verbruiker-aankope-verkope

(Foto: Rawpixel/Unsplash)

Die Kerstyd is verby en nou moet jy alles wegpak, en dan kom jy agter dat daar ʼn geskenk is waarvan jy net mooi niks hou nie of dat iets gebreek was toe jy dit gekry het. Of dat daardie pragtige rok waarmee jy jouself bederf het met jou bonus eintlik glad nie goed lyk aan jou nie. Kan jy dit omruil en hoe gaan jy te werk? Ina Opperman verduidelik wat jou regte is.

Die Wet op Verbruikersbeskerming gee verbruikers baie regte wanneer hulle goedere wil omruil of hul geld terug wil hê wanneer hulle iets gekoop het waarmee daar fout is. Soms wil verbruikers graag iets omruil wat hulle as geskenk ontvang het en soms wil hulle iets teruggee sonder dat daar fout is daarmee.

Wat ook al die geval is, moet ʼn mens eers kyk na die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming.

Artikel 20

Artikel 20 handel oor jou reg om goedere terug te gee en bepaal ook dat dit nie enige ander wetlike reg van die verbruiker om goedere terug te gee en ’n terugbetaling te ontvang, vervang nie. Dit vervang ook nie artikel 56 nie, maar vul dit aan.

Jy het die reg om goedere aan die verskaffer terug te gee en ’n volle terugbetaling te ontvang as jy dit gekoop het in ʼn transaksie wat gespruit het uit direkte bemarking en jy die transaksie binne die afkoeltydperk gekanselleer het.

As jy dus ʼn selfoon bestel het nadat iemand jou eerste gebel en dit aangebied het, kan jy dit sonder rede teruggee as jy die transaksie binne die afkoeltydperk van vyf werkdae kanselleer. Die verskaffer moet dan jou geld binne 15 dae terug betaal, maar die risiko bly joune totdat die verskaffer dit terug ontvang het. Jy betaal ook om dit terug te stuur.

In al die volgende gevalle betaal die verskaffer om dit terug te stuur en die risiko berus by die verskaffer.

  • Jy het die reg om goedere wat jy nie vooraf kon nagaan nie terug te gee as dit in terme van artikel 19(5) nie die soort en van die gehalte is wat jy redelikerwys kon verwag nie en jy dit net gekoop het op grond van ’n beskrywing of voorbeeld wat deur die verskaffer verskaf is. Die goedere moet in alle wesenlike opsigte en karaktertrekke ooreenstem met dit wat ’n gewone, waaksame verbruiker op grond van die beskrywing of op redelike nagaan van die voorbeeld, na gelang van die geval, geregtig sou wees om te verwag.
  • Dit is ook nie voldoende dat enige van die goedere met die voorbeeld ooreenstem indien dit nie ook met die beskrywing ooreenstem nie. In die geval van ʼn spesiale bestelling moet dit redelikerwys ooreenkom met die wesenlike spesifikasies van die spesiale bestelling. Jy het ook die reg om goedere terug te gee indien die hele bestelling nie met die terme van die ooreenkoms ooreenstem nie of jy kan die goeder wat wel aanvaarbaar is, hou en die res teruggee.
  • Indien die goedere ’n bepaalde doel moet dien en jy vind dit is nie geskik daarvoor nie, kan jy dit ook teruggee binne tien sakedae, tensy ’n openbare regulasie om openbare gesondheidsredes die teruggee verbied of indien dit gedeeltelik of heeltemal uitmekaar gehaal is, fisiek aangepas is, permanent geïnstalleer is of reeds aan iets anders vasgemaak is.

Artikel 56

Artikel 56 maak voorsiening daarvoor dat jy onveilige of foutiewe goedere kan teruggee.

As daar niks fout is nie

Wanneer jy dus goedere wil teruggee sonder dat daar fout is daarmee, kan jy jou net beroep op die goeie wil van die winkel om dit om te ruil of terug te neem en jou geld terug te gee. As die winkel egter weier, is daar wetlik niks wat jy daaraan kan doen nie. Indien jy egter iets per pos bestel het, kan jy dit teruggee as dit nie lyk soos die voorbeeld nie.

Wanneer kan jy goedere teruggee?

Jy kan eerstens goedere teruggee en ’n volle terugbetaling ontvang indien die goedere gekoop is in ʼn transaksie van direkte bemarking en jy dit gekanselleer het in terme van die afkoeltydperk wat gestipuleer word in die artikel.

Tweedens kan jy ook goedere teruggee as jy nie die geleentheid gehad het om dit na te gaan nie en jy dit verwerp het omdat dit nie van goeie gehalte is nie, of indien ’n mengsel van goedere gelewer is en jy dit geweier het omdat jy dit nie bestel het nie. In die derde plek kan jy dit teruggee wanneer jy iets gekoop het vir ʼn spesifieke doel en die onderneming binne tien werksdae laat weet het dit is nie geskik daarvoor nie.

Wanneer is dit van toepassing?

Hierdie bepalings is egter nie van toepassing nie op produkte waarvan die teruggee verbied word deur ’n openbare gesondheidsregulasie of as jy dit gedeeltelik of heeltemal uitmekaar gehaal het, fisiek aangepas, permanent geïnstalleer, vas- of aangeheg, aangelas of bygevoeg, vermeng of gekombineer, of vasgelê het in ander goedere of eiendom.

Terugbetaling

Die verskaffer mag nie ʼn bedrag hef as jy die produk in die oorspronklike, onoopgemaakte verpakking teruggee nie. Indien die goedere in die oorspronklike toestand en in die oorspronklike verpakking herverpak is, kan die verskaffer egter ’n redelike bedrag vra vir:

  • Die gebruik van die goedere in die tyd wat dit in jou besit was, tensy dit goedere is wat gewoonlik deur gebruik verbruik of uitgewis word en jy dit nie gebruik het nie.
  • Die verbruik of uitwissing tensy dit nodig is om ’n redelike hoeveelheid te gebruik om vas te stel of dit aanvaarbaar is.
  • Herstelkoste wat nodig is om die goedere weer reg te kry om te verkoop, tensy dit nodig was om die verpakking te vernietig om vas te stel of die goedere voldoen aan die beskrywing of voorbeeld, indien jy dit nie vooraf kon nagaan nie of vasstel of dit geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie.

Omruil van geskenke

Winkels vereis gewoonlik dat jy die kwitansie of faktuur wys wanneer jy iets omruil om te bewys dat jy dit gekoop het, maar jy kry gewoonlik nie die betaalstrokie saam met ʼn geskenk nie. Die meeste groot winkels is egter gewillig om geskenke sonder ʼn strokie om te ruil in die tyd ná Kersfees, tensy die geskenk spesiaal vir jou gemaak is.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor kleinhandelaars wat nie hou by die bepalings oor omruilings van die Wet op Verbruikersbeskerming nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

Game is werklik baie hulpvaardig. Ruil sonder stories om en indien jy steeds nie tevrede is nie betaal hulle jou terug sonder voorwaardes

Ek kan ·

Ons het aanlyn ‘n Smart tv by Game gekoop, net om te sien hy is toe nie heeltemal so ‘smart’ nie – DSTV now word nie ondersteun nie. Hierdie brokkie inligting word nêrens aanlyn gespesifiseer nie. Game is glad nie baie hulpvaardig nie, volgens hulle het ons die TV gekies en kan hulle nie pa staan vir ons verkeerde keuse nie.

Mallie ·

Makro is nie so gewillig nie. As jy byvoorbeeld onderklere koop, soos Jockey broekies vir dames en die verpakking is nie beskadig of oop gemaak nie weier hulle om dit om te ruil vir of n grooter of n kleiner nommer.

Benn ·

Ons het ‘n klient wat wild en wakker goedere aanskaf en dan ‘n paar dae later die helfte van die goedere terugbring. Dit is nou al haar gewoonte en baie selfsugtig van haar. Die administrasie en tyd daaraan verbonde om die goedere weer in voorraad te kry word nie in ag geneem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.