Verbruikersake: Jou regte met herstelwerk

(Foto: Sam Clarke/Unsplash)

Verbruikers moet deesdae met die hoë petrolprys en alles wat gevolglik duurder word, hul beursies styf toeknyp. Dit is nie meer so maklik om ʼn stukkende wasmasjien of stoof weg te gooi en ʼn nuwe een te koop nie en verbruikers kies nou meer dikwels om ʼn duur toestel te laat herstel eerder as om dit te vervang. Maar wat doen jy as die wasmasjien of stoof steeds nie werk nie? Ina Opperman verduidelik wat die Wet op Verbruikersbeskerming daaroor sê.

Die feit is dat alles wat jy koop die een of ander tyd gaan breek of onderhoud nodig het en dit is veral motors en elektriese toestelle wat verbruikers se bankrekenings laat kreun. Swak werk en swak onderdele, sowel as bykomende koste wanneer dit by die betaalslag kom, is van die dinge waaroor verbruikers die meeste kla. Wat kan jy doen?

Jy kan staatmaak op jou regte wat ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm word. Jou reg om te kies en jou reg tot billike waarde, goeie gehalte en veiligheid tree in werking wanneer jy herstelwerk laat doen, saam met jou reg om vooraf te weet hoeveel dit gaan kos sodat jy kan besluit of jy dit kan bekostig.

Herstelwerk het ʼn versweë waarborg

Artikel 57 van die wet bepaal dat die herstelwerk aan goedere gewaarborg is om jou te beskerm teen swak herstelwerk. Elke nuwe of herboude onderdeel wat gedurende herstel- of onderhoudswerk geïnstalleer word, asook die arbeid, word vir drie maande nadat die werk gedoen is, of selfs langer indien jy en die hersteller skriftelik daarop ooreenkom, gewaarborg.

Hierdie waarborg geld saam met enige ander versweë of uitdruklike waarborg en geen waarborg wat jy onderteken, kan hierdie reg van jou ontneem nie. Die waarborg is egter nietig as jy die onderdeel of item verkeerd gebruik of misbruik en dit is ook nie van toepassing op probleme wat deur gewone slytasie veroorsaak word nie.

Voorafmagtiging

Artikel 15 van die wet bepaal dat jy herstel- of onderhoudsdienste vooraf moet goedkeur voordat die hersteller met die werk kan begin, sodat jy nie nadat die werk eers gedoen is, agterkom dat jy dit nie kan bekostig nie.

Dit is veral belangrik as jy byvoorbeeld jou motor laat herstel, waar die werkswinkel eers magtiging vir elke taak moet kry voordat die werk gedoen kan word. Wanneer jy jou motor gaan haal, weet jy dan klaar presies hoeveel dit jou gaan kos, want jy moet ook in kennis gestel word oor hoeveel die arbeid gaan kos.

Daarom moet die hersteller vooraf ʼn kwotasie opstel wat wys presies hoeveel die onderdele en die arbeid gaan kos sodat jy ʼn ingeligte besluit kan neem. Dit is beter om die kwotasie op skrif te kry sodat jy later kan bewys waarvoor jy magtiging gegee het.

Jy kan ook volgens die wet die kwotasie van die hand wys en die werk dadelik magtig, maar die hersteller moet dit steeds eers aanbied. As die hersteller byvoorbeeld nie seker is wat fout is met jou motor nie, kan jy ook vooraf ’n bepaalde maksimum bedrag magtig en as dit meer kos, moet jy eers toestemming gee voordat nog werk gedoen kan word.

Die hersteller mag ook nie ʼn bedrag hef om die kwotasie op te stel nie en dit sluit die koste van enige diagnostiese werk, uitmekaarhaal of aanmekaarsit wat vereis word om ’n kwotasie op te stel of enige skade of verlies tydens die opstel van die kwotasie in, tensy die diensverskaffer vir jou sê wat dit sal kos om die kwotasie op te stel en jy stem in.

Kla hier

Verbruikers kan by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor herstelwerk kla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Deon Ronald ·

Wat is Regte? Ek koop n bakkie deur MFC NEDBANK die bakkie staan vir 4 jaar terwyl ek dit betaal. MIOSA het nie juridieksie nie. Die VKK ingoreer my flat. Tien jaar later nog niks. Nedbank CEO Mike Brown ignoreer my ook.Ek ontdek bedrog niemand gee gehoor nie. Die polisie het wel n klopjag uitgevoer. .Snaaks genoeg, die Wet is verander en vandag geniet almal REGTE. Wat van my skade? Is nou nog nie vergoed nie. Die sonde bokke finansier die STELSEL.Ek het al die bewyse aangestuur. Nedbank het in daai tyd bank van die jaar gevier. KOM BEWYS MY VERKEERD.. CEO …en …KOMMISARIS. Julle skuld my geld. Ek het mos regte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.