Verbruikersake: Dis wat beurtkrag aan elektriese toestelle doen

Suid-Afrikaners kan nie help om te wonder wat die invloed van beurtkrag op elektroniese en elektriese toestelle het. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.)

Beurtkrag kan die toestelle in jou huis op verskillende maniere raak, deur byvoorbeeld batterye te beskadig en stuwings te veroorsaak wat jou toestelle, soos yskaste en wasmasjiene, kan beskadig wanneer die krag weer aangeskakel word. Suiwer weerstandtoestelle, soos stowe en geisers, word egter nie geraak wanneer krag aan- en afgeskakel word nie. Ina Opperman het by Dialdirect gaan hoor watter toestelle deur beurtkrag beskadig kan word en hoe om dit te voorkom.

Die afgelope 14 jaar het beurtkrag die mees gehate gebeurtenis in Suid-Afrikaners se lewens geword. Baie van ons het op die harde manier geleer dat van jou toestelle deur beurtkrag beskadig kan word, maar verbruikers is steeds onseker wat beskadig kan word en wat nie.

“Daar is baie vrae oor hoe beurtkrag selfone, geisers, dekodeerders, modems, hekmotors en ander toestelle kan beskadig en selfs hoe jy jou toestelle kan beskerm,” sê Anneli Retief, hoof van Dialdirect.

Hierdie toestelle word deur beurtkrag geraak

As daar enige goeie nuus oor die onderwerp is, is dit dat jy jou toestelle kan beskerm as jy genoeg weet en goed beplan. Energiekenners sê die gevolge van beurtkrag verskil baie, afhangend van die soort toestel. Hulle sê die volgende toestelle word veral geraak:

  • Toestelle wat met batterye werk en gebruik word in enigiets van selfone en hekmotors tot alarms en steunstelsels. Wanneer ʼn battery heeltemal afloop, word sy lewensduur erg verkort. Vervaardigers waarborg gewoonlik hierdie batterye vir ʼn sekere aantal herlaaisiklusse en meer laaisiklusse wat deur beurtkrag veroorsaak word, verkort die batterylewe.
  • Toestelle met ʼn reaktiewe las, soos yskaste, tuimeldroërs, grassnyers, skottelgoedwasmasjiene, wasmasjiene, haardroërs en hekmotors, word gewoonlik aangedryf deur ʼn elektriese motor wat blootgestel word aan stuwings wanneer die krag onderbreek word. Ouer modelle is gewoonlik nie hierteen beskerm nie en kan deur stuwings beskadig word, maar beskerming is gewoonlik in nuwer modelle ingebou om elektroniese onderdele teen stuwings te beskerm.
  • Toestelle soos selfoonlaaiers, dekodeerders, rekenaars, radio’s en modems gebruik relatief min krag en gebruik gewoonlik ʼn kragbron wat die hoë voorsiening van krag omsit na ʼn laer, direkte stroomspanning. Hierdie toestelle is gewoonlik baie robuus en kan stuwings blokkeer. Batterye verskaf gewoonlik ook ʼn bykomende laag beskerming teen stuwings en skade weens stuwings is gewoonlik tot die kragbron beperk.
  • Toestelle wat verkoel, soos yskaste, vrieskaste en lugversorging, werk meestal met kompressors wat hulle meer vatbaar maak vir beurtkragskade omdat gas onder druk weerstand kan bied en skade veroorsaak aan die toestel se motor wanneer die krag weer aangeskakel word.
  • Beurtkrag kan ook driefase-kragstelsels beskadig omdat een of meer van die fases verlore kan gaan wanneer krag weer aangeskakel word, wat veroorsaak dat die driefase-motors ongebalanseerd raak en uitbrand en ook skade veroorsaak aan enkelfase-toestelle.
  • Suiwer weerstandtoestelle, soos stowe, geisers, ketels en verwarmers word nie geraak wanneer krag aan- en afgeskakel word nie.

Hoe om jou toestelle te beskerm teen skade weens beurtkrag

Dialdirect beveel aan dat jy die volgende stappe doen om jou toestelle, jou eiendom en jouself te beskerm gedurende beurtkrag:

  • Skakel yskaste en lugversorging af gedurende beurtkrag en skakel dit net weer aan wanneer die krag weer aangeskakel en stabiel is.
  • Skakel toestelle af wat ʼn brandgevaar kan inhou wanneer die krag weer aangeskakel word.
  • ʼn UPS (uninterruptible power supply) kan jou toestelle beskerm en lank genoeg aan die gang hou om hulle veilig af te skakel.
  • Hou die deure van yskaste en vrieskaste toe tydens beurtkrag om hulle langer koud te hou.
  • Sorg dat jy ʼn bygewerkte beurtkragskedule byderhand het om te verseker dat jy genoeg tyd het om vir beurtkrag voor te berei.
  • Skaf ʼn paar hoë-watt ligte aan wat met die son laai vir jou tuin en ʼn paar LED-ligte vir binne om inbrekers af te skrik.
  • Maak seker dat jou selfoon altyd gelaai is of belê in ʼn draagbare selfoonlaaier sodat jy steeds iemand vir hulp kan bel indien nodig.
  • Indien jy jou hekke met die hand moet oop- en toemaak tydens beurtkrag, sorg dat iemand saam met jou is of jou by die ingang ontmoet, of vra iemand van jou sekuriteitsfirma om te sorg dat jy veilig inkom.
  • Gebruik slotte, diefwering en skuifslotte om te sorg vir bykomende sekuriteit vir jou huis.
  • Verseker dat die alarmstelsel, motorhuisdeure en elektriese hekke goeie rugsteunbatterye het.
  • Hou ʼn flits of ʼn lig wat met batterye of sonlig werk op ʼn maklik bereikbare plek saam met ekstra batterye.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VaalDonkie ·

Dis ook ‘n goeie idee om “surge protectors” te gebruik vir jou yskaste en ander toestelle wat sensitief is vir hierdie ding.

Lourens CFG ·

Ek het ook gedink dit gaan werk, en het ‘n paar gekoop (vrek duur), en toe pak my dekodeerder, modem, alarm en 2X enkel garage deur motors op mét die “surge protectors” wat dit moes verhoed. Amper R5000 se skade.
Nou wanneer die krag afgaan, sit ek alles by die krag proppe af, en dan 5 min ná krag aan, skakel ek maar weer aan.
Klomp schlek elke keer.
Maar eksdom soek meer geld.

Helizna ·

Die transformers van Eskom kan ook nie die loadshedding hanteer nie en ontplof deesdae gereeld hieroor

AmY ·

Enigiets probleem hier is dat ons deesdae green idee meer het wanneer die krag gaan afgaan nie.

Lourens CFG ·

Hi maroela, wat is fout met my kommentaar oor die “surge protectors”?
Dit is iets wat ek wél ondervind het, ek het ook nog die kwitansies vir die skade.
Ek het ook gesê hoe ek die probleem nou oorbrug.
Punt is om te help keer dat ander soortgelyke skade opdoen.

Wielspore ·

Die berig dra seker gewig maar na my mening is die oplossing eerder om beurtkrag te voorkom. As jy ‘n doring in jou voet het kan jy pleisters plak tot die winkels nie meer het en die probleem sal nog steeds bestaan. Verwyder die doring en binnekort is die wond genees. Al die veiligheids toestelle soos in die berig genoem het sy voordele en ook nadele, ‘n surge arrestor maak ‘n kortsluiting tussen fases en veroorsaak dat die stroombreker uit klink, hierdie aksie kan jou huis se bedrading beskadig en self jou huis laat afbrand. UPS toestelle is ontsettend duur en met die prys van een kan jy twee TV’s koop. Neem versekering uit, sit die risiko op die versekeraar, dit is hoekom daar iets soos versekering is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.