Verbruikersake: Jou regte met bêrekoop

inkopies-aankope-sakke-vrou

(Argieffoto: Gonghuimin468/Pixabay.com)

Met baie verbruikers wat nou met minder moet klaarkom omdat hul salarisse verminder is of hulle afgelê is, kies deesdae die uitweg van bêrekoop om goedere soos skoolklere te koop wat hulle dan oor ʼn paar maande kan afbetaal, eerder as om nog krediet te kry. Jou kredietrekord word nie nagegaan nie, maar jy ontvang eers die goedere wanneer jy die volle bedrag afbetaal het. Dit is egter belangrik om te weet wat jou regte is om te verseker dat jy nie ingeloop word nie. Ina Opperman verduidelik wat jou regte is wanneer jy iets bêrekoop en hoe jy hierdie regte kan toepas.

Die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm verbruikers wat goedere bêrekoop en dit is belangrik om te weet wat jou regte is wanneer jy hierdie soort transaksie aangaan.

Artikel 62

Volgens artikel 62 van die wet het jy die volgende regte in ʼn transaksie met ʼn handelaar wat instem om goedere aan jou te verskaf wat jy in paaiemente afbetaal en te hou totdat jy die volle bedrag vereffen het:

  • Die paaiemente bly jou eiendom totdat jy die goedere ontvang in ooreenstemming met artikel 65, wat bepaal dat die handelaar die plig het om na jou eiendom om te sien terwyl dit in sy besit is. Dit beteken dat hy nie sommer hierdie geld kan gebruik totdat jy die bedrag afbetaal en die goedere ontvang het nie.
  • Die handelaar dra die risiko vir die goedere totdat dit aan jou oorhandig word. As die winkel byvoorbeeld afbrand, moet die handelaar steeds jou goedere of jou geld vir jou gee.

Wanneer die goedere nie meer beskikbaar is nie

  • Indien die handelaar die goedere nie meer kan verskaf nie weens omstandighede buite sy beheer wanneer jy die volle bedrag betaal het, moet hy aan jou soortgelyke of beter goedere verskaf of jou geld teruggee met rente volgens die Wet op Voorgeskrewe Rentekoerse. Hierdie bepaling sou geld indien iemand byvoorbeeld by die winkel inbreek en die goedere steel.
  • Indien hy nie die goedere kan verskaf nie weens omstandighede waaroor hy wel beheer het, moet hy dubbel jou geld teruggee om op te maak vir die feit dat hy kontrakbreuk gepleeg het. Dit sou byvoorbeeld gebeur indien hy die goedere aan iemand anders verkoop en nie meer voorraad het teen die tyd dat jy die volle bedrag betaal het nie.

‘Omstandighede buite sy beheer’

Artikel 62 bepaal ook dat die “omstandighede buite sy beheer” nie op die handelaar van toepassing is indien die tekort aan goedere gedeeltelik of heeltemal direk of indirek die gevolg is van die handelaar se versuim om sy onderneming behoorlik te bestuur nie. ʼn Tekort aan voorraad is byvoorbeeld nie ʼn verskoning nie omdat ʼn goeie bestuurder sal sorg dat hy wel voorraad het om sy verpligtinge na te kom.

As jy wil kanselleer

Sou jy besluit om die ooreenkoms te kanselleer voordat jy die volle bedrag betaal het, of nie die paaiemente betaal binne 60 werksdae nadat jy die volle bedrag sou betaal het nie, kan die handelaar ʼn boete van nie meer as 1% hef op die bedrag wat hy aan jou terugbetaal. Die boete mag egter nie gehef word indien jy versuim het om te betaal omdat jy gehospitaliseer of dood is nie of in enige ander geval, tensy hy jou van die boete in kennis gestel het voordat jy die bêrekoopooreenkoms aangegaan het nie.

Kla hier oor bêrekoop

Jy kan kla oor handelaars wat die wet oortree met betrekking tot bêrekoop by die Nasionale Verbruikerskommissie of die verbruikersakekantoor in die provinsie waar jy bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.