Verbruikersake: Hier kom Swart Vrydag – vir ’n hele maand lank

‘n Skermskoot uit ‘n video van ‘n skare wat ‘n winkel se deur breek in hul gretigheid om in te kom op Swart Vrydag 2017. (Argieffoto.)

Swart Vrydag gaan vanjaar heeltemal anders lyk as vorige jare, toe verbruikers mekaar sommer met die vuis bygedam het oor toiletpapier wat teen goeie pryse verkoop is. Hierdie keer beplan winkels om die spesiale Swart Vrydag-aanbiedings oor ’n maand of ’n paar dae te versprei sodat die winkels nie so vol is nie en die maatreëls om die verspreiding van Covid-19 te beperk, nagekom kan word. Na verwagting sal baie verbruikers hul inkopies aanlyn doen om die skares in die winkelsentrums te vermy. Maar maak nie saak hoe jy jou inkopies gaan doen nie, lees eers wat Ina Opperman sê oor hoe jy moet voorberei op jou inkopietog.

Sommige winkels se spesiale aanbiedings begin al Maandag, maar ons regte en virtuele posbusse is al vol van aanbiedings wat jou uitnooi om te koop en nogmaals te koop. Vanjaar behoort verbruikers nie weer buite die winkels te slaap om die volgende oggend voor in die ry te wees wanneer die deure oopmaak nie.

Swart Vrydag het oorgewaai na Suid-Afrika van die VSA, waar dit op die laaste Vrydag van November gehou word om mense se kooplus aan te wakker voor die Kersinkopieseisoen begin. Verbruikers het nou al ’n paar Swart Vrydae beleef en maak is al gereed om hulle oor te gee aan uitbundige inkopies asof 2020 met sy afleggings, gesnyde salarisse en ekonomiese swaarkry nooit gebeur het nie. En dan wag Kersfees en Januarie met sy 100 dae nog.

Dit is waar dat mens lekker winskopies op Swart Vrydag kan kry, maar dit is belangrik om te onthou dat dit op die ou end net ’n bemarkingsveldtog is wat ontwerp is om jou impulsief te laat koop met geld wat jy nie het nie of wat jy eintlik vir dinge soos skoolgeld en ander noodsaaklikhede moes gebruik. Winkels hou dit nie om jou tegemoet te kom nie.

Daarom is dit is ’n goeie idee om vooraf te beplan wat jy wil koop en seker te maak jy kan dit wat jy koop, wel bekostig.

Begroot vir Swart Vrydag

Stel ’n begroting op vir Swart Vrydag sodat jy weet hoeveel geld jy kan bestee sonder om ander verpligtinge af te skeep. Moenie jou Desemberbonus vooraf bestee deur op krediet te koop nie, want die rente op die krediet gaan die bedrag wat jy spaar, uitkanselleer. Sou jy nie die versoeking weerstaan nie, maak dan seker dat jy jou bonus direk in jou kredietkaart betaal.

Maak ’n lysie

Nadat jy uitgewerk het hoeveel jy kan bestee, maak ’n lysie van wat jy nodig het, soos nuwe gordyne of linne vir jou slaapkamer of klere en Kersgeskenke vir jou kinders.  Kyk wat die goed op jou lysie nou kos en vergelyk dit dan met die Swart Vrydag-pryse om te sien of jy werklik spaar.

Moenie op krediet koop nie

Krediet is duur en daarom is dit is beter om nie op Swart Vrydag op krediet te koop nie. As jy op krediet koop, sal die koste van die krediet die besparings uitkanselleer. Onthou dit is ook makliker om impulsief te koop as jy nie kontant betaal nie.

Wenke vir Swart Vrydag

  • Stel ’n begroting op wat jy kan bekostig en hou daarby;
  • Maak ’n lysie van wat jy wil koop en kyk wat die normale pryse is;
  • Moenie geld bestee wat jy nie het nie;
  • Moenie op krediet koop nie, want die koste van krediet kanselleer die besparing uit;
  • Moenie impulsief koop nie;
  • Maak ’n lysie van wat jy wil koop en hou daarby;
  • Onthou jy het nog geld nodig vir Kersfees en 2021; en
  • Vergelyk pryse voordat jy koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Al daai ou stock wat so stof vergaar het die afgelope 8 swart maande kan ons nou gaan opraap en die winkels uithelp uit hul verknorsing en dit oorplaas op ons eie skouers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.