Verbruikersake: Jou reg om te kanselleer

kontrak

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Dit is baie maklik om ’n kontrak te teken, maar glad nie so maklik om een te kanselleer nie: vra maar net vir verbruikers wat daagliks met hul hande in die hare sit omdat hulle nie ’n kontrak gekanselleer kan kry nie. Verbruikers het wel regte wanneer hulle kontrakte wil kanselleer, maar die ander party ook. Ina Opperman het gaan kyk wat die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal oor jou regte wanneer jy ’n kontrak wil kanselleer.

Verbruikers moet onthou dat verskillende kontrakte verskillende voorwaardes het, soos vastetermynkontrakte. Verbruikers se regte wanneer hulle ’n kontrak wil kanselleer, word vervat in artikels 14, 16 en 17 van die Wet op Verbruikersbeskerming.

Vastetermynooreenkomste

Artikel 14 van die wet bepaal jou regte wanneer vastetermynooreenkomste tussen verbruikers en handelaars, wat nie langer as 24 maande mag duur nie, verstryk of hernu word.

Jy mag ’n vastermynooreenkoms kanselleer sonder om ’n boete of ander kostes te betaal wanneer die 24 maande of ander tydperk waarop ooreengekom is, verstryk. Indien die kontrak nog nie verstryk het nie, moet jy die handelaar binne 20 werkdae skriftelik kennis gee dat jy die kontrak wil kanselleer. Dieselfde geld indien die handelaar die kontrak wil kanselleer omdat jy nie die maandelikse paaiemente betaal nie, tensy jy dit binne die 20 dae regstel.

Die handelaar moet jou tussen 40 en 80 werkdae vooraf skriftelik kennis gee dat jou kontrak gaan verval en aandui of dieselfde voorwaardes van krag sal wees indien jy die ooreenkoms hernu. Wanneer ’n vastetermynkontrak verstryk, moet dit outomaties op ’n maand tot maand-grondslag verleng word, tensy jy aangedui het jy wil die ooreenkoms beëindig of ’n nuwe kontrak sluit.

Jy bly egter aanspreeklik vir enige geld wat jy die handelaar nog skuld en die handelaar kan vereis dat jy ’n redelike kansellasieboete betaal vir die goedere en dienste wat gelewer is. As jy vooruit betaal het, moet die handelaar die res van jou geld terugbetaal nadat die boete afgetrek is.

Wanneer verbruikers kla oor ’n kontrak wat hulle nie gekanselleer kry nie, is dit gewoonlik ’n vastetermynooreenkoms. Mense met ’n gewone DSTV-kontrak kan dit byvoorbeeld gewoonlik binne ’n maand kanselleer, maar as jy ’n kontrak gesluit het wat ’n Explora en dieselfde premie vir 24 maande insluit, het jy ’n vastermynkontrak wat jy nie so maklik kan kanselleer nie.

Direkte bemarking

Wanneer die handelaar jou spesifiek genader het om ’n kontrak vir goedere en dienste te sluit sonder dat jy eerste daarin belanggestel het, het jy die reg op ’n afkoeltydperk om die kontrak te kanselleer.

Artikel 16 van die wet bepaal jou regte op die afkoeltydperk, maar is nie van toepassing op transaksies wat ingevolge artikel 44 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies gesluit is nie. Jy kan ’n kontrak wat uit direkte bemarking voortspruit sonder rede of boete terugtrek, deur binne vyf werksdae skriftelik kennis te gee.

Die handelaar moet dan enige geld wat jy betaal het, teruggee binne 15 werksdae nadat jou kennisgewing ontvang is of wat goedere verskaf is.

As iemand jou byvoorbeeld uit die bloute gebel en ’n selfoonkontrak aangebied het wat jy aanvaar het, kan jy dit nog binne vyf dae kanselleer, maar as jy intussen die selfoon ontvang, moenie dit oopmaak nie, want dan kan jy dit nie meer teruggee nie.

Voorafbesprekings

Artikel 17 van die wet bepaal jou reg om voorafbesprekings, plekbesprekings of bestellings te kanselleer. Die handelaar kan vereis dat jy ’n redelike deposito betaal en ’n redelike bedrag vir kansellasie hef.

Die handelaar moet die aard van die goedere of dienste, die kennistydperk, die redelike moontlikheid om dit aan iemand anders te verkoop en die algemene praktyk van die betrokke bedryf in ag neem om die kansellasietarief uit te werk.

Handelaars mag nie ’n kansellasietarief hef as jy sterf of in die hospitaal opgeneem word en dus nie die bespreking kan gebruik nie.

Wanneer jy vir jouself ’n vliegkaartjie Londen toe bespreek het en jy word die dag voor die tyd in die hospitaal opgeneem met ’n ernstige siekte, kan jy die geld vir jou kaartjie terugeis, maar jy moet bewys kan lewer dat jy siek was.

Onthou:

  • Moenie ’n kontrak teken voordat jy seker is jy verstaan al die bepalings nie.
  • Maak seker wat jou regte sal wees indien jy wil kanselleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

? leser ·

wie lees in elk geval die 10 bladsye “small print” voor dit geteken word, volgens verkoopsman / vrou is dit maar net die normale voorwaardes, eintlik sommer niks, teken maar net, teken maar net jou gat in ‘n drom in

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.