Verbruikersake: Kan jy jou geld terugeis of nie?

(Argieffoto: stevepb/pixabay)

Verbruikers is deesdae baie meer bewus van hul regte as verbruikers aangesien hulle al hoe meer en beter toegang tot inligting het. Dis goed om te sien hoe verbruikers vir hul regte opstaan, maar verbruikers het ook die verantwoordelikheid om te sorg dat hulle presies weet waarvan hulle praat wanneer hulle op hul regte aanspraak maak. Om jou geld terug te eis, is soms jou reg, maar dit is nie altyd die geval nie. Ina Opperman verduidelik meer.

Die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal in ʼn hele paar gevalle dat verbruikers hul geld terug mag eis, maar daar is ook gevalle waar hierdie reg nie van toepassing is nie. Dit is belangrik om te weet wanneer jy ʼn reg het om dit te doen en wanneer nie.

Wanneer jy jou geld terug kan eis

  • Artikel 20 van die wet bepaal dat jy die reg het om goedere aan die verskaffer terug te gee en ʼn volle terugbetaling te ontvang indien die transaksie gespruit het uit direkte bemarking en die verbruiker dit binne die afkoeltydperk gekanselleer het. As jy dus ʼn selfoonkontrak gesluit het nadat iemand jou eerste gebel en dit aangebied het, kan jy dit sonder rede teruggee as jy die transaksie binne die afkoeltydperk van vyf werkdae kanselleer. Die verskaffer moet jou geld binne 15 dae terugbetaal.
  • Artikel 19(5) bepaal jy kan goedere, wat jy nie vooraf kon nagaan nie, teruggee as dit nie die soort en van die gehalte is wat jy redelikerwys kon verwag nie en jy dit net gekoop het op grond van ʼn beskrywing of voorbeeld wat deur die verskaffer verskaf is. In hierdie geval moet die goedere in alle wesenlike opsigte en karaktertrekke ooreenstem met die produk wat ʼn gewone, waaksame verbruiker op grond van die beskrywing of op redelike nagaan van die voorbeeld, na gelang van die geval, geregtig sou wees om te verwag.
  • Indien die goedere ʼn bepaalde doel moet dien en jy vind dit is nie geskik daarvoor nie, kan jy dit ook teruggee binne tien sakedae, tensy ʼn openbare regulasie om openbare gesondheidsredes die teruggee verbied of indien dit gedeeltelik of heeltemal uitmekaargehaal, fisiek aangepas, permanent geïnstalleer of reeds aan iets anders vasgemaak is.

Die winkel moet jou geld terugbetaal indien die produk in die oorspronklike, onoopgemaakte verpakking is. Indien die produk nog in sy oorspronklike toestand in die oorspronklike verpakking herverpak is, kan die winkel ’n redelike bedrag hef vir die gebruik van die goedere gedurende die tyd wat jy dit gehad het, tensy dit goedere is wat gewoonlik deur gebruik verbruik of uitgewis word en dit nie verbruik of uitgewis is nie.

As jy wel ʼn bietjie van die produk gebruik het om te sien of jy daarvan hou, kan die winkel jou nie daarvoor laat betaal nie, maar as jy al heelwat gebruik het, kan die winkel ook ʼn bedrag daarvoor hef.

In enige ander geval kan die winkel jou ʼn redelike bedrag laat betaal vir die koste om die goedere te herstel sodat die winkel dit weer kan verkoop, tensy dit, met inagneming van die aard van die goedere en die wyse waarop dit verpak is, vir jou nodig was om die verpakking te vernietig om vas te stel of dit ooreenstem met die beskrywing of voorbeeld wat verskaf is, indien jy dit nie vooraf kon nagaan nie of indien dit nie geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie.

Wanneer jy nie jou geld terug kan eis nie

  • Jy kan nie jou geld terugeis wanneer jy iets teruggee waarmee daar nie fout is nie. As jy bloot nie meer daarvan hou nie, is dit nie genoeg rede nie. Jy kan jou net beroep op die goeie wil van die winkel om dit om te ruil of terug te neem en jou geld terug te gee. As die winkel egter weier, is daar wetlik niks wat jy daaraan kan doen nie.

Soms word goedere net omgeruil of herstel

  • Artikel 56 maak voorsiening daarvoor dat jy onveilige of foutiewe goedere kan teruggee, maar jy kan verwag dat die verskaffer goedere wat gebrekkig, onveilig of defektief is, herstel of vervang of andersins dat hy jou geld terugbetaal. Wanneer jy byvoorbeeld ʼn nuwe motor koop, kan jy nie die motor ná ʼn maand teruggee en jou geld terugeis net omdat een van die deurhandvatsels stukkend is nie. In hierdie geval moet jy die handelaar toelaat om dit te herstel.
  • Wanneer ʼn vervaardiger die produk of ʼn onderdeel herstel en dit nie binne drie maande doen nie of as jy ontdek daar is nog iets fout daarmee, moet die verskaffer die produk vervang of jou geld terugbetaal. Die verskaffer dra die onkoste en risiko indien dit nie aan die vereistes van artikel 55 voldoen nie. Hierdie bepalings is ook van toepassing op tweedehandse of gebruikte produkte.

Kla hier

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor kleinhandelaars wat nie hou by die bepalings oor omruilings  van die Wet op Verbruikersbeskerming nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.