Verbruikersake: Hoe om jou klere om te ruil in die inperking

(Foto; Alexandra Gorn/Unsplash)

Noudat jy uiteindelik winterklere kan koop, vind jy dat die klere wat jy gekies het, maar nie kon aanpas nie, nie so mooi pas nie. Maar die winkel sê jy kan dit nie omruil nie weens vrese dat dit met Covid-19 besmet is. Dus: jy kan koop, maar jy mag in sommige gevalle dit nie aanpas nie en ook nie omruil nie. Wat nou? Ina Opperman het gaan hoor wat die ombudsman vir verbruikersgoedere en -dienste en wetgewing daaroor bepaal.

Die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste het verskeie klagtes ontvang van verbruikers wat kla dat hulle nie klere kan teruggee of omruil gedurende vlak 4 van die grendelstaat nie. Hulle hoor dikwels eers van hierdie reël wanneer hulle terugkeer na die winkel. Sommige klerewinkels laat mense ook nie toe om klere aan te pas nie om besmetting met Covid-19 te keer.

Volgens Magauta Mphahlele, die ombudsman, moet winkels se beleid om goedere terug te neem, vergelyk word met werklike kommer oor die verspreiding van die virus en maatreëls om dit hok te slaan.

“Ons verstaan waarom verskaffers die aanpas en omruil van klere wil beperk, maar daar moet ’n balans wees tussen die maatreëls wat nodig is om die verspreiding van die virus te verminder, en voldoening aan die Wet op Verbruikersbeskerming.”

Die Wet maak dit moontlik vir verskaffers van goedere en dienste om hul eie beleid oor goedere, wat teruggegee of omgeruil word, te bepaal, solank as dit nie inbreuk maak op die verbruiker se regte om goedere te kies en te ondersoek (soos bepaal in artikel 18) en die reg om goedere terug te neem (soos bepaal in artikels 20 en 56) nie.

Mphahlele meen die pandemie en die staat van afsondering wat ingestel is om die verspreiding van die virus te verlangsaam, stel nuwe uitdagings waarvoor bestaande wetgewing nie voorsiening maak nie.

“Sonder duidelike regsriglyne moet ons die goue middeweg vind tussen die bestuur van die virus se verspreiding en verbruikers se regte.”

Artikel 20

Artikel 20 bepaal jou regte wanneer jy goedere wil teruggee en vul artikel 56 aan wat jou regte bepaal om goedere wat onveilig of foutief is, terug te gee, sowel as enige ander wetlike reg om goedere terug te gee en ’n terugbetaling te ontvang.

Jy kan goedere aan die verskaffer teruggee en ’n volle terugbetaling ontvang indien jy:

  • goedere gekoop het tydens direkte bemarking en jy dit binne die afkoeltydperk wil teruggee;
  • nie kans gehad het om die goedere na te gaan nie en dit nie aan jou behoeftes voldoen nie;
  • ’n klomp goedere gekry het en aflewering weier; of
  • goedere gekoop het vir ’n bepaalde doel en binne tien werksdae vasstel dat dit nie geskik is vir daardie doel nie.

Jy kan egter nie goedere teruggee as dit deur ’n openbare regulasie verbied word om openbare gesondheidsredes nie, of indien dit klaar uitmekaar gehaal of verander is nie.

Wanneer jy goedere teruggee wat tydens direkte bemarking gekoop is, dra jy die onkoste en risiko, maar in die res van die gevalle dra die verskaffer die risiko en koste en moet dit binne tien werksdae ná aflewering geskied. Die verskaffer moet dan jou geld terugbetaal.

Indien die goedere nog in die oorspronklike, onoopgemaakte verpakking is, moet jy die hele bedrag terugkry. Indien dit in die oorspronklike toestand en in die oorspronklike verpakking herverpak is, kan die verskaffer jou ’n redelike bedrag vra vir die gebruik daarvan gedurende die tyd wat dit in jou besit was.

Gewoonlik kan jy kies om die klere aan te pas en die winkel kan dus nie verantwoordelik gehou word as dit nie pas nie of as jy nie meer daarvan hou nie. Wanneer die winkel jou egter nie die geleentheid gee om dit aan te pas nie, kan daar ’n moontlike oortreding van die Wet wees, omdat jy volgens artikel 18 die reg het om te kies en goedere te ondersoek om te sien of dit geskik is. Dié ondersoek sluit aanpas in.

Wanneer jy die reg het om te kies en die klere aan te pas, kan die winkel sy eie beleid opstel oor wanneer jy dit kan teruggee of omruil. Tans werk dit so dat jy klere kan teruggee binne ’n sekere aantal dae as die prysetiket nog aangeheg is en jy die kwitansie het, terwyl ander winkels weer ’n beleid het wat glad nie voorsiening maak vir teruggee of omruil nie. Hierdie beleid val buite die bepalings van die Wet en die winkels besluit self daaroor.

Openbare regulasies

Regulasies kan jou verbied om klere aan te pas, terug te gee en om te ruil, soos artikel 20 bepaal. Mphahlele meen dat, terwyl daar kommer is oor die verspreiding van die virus, die risiko beperk kan word deur jou toe te laat om klere eers aan te pas of om te ruil binne streng beperkings om te verseker klere pas sodat jy nie nodig het om dit om te ruil nie.

“As jy nie toegelaat word om die klere aan te pas nie, is dit moeilik om te bepaal of ’n beleid dat niks teruggegee kan word, geregverdig kan word nie, selfs in die grendelstaat.”

As jy klere aanlyn koop

Met baie verbruikers wat deesdae liewer aanlyn koop, is dit belangrik om die bepalings van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies sowel as die Wet op Verbruikersbeskerming in gedagte te hou.

Die Wet op Verbruikersbeskerming vereis dat goedere wat gekoop word op grond van ’n monster of beskrywing, aan die beskrywing moet voldoen. Indien nie, kan jy dit teruggee en jou geld terugkry.

Artikel 44 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies laat jou toe om goedere terug te gee binne sewe dae nadat jy dit ontvang het.

Pas beleid aan by regulasies

Klagtes kan verminder word deur die beleid aan te pas volgens die regulasies wat vir elke fase uitgevaardig word. Mphahlele meen die Vraag-en-Antwoord-afdelings op webwerwe moet ook gereeld aangepas word. Sy sê ook dat die beleid duidelik in winkels aangebring moet word, saam met inligting om aan te dui hoe om die klere veilig te hanteer en watter stappe gedoen word om klere te ontsmet nadat dit teruggebring is.

Kla hier

Kla by die Ombudsman se kantoor by  0860 000 272 of besoek die webwerf by www.cgso.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sandra

Ek stem saam met die onderstaande. Die winkel het meer beheer in die aanpaskamers oor die goedere, as wat hulle het oor jy die klere huistoe vat en daar gaan aanpas. Die aanpashokkie kan na elke klant skoongemaak en gesanitiseer word. “Regulasies kan jou verbied om klere aan te pas, terug te gee en om te ruil, soos artikel 20 bepaal. Mphahlele meen dat, terwyl daar kommer is oor die verspreiding van die virus, die risiko beperk kan word deur jou toe te laat om klere eers aan te pas of om te ruil binne streng beperkings om te verseker… Lees meer »