Verbruikersake: Hou jou rekening dop vir ongemagtigde debietorders

(Foto: Pixabay)

Verbruikers word daagliks met duisende rande ingeloop wanneer debietorders, gewoonlik vir klein bedrae, van hul bankrekenings afgetrek word, al het hulle nie toestemming gegee nie. Verbruikers word dus gemaan om seker te maak dat hulle hul rekeningstate nagaan en dadelik optree indien ongemagtigde debietorders aangebied word vir betaling. Ina Opperman verduidelik wat jy kan doen.

Mens het deesdae so baie administratiewe take om af te handel dat die maandelikse bankrekeningstaat onder in die hopie papiere beland en verbruikers vergeet dan om hul rekeningstate deeglik deur te gaan. Jy kan egter net die skelms se bedrywighede raaksien as jý dit wel doen. Jou bank kan nie veel doen nie, maar daar is wel stappe wat kan verseker die bedrog kry end.

Die meeste debietorders waaroor verbruikers kla, is egter geldig omdat verbruikers daartoe ingestem het. Hierdie debietorders word net gestop wanneer verbruikers se kontant opraak en hulle die geld vir iets anders wil gebruik. Omtrent 1,5 miljoen (3%) van die 55 miljoen maandelikse debietorders word in twyfel getrek, maar die Betalingsvereniging van SA (Pasa) reken net omtrent 10% van die 1,5 miljoen debietorders is nie deur verbruikers goedgekeur nie.

Jou bank

Banke maak net betalings moontlik en word deur die Wet verplig om debietorders te laat deurgaan wat deur ander banke vir betaling aangebied word, volgens Pasa. Hulle laat betalings dus deurgaan met die verstandhouding dat net geldige debietorders ingesluit word, gerugsteun deur ’n mandaat op skrif of ’n stemopname.

Sommige banke het ’n heffing ingestel om debietorders om te keer sodat verbruikers twee keer moet dink voordat hulle ’n debietorder wil omkeer, aangesien daar gevind is dat soveel debietorders wat betwyfel word, inderdaad geldig is. Dit vat baie tyd en moeite om debietorders om te keer, maar verbruikers kan die bedrag terugeis indien dit bevind word dat die debietorder wel ongeldig was.

Dit is onwettig en oneties om debietorders te stop wanneer verbruikers wel hul toestemming gegee het dat die bedrag vir betaling vir ’n produk of diens afgetrek kan word. Die staking van geldige debietorders maak dit ook moeiliker om ongeldige debietorders raak te sien en laat dit lyk asof groot maatskappye ongeldige debietorders gebruik terwyl dit nie die geval is nie.

Pasa het jare lank saam met die bankbedryf gewerk om ’n omvattende stelsel, DebiCheck, in te stel.

So werk DebiCheck

Met DebiCheck vereis banke van verbruikers om hul debietorders elektronies te bevestig wanneer ’n nuwe kontrak met die gebruiker gesluit word voordat enige geld verhaal word. Dit verseker dat verbruikers en hul banke presies weet hoeveel geld verhaal kan word. Die verbruiker se elektroniese mandaat word dan op die bank se databasis gehou en kan dan enige tyd nagegaan en gemonitor word.

Beskerm jouself só

  • Gaan jou bankstate gereeld na en bevraagteken aftrekkings wat jy nie herken nie;
  • Vra dadelik jou bank om ondersoek in te stel na ongeldige debietorders en meld die besonderhede aan by [email protected];
  • Maak seker dat jou bank die regte selfoonnommer vir jou het sodat jy ingelig kan word wanneer geld van jou rekening verhaal word en dat hulle vir jou versoeke vir DebiCheck-bevestiging kan stuur;
  • Wees versigtig wanneer jy kontrakte verbaal, elektronies of op skrif sluit;
  • Moenie jou bankbesonderhede vir iemand gee as jy nie seker is wat daarmee gedoen gaan word nie; en
  • Moenie geldige debietorders bevraagteken nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Na jare in die bankbedryf, het ek agtergekom dat die meeste mense omtrent nooit hulle state deurgaan nie. Ek het telkemale saam met kliënte deur hulle state gegaan. Kliënte het alleenlik bekommerd geraak wanneer hulle bankkaart skielik nie meer kon “koop” nie. Baie het dan summier hulle debietorders gestop om sodoende geld in die hande te kry. En as die maatskappy vir die kliënt skakel weens wanbetaling, het die kliënt sy bank die skuld gegee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.