Verbruikersake: Hierdie selfoonregulasies beskerm jou

slimfoon-slimfone

(Foto: Pixabay/Pexels)

Verbruikers weet dikwels nie waarheen om te gaan met hul selfoonklagtes nie wanneer hulle dae en selfs weke lank probeer om hul klagtes op te los. Wanneer ʼn mens kyk na hoeveel miljoene selfone in omloop is, is dit logies dat daar klagtes gaan wees, maar dan moet jy ten minste jou klagtes kan oplos sonder dat dit jou teen die mure uitdryf. Ina Opperman verduidelik hoe die eindgebruiker- en intekenaarregulasies wat deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okasa) ingestel is, jou beskerm en waar en hoe om te kla.

Selfoondienste val onder die gesag van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okasa), wat in Julie 2015 ʼn werksooreenkoms met die Nasionale Verbruikerskommissie gesluit het om telekommunikasie‑ en uitsaaiklagtes op te los.

Okasa het ingevolge die Wet op Elektroniese Kommunikasie regulasies opgestel om:

  • die minimumstandaarde vir elektroniese kommunikasiedienste wat aan jou as eindgebruiker gelewer word, voor te skryf;
  • te verseker dat die gehalte van die diens voldoen aan die voorgeskrewe parameters; en
  • jou regte te beskerm deur te verseker jy het genoeg inligting om ʼn ingeligte keuse te maak, dat klagtes spoedig en doeltreffend opgelos word en dat eindgebruikers vergoed word waar nodig.

Jou reg tot inligting

Wanneer jy ʼn selfoonkontrak sluit, moet die verkoopsagent jou inlig oor:

  • kontrakbepalings en ‑voorwaardes
  • deposito
  • aansluiting- en administratiewe gelde
  • versekering
  • buite- en binnebondeltariewe
  • prys van die selfoon
  • moontlikheid van tariefveranderings gedurende die kontraktermyn
  • reëls indien jy die kontrak wil beëindig voordat dit verstryk
  • reëls vir die oordrag van stem-minute en data
  • beleid vir billike gebruik
  • wanneer en die tydperk waarvoor fakture uitgereik word
  • hoe klagtes hanteer word.

Die diensverskaffer moet gereeld al sy takke besoek om te kyk dat personeel aan die regulasies voldoen en aan Okasa rapporteer hoe suksesvol dit is en wat gedoen word om seker te maak almal voldoen daaraan.

Diensverskaffers moet ʼn weergawe van die regulasies ontwikkel in gewone taal en dit op sy webwerf en by al sy takke beskikbaar stel.

Ander belangrike regulasies

  • Diensverskaffers moet minstens sewe dae voordat ʼn promosie begin, die besonderhede daarvan by Okasa indien en later daaroor verslag doen. Jou diensverskaffer moet seker maak dat jy alle inligting oor die promosie kry op ʼn manier wat jy verstaan, in gewone taal wat die bepalings en voorwaardes van die promosie, hoe lank dit duur, jou plig wanneer die promosie verval en alle gelde wat gehef word, insluit.
  • Jy kan vra vir ʼn gedetailleerde rekening wat wys presies waarvoor jy betaal. Diensverskaffers moet ook ʼn stelsel hê wat dit vir jou moontlik maak om jou rekening op sy stelsel op te soek en die koste hiervan moet ooreenstem met die platform wat jy gebruik. Indien jy voorafbetaalde dienste gebruik, moet die diensverskaffer ook ʼn verslag aan jou kan verskaf wat aandui waarvoor jy betaal het en hoe jy dit gebruik het.
  • Jy kan jou geld terug eis as die diensverskaffer se dienste nie beskikbaar was nie ingevolge regulasie 9, maar net vir die dae wat die diens nie beskikbaar was nie.
  • Diensverskaffers moet hul dienste aanhoudend monitor en jou sewe dae vooruit kennis gee as die diens vir opgraderings opgeskort gaan word.
  • Jou diensverskaffer moet ook ʼn stelsel hê om klagtes op te los en jou laat weet wanneer jou klagte ontvang is.
  • Wanneer jy kla oor jou rekening, mag jou diens nie opgeskort word terwyl jou klagte ondersoek word nie en regstappe mag nie gedoen word om die geld in te vorder nie.
  • Oproepe na die klagtelyn moet gratis wees en oproepe moet binne drie minute beantwoord word.

Waar om te kla

Aangesien selfoondienste onder die gesag van Okasa val, moet Okasa klagtes hanteer. Okasa het in Julie 2015 ʼn werksooreenkoms met die Nasionale Verbruikerskommissie gesluit om telekommunikasie‑ en uitsaaiklagtes op te los.

Volgens Okasa moet verbruikers eers by hul diensverskaffers kla voordat hulle by Okasa kan kla. Indien die klagte nie opgelos word nie, moet die verbruiker eis dat die klagte deur die hoof van die klagtesentrum hanteer word. As die klagte steeds nie opgelos word nie, moet dit na die betrokke bestuurder verwys word, dan na dié bestuurder se hoof en dan na sy hoof, totdat al die vlakke van senioriteit uitgeput is. Eers dan kan verbruikers by Okasa kla.

Verbruikers moet in hul klagtes aan Okasa die verwysingsnommer wat hulle by die diensverskaffers gekry het, of die name van die mense wat hul klagtes probeer oplos het, aandui, saam met die datums wanneer hulle met die verskillende bestuurders in aanraking was het.

Klagtes by Okasa kan per pos, faks, e-pos of telefonies aangemeld word. Verbruikers kan ook persoonlik ʼn Okasa-kantoor besoek om ʼn klagte op skrif in te dien. Verbruikers kry ʼn erkenning van die ontvangs van hul klagtes binne twee dae, wat ʼn verwysingsnommer en die naam van die beampte wat die klagte hanteer, insluit, sodat verbruikers maklik kan nagaan wat met hul klagtes gebeur.

Bel Okasa by 011 566 3000 om te kla of stuur e-pos aan [email protected]. Besoek hul kantore in Sandton (Blok A, B, C en D, Pinmill Farm, Katherinestraat 164), Durban (13de vloer, Weststraat 303, Delta Towers), Port Elizabeth (1ste verdieping, Fairview Office Park, Ringpad 66, Green Acres), Bloemfontein (hoek van Koller- en Lombardstraat, Hilton) en Kaapstad (Grondvloer, Knowledge Park III, Heronlaan, Century City).

Die ombudsman vir verbruikersgoedere en dienste hanteer ook klagtes oor selfoonrekeninge.

Die telefoonnommer is 0860 000 272 of stuur ʼn e-pos aan [email protected] of ʼn faks na 086 206 1999. Aanlyn klagtes kan ingedien word op die webtuiste by www.cgso.org.za. Verbruikers moet ook eers by die selfoondiensverskaffer kla voordat hulle by die ombudsman om hulp kan aanklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.