Verbruikersake: Huisbouerswet kan só verander

huis-bou-bouwerk

(Foto: Judemac/Pixabay.com)

Net meer as twintig jaar nadat die Wet op Beskermingsmaatreëls vir Behuisingsverbruikers in 1998 ingestel is, het die kabinet onlangs die publikasie van ʼn nuwe wetsontwerp goedgekeur vir deelname en kommentaar. Ina Opperman het gaan kyk hoeveel anders dié wetsontwerp lyk as die bestaande wetgewing.

Die wetsontwerp sal die bestaande wet vervang wanneer dit geproklameer word. Die nasionale departement van menslike nedersettings is tans besig met landwye inligtingsessies, soos voorgestel deur die kabinet.

Die Nasionale Huisbouersregistrasieraad

Die Nasionale Huisbouersregistrasieraad (NHBRR) is ʼn instansie wat volgens die wet gestig is om die boubedryf te reguleer en verbruikers te beskerm teen kontrakteurs wat huise bou met ʼn substandaardontwerp, -vakmanskap en materiaal van swak gehalte. Die NHBRR se mandaat is om verbruikers te beskerm en te verseker dat bouers voldoen aan die voorgeskrewe bedryfstandaarde in die Huisbouershandboek.

Bouers word wetlik verplig om by die NHBRR te registreer as hulle nuwe huise bou en diegene wat dit nie doen nie, kan strafregtelik vervolg word. Die NHBRC sertifiseer bouers wat voldoen aan die voorgeskrewe standaarde van tegniese vaardigheid, konstruksie-ondervinding en finansiële vermoë.

Volgens die wet moet bouers ten minste vyftien dae voordat konstruksie begin ʼn nuwe huis by die NHBRR registreer. Die NHBRR se inspekteurs moet dan die bouwerk inspekteer om te sorg dat dit struktureel korrek gebou is.

Volgens die wet is die NHBRR se rol om:

  • Die belange van verbruikers te verteenwoordig deur waarborgbeskerming teen foute in nuwe huise te verskaf;
  • Die huisbouersbedryf te reguleer;
  • Beskerming aan verbruikers te verskaf wanneer bouers nie aan hul verpligtinge volgens die wet voldoen nie;
  • Etiese en tegniese standaarde in die huisbouersbedryf te vestig en bevorder;
  • Strukturele gehalte te verbeter ten bate van verbruikers en die bedryf;
  • Verbruikersregte te bevorder en behuisingsinligting te verskaf;
  • Met huisbouers te kommunikeer en hulle te help om te registreer kragtens die wet; en
  • Huisbouers te help om bevredigende tegniese standaarde vir huisbou te behaal en vol te hou.

Wat gaan verander?

Daar word voorgestel dat die volgende belangrik aspekte van die wet verander word:

  • Die mandaat van die NHBRR word uitgebrei na aanbouings, veranderings, herstelwerk en opknappingswerk, indien dit vereis dat planne by die plaaslike owerheid ingedien word;
  • Instellings soos tronke, hospitale, aftreeoorde en gesubsidieerde behuising sal ook ingesluit word;
  • Provinsiale regerings mag net geld vir gesubsidieerde behuising uitbetaal indien die bouwerk voldoen aan al die vereistes van die wet;
  • Ontwikkelaars sal ook moet registreer by die NHBRR;
  • Bouers wat substandaardwerk lewer, sal ʼn maksimum boete van R1 miljoen opgelê kan word (dit is tans R25 000);
  • Hierdie boete kan ook bereken word na gelang van die totale koste om herstelwerk te doen;
  • Wanneer ʼn bouer nie betyds ʼn huis voltooi nie, kan verbruikers by die NHBRR kla en dit sal die bouer se gradering beïnvloed;
  • Die publiek sal toegang hê tot die NHBRR se register en die inligting daarin;
  • Die minister van menslike nedersettings sal die waarborgperiode vir die bouwerk, wat tans vyf jaar is, kan verleng en die waarborg op dakke word verleng tot twee jaar;
  • Alternatiewe beslegting van dispute kan gedoen word;
  • Die NHBRC kan namens verbruikers optree of iemand op die NHBRC se koste aanstel om dit te doen; en
  • Die NHBRC moet voldoen aan die Wet op Openbare Bestuur van Finansies.

Mense kan nog tot einde Oktober kommentaar lewer op die wetsontwerp.

Wat beteken die veranderinge vir verbruikers?

Die veranderinge lyk op die oog af goed vir verbruikers. Dit is goeie nuus dat ander soorte bouwerk ook ingesluit kan word, aangesien meer mense in die algemeen oor aanbouings en verbeterings kla as oor nuwe huise. Verbruikers moet tans bouers siviel dagvaar vir swak werk met aanbouings en verbeterings.

Hoewel daar beslis teenkanting sal wees teen die voorstel dat provinsiale departemente nie geld mag uitbetaal vir gesubsidieerde behuising tensy die werk aan die vereistes van die wet voldoen nie, behoort die mense wat uiteindelik in hierdie huise gaan bly, voordeel te trek omdat die werk van ʼn hoër standaard gaan wees. ʼn Hoër boete vir bouers behoort ook ʼn beter afskrikmiddel te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Manie W ·

Die NHBRC is ‘n klug en werkskeppings instansie. Hoeveel keer moes ek nie al die “inspekteur” by die komplekse se ingange gaan optel en aflaai omrede hy nie ‘n motor het nie. Hulle daag gereeld nie op vir afsprake nie en vertraag projekte omrede hulle nie vervoer kon kry na die perseël nie. Boonop weet die meeste NHBRC inspekteurs minder van bouwerk af as die “brick layer” so wat moet hy kom inspekteer met sy gebrekkige kennis?

Eienaarbouer ·

Ek sien niks wat (toekomstige) huiseienaars beskerm teen ‘eienaarbouers’ (moontlike latente defekte), waarvan etiek en vaardighede ook die hele spektrum kan dek?

Gert ·

Ek stem heel hartig saam met Manie W. Werkskeppings instansie met geen kennis.
Stop bouwerk omdat ek met “sandstone” bou mag nie gebeur nie. Hoe meer ek verduidelik dit is net die Kleur van die steen se naam stuur hulle eers vier inspekteurs net om te sê: O but it is n brick! Gedink ek bou met stene wat ek van sand maak aiaia.

Gert ·

Almal glo maar dat as jy die staat betrek, dit voordelig is vir die publiek. Ongelukkig is dit nooit waar nie. As die staat betrokke raak, kry jy ekstra koste, vertragings, korrupsie, omkopery, onbevoegdheid, ens in oormaat. Ek verstaan dat in Johannesburg moet mens nou goedkeuring kry selfs as jy net ‘n motorafdak wil bou, nou is dit baie duurder en ‘n baie lang proses, so almal laat staan maar eerder hulle kar in die son, en werkskepping word benadeel.
Maar nou ja, die sosialiste was nog altyd goed daarmee om net die gewaande voordele van staatsinmenging te besing, en die nadele te verswyg.

Human ·

NHBRC, net nog ‘n geld maak foefie en al wat gaan gebeur is werkloses raak meer en boukoste nog duurder.

Gert van Wierdapark ·

Die Raad se voete moet kleierig wees, en hul turf sit al lankal, daarom wil hulle hul “juris-diksie uitbrei om op n breer basis te opereer en te skep!

Arak ·

Wat van substandaard materiale. Ek woon in ‘n huis wat 10 jaar oud is. Skielike het die buitenste pype begin lek. Ek moes hulle ten duurste vervang, maar ek kon nie die oorspronklike bouer blameer nie, want die pype het almal die SABS se merk op. Die gemors pype is vanaf Sjina, en is hier goedgekeur deur die SABS. Omdat die SABS nie hulle werk gedoen het nie, het dit my ‘n klomp geld gekos. Ek is oortuig daarvan dat ek nie die enigste is wat so ‘n bloutjie geloop het nie. Hoe kan mens die SABS kry om weer hulle werk te doen. Dit sal baie van die gemors en gebrek aan standaarde in die boubedryf te verminder.

Jack Klok ·

Hoe gaan jy die SABS kry om hulle werk te doen?

Goeie vraag. Die SABS is ook maar “gekaap” deur die onvermydelike onvermoë en onwilligheid (swak werksetiek ens) wat altyd gepaard gaan met AA en BBBEE. Ek was tot onlangs – 5 jaar gelede – betrokke in die bou-industrie en ons het nooit besoeke van bou-inspekteurs ontvang nie. Dept van Arbeid het wel kom inspekteer maar net om te kyk of aan al die AA voorskrifte voldoen word.

As ‘n mens kyk na die fiaskos met die hele HOP-huis program kan mens maar net jou kop skud. Dis vreeslik maklik om allerhande reëls op papier neer te pen maar om ‘n ding te implementeer is ‘n perd van ‘n ander kleur. Dan kom omkopery en korrupsie in gedrang – een tree vorentoe en twee treë agteruit.

Intussen moet die Instansie wat dit moet implementeer meer mense aanstel, meer bestuurslede hê, groeter salarisse, kantore en ampsmotors kry en wie gaan dat betale?

AndrewL ·

Net nog ‘n Seb skema vir werkskepping vir mense wat’ n job moet kry.

Wim ·

Stem 100% saam met al die kommentare dat die sogenaamde NHBRR is ‘n absolute klug is.

In ons eie geval het ons ‘n nuwe woning laat bou wat ons gelaat het met swak vakmanskap en onvoltooide werk.

Ek het die genoemde vereniging op twee geleenthede skriftelik genader om kommentaar rakende ons problem. Skrywes was gerig aan hulle hoofkantoor in Fourways, maar het geen reaksie van hulle gekry nie.

Die saak is toe weer geopper en ‘n gedetailleerde foutlys is toe meer as ‘n jaar gelede aan die NHBRR in Kaapstad gerig.

Nodeloos om te sê, ek kon net sowel met die man in die maan probeer kommunikeer het.

PK ·

Enigiemand wat al ‘n klagte by die NHBRC gelê het sal weet dis so goed as om met ‘n muur te praat. Jy kry niks uitgerig nie. Net ‘n geldmaak skema. Wonder wat doen hulle met al die geld wat al ingevorder is. Op die Platteland bestaan hulle nie

Nonnie ·

Net jammer daar is soveel bouers daar buite wat nie geregistreer is nie! Hulle is die mense wat nou die werk kry, want hulle kan hul werksmense soveel minder betaal as wat die wet bepaal. Hierdie mense werk maar daarvoor, want hulle is afhanklik van die inkomste. Maw, hulle kwotasies is soveel minder as die gerergistreerde bouer. Ek weet, my man is ‘n geregistreerde bouer.

Danien ·

Ek stem saam . NHBRC is nie hul naam waardig nie. Ek het in n kompleks gekoop in Kempton en net na die plek klaar gebou is en mens kon intrek het ek by hulle gekla oor ondergrondse water wat veroorsaak dat waterdamp voorkom op die mure. Jy kan doen net wat jy wil en verf elke jaar die verf maak blasé en skulfer net weer af. Vir 5 jaar het ek baklei en niks het gebeur. Swak man ontbind hul eerder want hul beteken niks, net nog n geldmaak skema.

Lido Pellencin ·

Ja-nee, die sirkus word al hoe snaakser en groter. Hoekom is die munisipale bou-inspekteurs dan nog nodig?

Leon ·

Ek neem aan ANC kaders en BBBEEE maatskappye sal vrygestel wees van die wet. Dis mos hoe dit werk in die ANC regering.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.