Verbruikersake: Dis wat jy moet weet oor waarborge

verkope-koop-aankope

Foto: Rawpixel/Unsplash.com

Maatskappye gebruik dikwels beloftes van ’n waarborg as deel van ’n bemarkingsveldtog, veral vir duurder goedere, maar min verbruikers weet dat alles wat hulle koop in elk geval ʼn waarborg het. Die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal elke produk of diens wat jy koop, het ’n versweë waarborg. Ina Opperman verduidelik wat ʼn versweë waarborg is en hoe jy kan seker maak dat hierdie waarborg nagekom word.

Volgens artikel 56 (1) van die Wet op Verbruikersbeskerming het elke transaksie ʼn versweë bepaling dat die produsent of invoerder, verspreider én die kleinhandelaar elkeen waarborg dat die goedere voldoen aan die vereistes en standaarde van artikel 55, tensy dit verander is teenstrydig met die instruksies of nadat dit die produsent of invoerder, verspreider of kleinhandelaar se beheer verlaat het.

Jy het die reg op veilige goedere van goeie gehalte volgens artikel 55, wat gepas is vir die doel waarvoor dit gemaak is, in ’n goeie werkende toestand. Die goedere mag nie enige defekte hê nie en moet vir ʼn redelike tydperk bruikbaar en duursaam wees. Dit moet ook aan standaarde van die Wet op Standaarde of enige ander openbare regulasie voldoen.

Artikel 56 dui aan dat die versweë waarborg en jou regte daaroor, geld saam met enige ander versweë waarborg of voorwaarde in die gemene reg, die Wet op Verbruikersbeskerming of enige ander openbare regulasie en ʼn uitdruklike waarborg of voorwaarde van die produsent of invoerder, verspreider of kleinhandelaar.

Duur van versweë waarborg

Jy kan goedere volgens artikel 56 binne ses maande aan die verskaffer teruggee sonder om ʼn boete te betaal.

Wat kan jy van die verskaffer verwag?

Jy kan verwag dat die verskaffer, volgens artikel 56, goedere wat gebrekkig, onveilig of defektief is te herstel of vervang of dat hy jou geld terugbetaal. Wanneer ’n vervaardiger die produk of ʼn onderdeel herstel en dit nie binne drie maande doen nie of as jy ontdek nog iets is fout daarmee, moet die verskaffer die produk vervang of jou geld terug betaal. Die verskaffer dra die onkoste en risiko indien dit nie aan die vereistes van artikel 55 voldoen nie. Hierdie bepalings is ook van toepassing op tweedehandse of gebruikte produkte.

Onthou: Die versweë waarborg is van krag saam met enige ander waarborg van die vervaardiger. Wanneer ʼn vervaardiger ’n produk vir twee jaar waarborg, het jy dus meer regte gedurende die eerste ses maande ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming. Ná die eerste ses maande kan die vervaardiger byvoorbeeld bepaal dat jou produk net herstel sal word en nie vervang sal word nie. Die een kan nooit die ander uitsluit nie en niemand mag verwag dat jy ’n ooreenkoms teken dat jy jou versweë waarborg opgee ter wille van die vervaardiger se waarborg nie.

Jou regte as jy iets teruggee

Volgens artikel 56 moet die verkoper die onkoste betaal om iets waarmee daar fout is, terug te kry. Jy moet egter verduidelik waarom die produk van swak gehalte is en jy moet bewys dat jy dit in die laaste ses maande gekoop het. As jy iets teruggee wat van swak gehalte is, hoef jy nie ʼn kwitansie te wys nie, maar jy moet tog bewys wanneer en waar jy dit gekoop het en hoeveel jy betaal het.

Jy moet die verskaffer genoeg tyd gee om te bepaal of daar fout is en verskaffers moet binne ’n billike tyd vir jou terugvoering gee.

Hier is geen versweë waarborg nie

  • Produkte en dienste wat jy op krediet koop, is nie onderworpe aan die versweë waarborg nie, maar hierdie produkte moet steeds van goeie gehalte wees. Jy kan produkte wat op krediet gekoop is, net teruggee ingevolge die kredietooreenkoms. Jy kan eis dat die produkte herstel word, maar jy kan nie ʼn omruiling of terugbetaling eis indien dit nie in die kredietooreenkoms staan nie.
  • Geskenke is ook nie onderworpe aan die versweë waarborg nie, maar die persoon wat vir die produk betaal het, kan dit teruggee vir ʼn terugbetaling, vervanging of herstelwerk.
  • Produkte en goedere wat jy op ʼn veiling koop, word nie deur artikel 56 gedek nie.

Onthou: ʼn Versweë waarborg is ʼn “Implied warranty of quality” in Engels.

Kla hier:

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor versweë waarborge wat nie nagekom word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

A3 ·

Ek sal graag wil weet: XYZ waarborg hulle motor batterye vir 24 maande. Die twaalfde maand vervang hulle die battery onder waarborg met ‘n soortgelyke (dieselfde maak) battery. Dra die nuwe battery ook weer 24 maande waarborg, indien nie, hoekom nie?

frikkie ·

Nee, die battery dra nie ook n 24 maande waarborg nie. Dit werk in alle gevalle so.
Die oorspronklike produk (battery) is die item waarop die waarborg is, as hy in maand 23 ingee, sal hy vervang word, met n nuwe een, en die waarborg sal steeds verval na 1 maand.
Met jou oorspronklike aankoop, is daar basies verduidelik dat die produk gewaarborg is vir 2 jaar, al vervang jy elke maand die produk agv n fout, sal dit steeds net vir 2jaar gedlig wees.
Dink dis redelik logies, anders sal geen besigheid bestaan het nie, alles sou dan teoreties n lewenslange waarborg kon he. Ek verstaan nie hoe mense kan probeer slim wees om rondom hierdie tipe transaksies te probeer kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.