Verbruikersake: Help! Daar is ’n skuldinvorderaar by my hek

(Foto: Maroela Media)

Jy het nooit gedink jy sal bekommerd moet wees oor skuldinvorderaars wat op jou spoor is nie, maar ons het die afgelope twee jaar gesien niks is meer onmoontlik nie. Almal trek finansieel swaar en sukkel om hul skuld te vereffen. Maar nou, met die skuldinvorderaar wat by jou hek wag, besef jy skielik dat jy nie weet wat jou regte is en wat die invorderaar mag doen nie. Wat doen jy nou? Ina Opperman het gaan kyk.

Dit is uiteraard beter om jou skuld gereeld en op datum te betaal en, as jy nie kan nie, met almal wat jy geld skuld in verbinding te tree en te vra dat hulle jou help om ʼn plan te maak om jou skuld dalk oor ʼn langer tydperk af te betaal.

Skuldinvordering word gereguleer deur die Wet op Skuldinvordering en dit bepaal dat prokureurs of hul agente en geregistreerde skuldinvorderaars skuld mag invorder namens ʼn kredietverskaffer.

Hulle mag die bedrag wat jy skuld, saam met rente (soos deur wet voorgeskryf) en administrasie- en invorderingsfooie, invorder. Eiendomsbestuurders kan ook skuldinvorderaars wees wanneer hulle agterstallige huur invorder.

Vereistes vir skuldinvorderaars

Skuldinvorderaars moet geregistreer wees en mag ʼn fooi daarvoor hef. Skuldinvorderaars moet geregistreer wees by die Raad vir Skuldinvorderaars, wat die gedrag van skuldinvorderaars monitor om te verseker dat hul optrede voldoen aan die raad se gedragskode.

Jy kan by die raad aanklop om seker te maak ʼn skuldinvorderaar is wel geregistreer, aangesien dit ʼn kriminele oortreding is om skuld in te vorder sonder om geregistreer te wees.

Skuldinvorderaars mag dit doen

Skuldinvorderaars mag skuld invorder deur middel van pos, telefoonoproepe of in persoon. Hulle mag dokumente by jou aflewer en kan ook vra dat jy ʼn skulderkenning teken. Jy kan vra vir bewys van registrasie by die raad.

Wat mag skuldinvorderaars nie doen nie?

Volgens die raad se gedragskode mag skuldinvorderaars nie:

  • Meer geld invorder as wat jy skuld nie, behalwe rente en die toegelate fooie.
  • Wanvoorstellings maak oor die aard van wat hulle doen of dreig om siviele of kriminele regstappe te doen as dit nie die geval is nie. Hulle mag byvoorbeeld nie voorgee om jou watermeter te kom lees om jou so in die hande te kry nie.
  • Kommunikasie gebruik wat lyk soos regsprosesse nie (dit sluit in briewe wat lyk soos ʼn dagvaarding).
  • Dreig om geweld te gebruik teen jou of jou gesin of eiendom nie.
  • Vieslike, lasterlike of dreigende taal gebruik nie.
  • Aanhou om met jou te kommunikeer as jy hulle na jou regsverteenwoordiger verwys het nie.
  • Jou verbaal of op skrif mishandel of intimideer om jou skuld te betaal nie.
  • Jou besoek of voor jou huis of werkplek parkeer in ʼn motor wat duidelik aandui dat dit aan ʼn skuldinvorderaar behoort en jou so in die verleentheid stel nie.
  • Vervalste regsdokumente op jou beteken nie.
  • Fooie hef wat meer is as wat die raad voorskryf nie.
  • Valse inligting oor jou kredietwaardigheid versprei of dreig om dit te doen nie.

Jou regte as verbruiker

Jy het die volgende regte wanneer jy deur ʼn skuldinvorderaar genader word:

  • Jy mag regsadvies kry voordat jy enigiets teken.
  • Jou waardigheid moet te alle tye gerespekteer word.
  • Die hele saak moet vertroulik hanteer word. As hulle jou bel en jou eggenoot antwoord, mag hulle nie aandui waarom hulle met jou wil praat nie.
  • Jy mag nie tussen 21:00 en 06:00 en op Sondae gekontak word nie.
  • Jy mag nie geteister, verneder of gedreig word nie.
  • Jy moet elke ses maande ʼn gratis rekeningstaat kry.

Kla hier oor skuldinvorderaars

Jy kan oor skuldinvorderaars kla by die Raad vir Skuldinvorderaars. Alle klagtes moet onder eed gedoen word en moet op skrif wees.

Jy kan ook skuldinvorderaars, wat ongeskik is of jou teister, verkla by die raad. Die raad kan ondersoek instel na maatskappye wat skuldinvordering doen en groot boetes hef indien die raad bevind dat ʼn skuldinvorderaar nie by die gedragskode gehou het nie.

Indien jy nie gelukkig is met die bedrag wat ingevorder word nie, kan jy vra vir die inligting op skrif en die bedrag betwis.

Besoek die raad se webwerf hier: www.cfdc.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.