Verbruikersake: Hou jou beursie vas op Swart Vrydag

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Vuisvoos verbruikers is platgeslaan deur die massiewe styging in die petrolprys, wat nog erger gaan raak wanneer alle produkte se pryse styg namate vervoerkoste styg. Nou het die repokoers ook nog met 25 basispunte gestyg. Verbruikers se inkomste het nie gestyg tydens die pandemie nie en hulle gebruik nou nog skuld om bestaande skuld te betaal en kop bo water te hou. Al wat ons nou nog nodig het vir ʼn perfekte storm is Swart Vrydag. Ina Opperman verduidelik waarom jy hierdie Swart Vrydag jou beursie moet dophou en hoe om dit te doen.

Volgens die kleinhandelaar Game se navorsing beplan 67,5% van deelnemers aan die opname dat hulle beplan om geld uit te gee op Swart Vrydag-winskopies, met 52% wat aangedui het hulle beplan om geld uit te gee op die Swart Vrydag-winskopies omdat hulle goedere kan koop wat hulle regtig nodig het en 20% wat net ʼn winskopie soek.

Deelnemers het aangedui dat hulle hul tande slyp vir winskopies op kruideniersware en belangrike goedere (77%), toestelle (63%) en elektroniese ware (62%), veral slim en LED-televisiestelle. ʼn Totaal van 42% van die deelnemers het gesê hulle beplan hul inkopies vooraf, terwyl 28% gaan kyk wat aangebied word voordat hulle hul beursies uithaal en 27% sal gaan inloer by hul gunsteling-winkels om te sien of daar winskopies is.

Swart Vrydag kom op ʼn slegte tyd vir verbruikers wat reeds verdrink in skuld. Die Covid-19-pandemie het steeds ʼn baie negatiewe invloed op verbruikers se inkomste. Verbruikers ly ook steeds onder die sielkundige uitwerking van Covid-19 wat hulle laat soek na iets om hulle op te beur. Koopterapie staan natuurlik eerste in die ry.

Spaar ʼn mens werklik geld op Swart Vrydag?

ʼn Mens spaar nie werklik geld op Swart Vrydag nie. Die meerderheid van die winskopies is bloot net sogenaamde bait-and-switch-geleenthede eerder as werklike winskopies, waar kleinhandelaars afslag gee op ʼn paar items om die indruk te skep dat alles teen die laagste moontlike pryse verkoop word, maar die feite wys iets heeltemal anders.

Die skuldlas van Suid-Afrikaanse verbruikers

Meer as die helfte van alle verbruikers in die land het die afgelope tyd agtergeraak met hul maandelikse betalings vir skuld volgens die Nasionale Kredietreguleerder, veral omdat hulle nie hul persoonlike lenings en krediet- of winkelkaartskuld betaal het nie. Winkels haal ook alles uit om jou om te praat om te koop en nogmaals te koop en nog skuld te maak daarvoor.

Hou hierdie wenke in gedagte op Swart Vrydag

Vra jouself die volgende vrae voordat jy Vrydag die winkels stormloop om te koop:

  • Kan ek dit bekostig? Trek ʼn begroting op vir jou aankope en hou daarby.
  • Het ek dit nodig? Het jy werklik daardie nuwe televisiestel nodig of koop jy dit omdat almal wat jy ken een het?
  • Gee ek geld uit wat ek nie het nie? Gebruik jy krediet om te koop of is dit geld wat jy spesifiek gespaar het vir jou inkopies?
  • Het ek pryse vergelyk voordat ek koop? Kyk wat kos die goedere wat jy wil koop nou en vergelyk dit met die prys op Swart Vrydag voordat jy koop. Dis nie altyd ʼn winskopie nie.
  • Kon ek hierdie geld gebruik het om skuld af te betaal?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Ek moet ‘n grassnyer koop want ek is moeg vir tuindienste wat ander mense se dorings op my grasperk kom gooi. Maar dis al. Ek gaan nie iets koop omdat ek WIL nie. Ek verpes skuld. Ek wil nie eens meer ‘n kar finansier nie.

AmY

Die winkels gaan my Vrydag nie sien nie.
Ná die repokoers en die elektisiteit op is, kan ek skaars kos koop.
Ons gaan seker binnekort ons woonplek verloor wat ons 15 jaar gelede gekoop het… : -(

Corne123

Ek weet vir n feit dat seker groot aanlyn winkels se aanbot eindlik hoor is dan paar dae daar na goedkooper adverteer nee wat dit nie vir my nie hou weg. enigste aanbot wat ek sal koop is petrol ????????

TASHA

Het nog nooit swart vrydag ondersteun nie

piet

Die beste tyd om winskope te koop (veral kruideniersware) is die paar weke na Kersfees.