Verbruikersake: Jou regte met vastetermynkontrakte  

kontrak

(Foto: Unsplash/Pixabay)

Verbruikers sluit elke dag vastetermynkontrakte, maar hierdie manier om oor ʼn vasgestelde tydperk vir ʼn diens te betaal is ook nie sonder probleme nie. Mense loop hulle dikwels vas in maatskappye wat weier om hierdie kontrakte te kanselleer en verbruikers weet dikwels nie wat hul regte is wanneer hulle ʼn vastetermynkontrak teken nie. Ina Opperman verduidelik wat jou regte is in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming.

Vastetermynkontrakte geld gewoonlik vir ʼn sekere tyd en is gewoonlik van toepassing op dienste soos selfoonrekeninge, veiligheidsdienste, satellietopsporingsdienste en gimnasiums. Artikel 14 en regulasie 5 van die wet bepaal hoe lank die tydperk van die kontrak mag wees en hoe ʼn mens dit kan kanselleer.

Die duur van die vastetermynkontrak

Regulasie 5 bepaal dat vastetermynkontrakte nie vir ʼn tydperk langer as 24 maande gesluit mag word nie, tensy jy instem tot ʼn langer tydperk en die verskaffer kan bewys dat dit tot jou finansiële voordeel sal wees. Die diensverskaffer moet wel jou aandag daarop vestig dat ʼn kansellasiefooi gehef sal word indien jy kanselleer voordat die kontrak verval.

Hoe om ʼn vastetermynkontrak te kanselleer

Artikel 14 bepaal dat jy ʼn vastetermynkontrak kan kanselleer wanneer dit verval en dat die diensverskaffer nie ʼn fooi daarvoor mag hef nie, behalwe die laaste bedrag wat jy skuld.

Die diensverskaffer moet jou 40 tot 80 werkdae voordat die kontrak verval, op skrif laat weet dat jou kontrak ten einde loop en aandui of die huidige prys gaan verander indien jy die kontrak hernu.

Jy kan met die kontrak voortgaan op ʼn maand-tot-maand grondslag, onderhewig aan belangrike veranderinge soos prys.

Jy kan ʼn vastetermynkontrak voor die vervaldatum kanselleer, maar dit kan jou geld kos. Volgens die wet moet jy die diensverskaffer 20 dae op skrif kennis gee dat jy die kontrak wil kanselleer.

Die diensverskaffer kan dan  ʼn kansellasiefooi hef vir goedere of dienste wat verskaf is tot op die kansellasiedatum. Die diensverskaffer moet jou ook terugbetaal as jy reeds betaal het vir goedere en dienste wat jy nog nie gebruik het nie.

Afkoelperiode

As jy ʼn vastetermynkontrak gesluit het nadat iemand jou gebel en die kontrak aangebied het, sonder dat jy self gebel het om navraag te doen, het jy volgens die wet se bepaling oor direkte bemarking ʼn afkoelperiode van vyf dae om dit op skrif te kanselleer sonder om enigiets te betaal.

Die kansellasiebedrag

Die wet bepaal die diensverskaffer moet die kansellasiefooi bereken volgens die:

  • bedrag wat jy nog skuld
  • waarde van die transaksie tot op die datum van die kansellasie
  • waarde van die goedere wat jy gekry het
  • voordele en nadele vir jou
  • aard van die goedere of dienste
  • lengte van die kennistydperk
  • moontlikheid om iemand anders te kry om binne die kennistyd die kontrak oor te neem
  • algemene praktyk in die betrokke bedryf.

Die diensverskaffer moet ook in ag neem of jy die goedere teruggee en hoeveel maande van die kontrak nog oor is.

Dus mag die diensverskaffer nie vereis dat jy die volle bedrag vir die maande wat nog oor is, betaal nie. Dit is ook verbode vir die diensverskaffer om ʼn kansellasiefooi te hef wat dit vir jou onmoontlik sal maak om te kanselleer.

Wanneer die diensverskaffer die kontrak kanselleer

Diensverskaffers kanselleer gewoonlik vastetermynkontrakte wanneer jy nie jou deel van die kontrak, soos om maandeliks te betaal, nakom nie.

Die diensverskaffer moet jou in kennis stel indien die kontrak gekanselleer gaan word en mag dit dan binne 20 dae kanselleer indien jy nie die uitstaande bedrag betaal of ander voorwaardes van die kontrak nakom nie.

Dit is verbode

Die wet verbied enige fynskrif in kontrakte, wat die voorwaardes vir kansellasie insluit, sowel as onbillike kontrakvoorwaardes, soos dat jy jou regte in terme van die wet prysgee.

Wanneer die wet nie van toepassing is nie

Hierdie artikel in die wet is nie van toepassing op ooreenkomste tussen maatskappye, individue en banke en konsessies nie. Vastetermynbeleggings is ook uitgesluit.

Waar kla mens oor vastermynkontrakte?

Kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor diensverskaffers wat die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming verontagsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.