Verbruikersake: Eerlikheid en versekering

lewensversekering-rawpixelcom

Foto: Rawpixel/Pexels.com

Verbruikers se oë het onlangs gerek toe hulle hoor dat iemand se lewensversekeringseis afgewys is omdat hy nie bekend gemaak het dat sy bloedsuiker hoog was toe hy die polis uitgeneem het nie. Eerlikheid is van kardinale belang wanneer jy versekering uitneem en verbruikers moet dit nooit vergeet nie. Ina Opperman verduidelik waarom dit so belangrik is om eerlik te wees wanneer jy aansoek doen vir versekering.

Almal moet tans hul sente omdraai in taai ekonomiese omstandighede, en aangesien versekering duur is en mens soms wonder hoekom jy dít ook nog moet betaal, is dit belangrik om nie te probeer om jou premies te sny deur nie die hele waarheid te vertel nie.

Ja, die man se lewenspolis is toe na ’n groot herrie in die openbaar wel betaal, aangesien hy dood is in ’n rooftog, maar as hy dood is weens ’n diabetiese koma, sou die saak heel anders verloop het.

Wees eerlik

Die punt is jy moet absoluut alles vertel wanneer jy aansoek doen om versekering, of dit nou lewensversekering is of versekering op jou huisinhoud of motor. Jy moet nie net eerlik wees nie, jy moet alles bekend maak.

As jy vir ’n paar weke hoë bloeddruk gehad het, dui dit aan op jou aansoek, al het dit weer gestabiliseer sonder medikasie. As jou seun dikwels saans uitgaan en laat inkom met jou motor, moet hy gelys wees as bestuurder en jy moet die waarheid vertel oor hoe oud hy is en dat hy jou motor gebruik.

Dr. Maritha van der Walt, sameroeper van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (ASISA) se staande komitee vir mediese onderskrywers, het onlangs gewaarsku dat dit baie kortsigtig is om nie alles te vertel wanneer jy aansoek doen om lewensversekering nie, omdat dit jou gesin sonder dekking kan laat wanneer jy iets oorkom.

Dieselfde geld vir jou huisinhoud en motorversekering. As jou seun nie gelys is as ’n gereelde bestuurder nie en in ’n ongeluk beland, kan die versekering weier om uit te betaal as die maatskappy kan bewys jou seun het jou motor meer as agt keer per maand gebruik. As jy aangedui het jou huis het ’n alarm gekoppel aan ’n sekuriteitsmaatskappy terwyl dit nie die geval is nie, sal jou eis na ’n inbraak ook nie uitbetaal word nie.

Die risiko van stilbly

Volgens dr. Van der Walt kan ’n versekeraar weier om jou eis uit te betaal en jou polis opskort as dit blyk dat jy oneerlik was of nagelaat het om belangrike inligting te deel met jou versekeraar. ’n Besluit om ’n eis af te wys of ’n polis op te skort word egter nie ligtelik opgeneem nie en eise word objektief en billik oorweeg. Sy sê jy kan beslis probleme vermy wanneer jy of jou gesin ’n eis indien as jy al die inligting bekend maak wanneer jy ’n polis uitneem.

Dit word algemeen aanvaar dat die persoon wat vir lewensversekering aansoek doen, meer van die risiko weet as die versekeraar. Daarom verplig die wet jou om eerlik te wees oor enige inligting wat ’n invloed kan hê op die versekeraar se oordeel wanneer hy besluit oor gepaste voorwaardes en premies. Inligting is gewoonlik jou mediese geskiedenis (soos hoë bloeddruk), jou gesondheid (soos diabetes), familiegeskiedenis (soos ouers wat aan kanker dood is) en lewenstyl (soos rook).

Hierdie inligting stel die versekeraar in staat om die risiko te bepaal en jou premies en voorwaardes uit te werk sodat jy ’n billike premie betaal sonder om iemand wat minder gesond lewe, te subsidieer. As jou aansoek dus geweier word, laat jou gesin liewer van die begin af planne maak vir wanneer iets met jou gebeur as wat hulle staatmaak op ’n polis wat op die ou end nie uitbetaal word nie.

As jy wonder, vertel liewer

Van der Walt se raad is om liewer inligting bekend te maak as jy nie weet of dit belangrik is nie, sodat die versekeraar kan besluit of dit belangrik is. Indien nodig, sal die versekeraar vra dat jy vir mediese ondersoeke gaan. As jy byvoorbeeld aandui dat jy borspyne kry, kan die versekeraar vra dat jy ondersoek word om te kyk hoe groot die risiko is dat jy ’n hartaanval sal kry.

As jou aansoek geweier word

Indien jy die waarheid vertel en jou aansoek om lewensversekering word geweier, kan jy steeds ’n polis uitneem wat jou lewe dek in geval jy in ’n ongeluk sterf.

Wenke

Hou gerus die volgende wenke van Van der Walt in gedagte wanneer jy aansoek doen om lewensdekking:

  • Vul self die vorms in oor jou mediese- en lewenstylgeskiedenis.
  • Verskaf besonderhede oor jou gesondheid en mediese geskiedenis sowel as dié van jou broers en susters en ouers, aangesien sommige risiko’s, soos cholesterol, oorerflik is.
  • Wees eerlik oor mediese toestande in jou verlede, soos kanker, wat weer kan voorkom.
  • Wees ook eerlik oor hoeveel jy drink en rook. As jy begin rook, stel jou versekeraar in kennis, maar ook as jy ophou.
  • Dui aan as jy gevaarlike dinge in jou vrye tyd doen, soos rotsklim en diepseeduik, of begin om dit te doen.
  • Dui ook aan as jy gevaarlike werk doen, soos om met wapens te werk of te vlieg.
  • Kry kwotasies van verskillende maatskappye, maar maak seker jy vergelyk nie net die premies nie, maar ook die voordele.
  • Maak seker jy weet presies wanneer die polis sal uitbetaal en wanneer nie.

Onthou ook die Ombudsman vir Korttermynversekering se wenke as jy aansoek doen om versekering op jou huisinhoud of motor:

  • Wees eerlik oor die risiko wat jy verseker sodat die versekeraar die regte premie kan uitwerk vir jou dekking.
  • Dui jou eisegeskiedenis korrek aan, soos vorige motorongelukke of inbrake.
  • Hou jou versekeraar op datum van veranderings, soos as jy trek of as die gereelde bestuurder op jou motor verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

KLEINTJIE ·

Vertel hulle ook dat as jy nies dat jou oë dan toe is anders sê hulle jy het nie gekyk waar jy ry nie of datjy6 skilfers het wat jou kop laat jik wt jy dan krap dan was albei jou hande weer nie op die voertuig se stuur nie.

Judge Dredd ·

En as jy diabetes opdoen na jy lewensversekering gekry het?

Geweeg en te lig bevind ·

Hierdie swaard sny twee kante toe. Versekeraars moet eerlik wees en ophou om redelike eise teen te staan om te sien of die eiser ‘n herrie opskop. Dit gebeur, al is mens eerlik en is baie frustrerend juis omdat mens voel jou eerlikheid word verloën. Dit is ook die rede waarom mense dan skepties raak en eerder inligting weerhou. Soos met Momentum is dit bewys dat hulle talle kliente so ingedoen het en self erken het dat hulle nou terugwerkend ander eise ook moes uitbetaal. Hopelik het mense ook nou geleer om eerder sosiale media te gebruik om hierdie onredelikheid uit te roep vir wat dit is, in stede van die versekeraars se sogenaamde dispuut proses te probeer volg. Hopelik het versekeraars geleer om ook redelik en eerlik te wees, en self tussentydse verslae aan te vra, in stede van te wag tot ‘n eis ingedien word.

JohanL ·

Judge Dredd – baie geldige vraag. Teoreties behoort dit geen invloed op jou polis te h^e nie. Jy hoef nie eers jou versekeraar in kennis te stel nie (hoe ek dit verstaan). Dit sal wel ‘n invloed h^e op enige nuwe aansoek.

Maar om die punt verder te “rek”. Ek het nog “nooit” enige bloeddrukprobleme ervaar nie. As ek siek was, meet dokters meeste van die tyd bloeddruk en ek was in sulke omstandighede nog altyd binne perke – en ek bedoel letterlik altyd.

Een jaar toe ek vir roetine EKG gaan, toe meet die suster my bloeddruk en dis “bietjie hoog”. Eerste keer ooit. Suster reken ek moet twee weke later weer terugkeer vir opvolgmeting. Bespreek met dokter – hy lag en s^e: “Nee wat, jy was nog altyd binne perke. Die stres voor die tyd van EKG gee maar partykeer ‘n verhoogde lesing.” Hy neem toe weer ‘n lesing en inderdaad – niks fout nie – alles binne perke. Nou wat moet ek nou vir versekeraar antwoord as hy wil weet of ek al ooit verhoogde bloeddruk gehad het???

Tong in die kies – meeste van ons se bloeddruk het al willens of wetens gestyg soos sommige mense op die paaie bestuur :)

Gys ·

Ek het dadelik geglimlag toe ek in die artikel van “gevaarlike” sporte soos scuba duik (diepseeduik klink belaglik, alhoewel ek baie pro Afrikaans is) lees. Ek ry elke dag met my motorfiets werk toe, wat eintlik n dodelike aksie is, maar die makelaar wat vir my n kwotasie wou gee, knip nie n oog nie. Maar o wee, toe ek noem ek doen skydiving en scuba diving, toe raak die laaitie amper flou. Slegs mense wat nie self daai sporte doen nie, dink dis gevaarlik. M.a.w mense wat naweke in die tuin werk, TV kyk, braai en in die mall ronddwaal.

Piet Pompies ·

Enige versekering wat aangebied word se betaling word bereken op grond van die risiko van die versekerde, of dit nou huis inhoud, voertuig of lewensversekering is, mense se risiko’s verskil.
Voertuig versekering behoort verpligtend te wees aangesien ‘n kleiner hoeveelheid verbruikers die groter las dra van onversekerde bestuurders.
Ons betaal al van die dag wat ek my eerste salaris ontvang het aan versekering, persoonlik en later vir voertuig. Al ons voertuig eise het ontstaan uit haelskade, windskerm skade en loslopende diere, huis inhoud agv inbrake en krak onderbrekings.
Die een voertuig wat ons nuut gekoop het in 2004 en nou nog besit se premies wat aan hom betaal is, is meer as die boekwaarde van die voertuig.
Versekeraars probeer ook geld spaar met eise, wees ‘n ingeligte verbruiker en maak aanspraak op jou regte.

gerrit ·

Die enigste korttermynversekering wat ek het, is op my huis en sy inhoud.
Nee, geen een van my voertuie of motorfietse is verseker nie. Ek is bereid om die risiko te vat, baie dankie.
En aangesien ek geen finansiële afhanklikes het nie, het ek ook geen lewensversekering nie.

Paul ·

In terme van Fias wetgewing moet jy van ‘n makelaar of dan ‘n tussenganger gebruik maak, as jy gegrief is gryp die makelaar aan sy das, eis jou pond vleis.

Paul ·

En ‘n mens wat 40 jaar in die versekeringsbedryf gewerk het se aanvanklike kommentare word ignoreer.

Eddie ·

Die problem met die versekerings/beleggings industrie is baie swak kommunikasie aan die kliënt en die tussenganger sorg dat die kliënt oningelig en onnosel bly, sodat dié dan jou portefeulje lekker kan plunder of ” zumafiseer ” !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.