Verbruikersake: Gimnasiumpyne

Foto: Danielle Cerullo/Unsplash

Verbruikers wat hul Nuwejaarsvoornemens nagekom en in Januarie by die gimnasium aangesluit het om van 2019 se rolletjies om die middellyf ontslae te raak, is nog hard aan die oefen, maar dit beteken nie hulle het nog nie agtergekom dat daar ander pyne aan ’n gimnasium is as stywe spiere nie. Dis veral kontrakte wat nie gekanselleer kan word nie, of oorhaastige aansluitings wat mense in reaksie op direkte bemarking maak, wat verbruikers warm onder die kraag het. Ina Opperman het gaan kyk hoe hulle beskerm word deur die Wet op Verbruikersbeskerming.

Vastetermynkontrakte

Gimnasiumkontrakte val gewoonlik onder artikel 14 van die Wet, wat handel oor die verstryking en hernuwing van vastetermynooreenkomste, aangesien jy ’n kontrak teken vir ’n vasgestelde tydperk. Volgens die regulasies wat kragtens die Wet gemaak is, mag die ooreenkoms nie langer as 24 maande wees nie, tensy die gimnasium kan bewys dat jy finansieel sal voordeel trek uit ’n langer kontrak.

Kansellasies

Artikel 14 bepaal ook dat jy, ten spyte van enige bepaling in die verbruikersooreenkoms wat dit anders aandui, die ooreenkoms enige ander tyd kan kanselleer, deur die verskaffer 20 werksdae skriftelik kennis te gee.

Jy bly egter aanspreeklik vir die uitstaande bedrag tot op die datum wat jy kanselleer en die gimnasium kan van jou verwag om ’n redelike kansellasieboete te betaal. Dié bedrag sal verskil na gelang van die aantal maande wat oor is van jou kontrak.

Koel bietjie af

As jy een van die verbruikers is wat maar ja gesê het toe iemand jou gebel het om die gimnasiumkontrak aan jou te verkoop, is daar goeie nuus as jy liewer nie wil gaan sweet nie. As dan wil kanselleer, het jy regte soos bepaal in artikel 16 van die Wet, wat handel oor verbruikers se reg op ’n afkoeltydperk ná direkte bemarking.

In hierdie geval kan jy die kontrak sonder koste skriftelik kanselleer binne vyf werksdae. Die gimnasium moet dan al jou geld, wat al betaal is, terugbetaal binne 15 werksdae en nie enige verdere bedrae van jou bankrekening verhaal nie.

Wanneer jou kontrak verstryk

Volgens artikel 14 kan jy ’n vastetermynkontrak sonder enige onkoste kanselleer wanneer dit verstryk. Die gimnasium moet jou binne 80 tot 40 werksdae voordat jou kontrak verstryk, skriftelik kennis gee dat jou kontrak gaan verval.

Die kennisgewing moet ook aandui of die kontrak wesenlik dieselfde gaan bly indien jy die kontrak hernu en of jy volgens die nuwe kontrak dieselfde opsies sal hê. As jy nie laat weet of jy die kontrak wil kanselleer of hernu wanneer dit verval nie, kan die gimnasium jou kontrak op ’n maand-tot-maand grondslag verleng.

Wanneer jy nie betaal nie

Die gimnasium kan die ooreenkoms kanselleer binne 20 werksdae nadat jy skriftelik in kennis gestel is dat jy nie die ooreenkoms nagekom het nie deur nie te betaal nie, tensy jy die wanbetaling reggestel het.

Geen verwysings

Gimnasiums vra verbruikers wat nie wil aansluit nie, om besonderhede te gee van iemand wat hulle ken sodat die gimnasium hulle kan kontak om ’n lidmaatskap te verkoop. Artikel 38 van die Wet bepaal egter dat niemand goedere of dienste mag verkoop deur iemand te betaal of enige ander voordeel te gee vir die verwysing nie.

Kan iemand wat minderjarig is aansluit?

Jou tiener kan nie ’n gimnasiumkontrak teken sonder om jou as ouer te raadpleeg nie. Artikel 39 bepaal enige ooreenkoms wat aangegaan word met iemand wat minderjarig is, is nietig. Jou tiener is minderjarig en mag dus nie self ’n kontrak sonder jou toestemming teken nie.

Onredelike voorwaardes

Volgens artikel 48 van die Wet mag ’n gimnasium nie van jou verwag om ’n kontrak met onredelike voorwaardes te teken nie, soos dat jy jou regte ingevolge die Wet prysgee nie.

Kla hier

Kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantoor vir Verbruikersake oor gimnasiums wat die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming verontagsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Michael

Uitstekend, dankie vir die inligting.