Verbruikersake: Jy kan ook hier kla oor krediet, skuldinvorderaars

(Argieffoto: Maroela Media)

Die Nasionale Kredietreguleerder en die Kredietombudsman het onlangs ’n samewerkingsooreenkoms geteken wat hulle in staat sal stel om saam te werk om te voldoen aan die oogmerke van die Nasionale Kredietwet en om klagtes op te los tussen kredietverskaffers wat nie banke is nie, kredietburo’s en verbruikers. Ina Opperman het gaan kyk hoe dinge nou verander.

Die Kredietombudsman kon voorheen net klagtes hanteer wat verband hou met kredietinligting en kredietburo’s, terwyl die reguleerder alle ander klagtes oor krediet hanteer het.

Die Nasionale Kredietreguleerder

Die Nasionale Kredietreguleerder is ’n statutêre liggaam wat ingestel is deur die Nasionale Kredietwet en is verantwoordelik vir:

  • die regulering van kredietverskaffers;
  • verbruikersopvoeding;
  • navorsing;
  • voorstelle oor beleid vir die minister van handel, nywerheid en mededinging;
  • registrasie van deelnemers aan die kredietbedryf;
  • die ondersoek van klagtes; en
  • die toepassing van die Nasionale Kredietwet.

Die Kredietombudsman

Die Kredietombudsman is ’n vrywillige, niestatutêre liggaam wat erken word in artikel 11 van die Wet op die Finansiëledienste-ombudskema, wat jurisdiksie het ten opsigte van die Nasionale Kredietwet en verantwoordelik is vir die oplos van klagtes tussen die kredietbedryf wat nie banke is nie en verbruikers van kredietooreenkomste en kredietinligting wat klere- en meubelrekeninge, mikro-uitleners en ander lenings wat nie deur banke toegeken word nie, insluit.

Die dienste wat die Kredietombudsman lewer is gratis en verbruikers word nie gebind deur ’n beslissing van die Kredietombudsman nie. Jy kan dus steeds by die reguleerder gaan kla as jy nie tevrede is met die Kredietombudsman se beslissing nie.

Volgens artikel 139 van die Nasionale Kredietwet kan die reguleerder klagtes verwys na ’n ombudsman met jurisdiksie om klagtes op te los tussen kredietverskaffers en verbruikers. Dit vorm die basis van die samewerkingsooreenkoms.

Samewerkingsooreenkoms

Die reguleerder het in die ooreenkoms ingestem om alle klagtes teen lede van die Kredietombudsman (wat kredietverskaffers wat nie banke is nie, skuldinvorderaars en kredietburo’s insluit) na die Kredietombudsman te verwys. Die reguleerder en die Kredietombudsman sal ook saamwerk om:

  • kwartaalliks verslae van die Kredietombudsman op te stel vir die reguleerder oor klagtes wat die reguleerder verwys het na die Kredietombudsman;
  • kapasiteit te bou en opleiding;
  • uitreikinisiatiewe;
  • bewusmaking en opvoeding oor die kredietbedryf; en
  • navorsing en die deel van inligting.

Kla hier:

  • Besoek die webwerf van die Kredietombudsman as jy wil kla oor krediet wat nie deur ’n bank toegestaan is nie, kredietburo’s en kredietinligting: www.creditombud.org.za.
  • Besoek die Nasionale Kredietreguleerder se webwerf as jy ’n ander klagte het oor krediet: www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elinette ·

Waar kla mens oor winkelgroepe (soos die MR. PRICE GROUP en WOOLWORTHS) wat jou kliënte-data deel (datalyste verkoop, m.a.w.) en jou voortdurend bel met allerlei “spesiale aanbiedinge” wat jy in die eerste instansie nooit voor ‘opgeteken’ het of toestemming toe verleen het nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.