Verbruikersake: Hou jou kredietrekord skoon al skiet lewenskoste op

Argieffoto.

Verbruikers se lewenskoste styg al hoe meer en ons wonder dikwels hoe lank ons nog kan uithou. Baie verbruikers maak ʼn plan en leen nog geld om van te lewe, maar dit moet ook terugbetaal word en indien jy nie jou betalings nakom nie, word dit op jou kredietrekord aangedui. Jou kanse om dan weer krediet en selfs ʼn nuwe werk te kry, word dan heelwat skraler. Ina Opperman het gaan kyk hoe jy jou kredietrekord kan skoon hou.

Noudat rentekoerse weer gestyg het met ʼn hele 75 basis punte en inflasie al hoe hoër neig en lewenskoste opstoot, moedig die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) verbruikers, wat reeds kredietooreenkomste geteken het, aan om te sorg dat hulle aanhou om hul krediet maandeliks af te betaal sodat hulle ʼn goeie kredietrekord kan hê.

Die NKR moedig ook verbruikers aan om gereeld hul kredietrekords na te gaan sodat hulle kan sien as daar foute of verkeerde inligting op verskyn of enige bedrieglike transaksies is. Jy kan dan vra dat die verkeerde inligting reggestel word of die bedrieglike transaksies aanmeld en keer dat jy betaal vir krediet wat jy nie gebruik het nie.

“As jy weet wat staan in jou kredietrekord, gee dit jou ook die geleentheid om jou kredietrekord te verbeter deur gereeld te betaal en minder skuld te maak, sê Poppy Kweyama, bestuurder van opvoeding en kommunikasie by die NKR.

Jou kredietinligting

Alle verbruikersinligting wat by kredietburo’s aangeteken word, moet akkuraat wees. Onakkurate kredietinligting kan jou kanse om krediet te kry in die wiele ry en selfs keer dat jy ʼn werk kry in ʼn maatskappy wat vereis dat jy eerlik is omdat jy met kontant of finansies werk.

“’n Swak kredietrekord kan jou dus baie negatief raak,” sê Kweyama.

Volgens die Nasionale Kredietwet het verbruikers die reg om gratis die akkuraatheid van die inligting wat kredietburo’s hou te bevraagteken. Wanneer ʼn verbruiker die akkuraatheid van inligting bevraagteken, moet kredietburo’s binne 20 dae billike stappe neem om bewyse te kry wat die inligting bevestig.

“Indien die kredietburo of die maatskappy wat die inskrywing aangestuur het nie in staat is om die inskrywing te staaf nie, moet die inligting wat in twyfel getrek word verwyder word van die verbruiker se profiel,” sê Kweyama.

Dit is ook belangrik om te weet dat die onakkurate inligting op jou profiel sal bly totdat dit reggestel is of totdat die retensieperiode verval. ʼn Retensieperiode hou verband met hoe lank die kredietburo jou inligting kan hou op jou kredietverslag.

As daar foute op jou kredietrekord is

Kweyama vra dat verbruikers nie tyd moet mors deur korrekte inligting te bevraagteken as hulle goed weet dat hulle betalings oorgeslaan het of te min betaal het nie.

Verbruikers is geregtig op een gratis kredietverslag per jaar in terme van die Nasionale Kredietwet. Kweyama sê die NKR sou graag wou sien dat meer verbruikers gebruik maak van die gratis geleentheid om hul kredietverslag na te gaan.

Volgens die NKR se kredietburomonitor het kredietburo’s in Desember verlede jaar die kredietrekords van 26,38 miljoen kredietgebruikers gehou. Net 648 280 kredietverslae is egter uitgereik en 35 919 verbruikers het dispute verklaar oor die akkuraatheid van die inligting op hul kredietprofiele, met meer dispute wat opgelos is tot voordeel van die klaers.

Wat kredietburo’s doen

Kweyama het ook weereens die algemene opvatting dat kredietburo’s besluit of jy krediet kry, die nek ingeslaan. Sy sê kredietburo’s is organisasies wat daarin spesialiseer om verbruikers se kredietprofiele saam te stel gegrond op inligting wat hulle kry van maatskappye wat goedere, dienste, water en elektrisiteit verskaf vir kontant of op krediet, ʼn staatsinstansie, hof, regsdienaar of iemand wat kort- of langtermynversekering verskaf.

Kredietburo’s hou waardevolle inligting oor verbruikers se onlangse en afbetaalde rekeninge, betalingsgeskiedenis, onbetaalde rekeninge, hofbevele vir skuld, opsporings, invorderings en navrae.

Dit is hoe lank die kredietburo’s jou inligting hou

Verbruikers vra ook dikwels hoe lank inligting op hul kredietrekord gehou word. Die Nasionale Kredietwet bepaal hierdie periodes soos volg:

 

KategorieBeskrywingTyd gehou
1.Details en resultate van klagtesAantal en aard van klagtes ingedien en of ʼn klagte afgewys is – geen inligting sal aangedui word oor klagtes wat geldig was nie.
Nota: WinCredit wys nie hierdie inligting nie.
6 maande
2.NavraeAantal navrae oor jou kredietrekord, insluitende die naam van die persoon of entiteit en die kontakinligting.1 jaar
3.BetalingsprofielFeitelike inligting oor jou betalingsprofiel.

Nota: WinCredit wys nie hierdie inligting nie.

5 jaar
4.Negatiewe inligting of toepassingsoptredeKlassifikasie met betrekking tot toepassingoptrede deur ʼn kredietverskaffer.1 jaar of binne die voorgeskrewe periode in artikel 71A.
5.Negatiewe klassifikasie van verbruikersgedragSubjektiewe klassifikasie van verbruikersgedrag.1 jaar of binne die voorgeskrewe periode in artikel 71A.
6.SkuldrekonstruksieVolgens artikel 86 van die Wet, ʼn hofbevel deur ʼn hof of tribunaal.Binne die voorgeskrewe periode in artikel 71 (1) of totdat ʼn klaringsertifikaat uitgereik is.
7.Siviele hofbeveleSiviele hofbevele wat verstekvonnisse insluit.Die vroegste van 5 jaar of totdat die hofbevel tersyde gestel word deur ʼn hof of dit teruggetrek word deur die kredietverskaffer in terme van artikel 86 van die Wet op Landdroshowe of binne die voorgeskrewe periode in artikel 71A van die Wet.
8.Onderhoudsbevele in terme van die Wet op OnderhoudVolgens hofbevel.Totdat die hofbevel deur ʼn hof nietig verklaar word.
9.SekwestrasieVolgens hofbevel.5 jaar of totdat ʼn rehabilitasiebevel uitgereik word.
10.RehabilitasieVolgens hofbevel.5 jaar
11.AdministrasiebevelVolgens hofbevel.5 jaar of totdat ʼn bevel nietig verklaar is deur die hof.
12LikwidasieVerwyder – skrap.
13.Ander inligtingVerwyder – skrap.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Antie Sarie ·

As hulle nie brood het nie, gee hulle koek. Dis mos maklik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.