Verbruikersake: Kansellasies weens Covid-19

(Foto: Andre Tan/Unsplash.)

Jou vakansie waarvoor jy so lank gewag en gespaar het, is van die baan omdat al die plekke waarheen jy sou reis, se grense gesluit is vir buitelandse besoekers om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te keer. Jou kopseer is nou: gaan jy al jou geld terug kry? En nou is die skole ook gesluit, maar jy moet steeds die maandelikse skoolgeld betaal al moet jy self kinders oppas. Het mens nou geen regte meer nie? Ina Opperman verduidelik wat jy kan verwag.

Verbruikers het in hierdie gevalle verskillende regte, wat gewoonlik beskerm word deur artikel 17 van die Wet op Verbruikersbeskerming. Jou regte met betrekking tot voorafbesprekings word beskerm in artikel 17.

Artikel 17

Volgens artikel 17 is dit jou reg om voorafbesprekings en plekbesprekings te kanselleer, maar die maatskappy kan vereis dat jy ’n redelike bedrag betaal omdat jy kanselleer. Die maatskappy moet die aard van die goedere of dienste, die kennistydperk, die redelike moontlikheid om dit aan iemand anders te verkoop en die algemene praktyk van die betrokke bedryf in ag neem om die kansellasietarief uit te werk. Indien jy so siek is dat jy in die hospitaal opgeneem word of sterf, is geen kansellasietarief betaalbaar nie.

Volgens prof. Riëtte du Plessis, ’n regsdosent by Wits en voorsitter van die Verbruikerstribunaal in Gauteng, is die probleem hier egter dat die maatskappy ’n groter kansellasietarief as gewoonlik kan eis omdat die kans om jou reis aan iemand anders te verkoop, baie kleiner as gewoonlik is.

“Ons lewe nou in ’n “nuwe normaal” waarvoor niemand nog reëls gemaak het nie en daarom kan dit verbruikers baat om liewer op die gemene reg en Vis major (onafwendbare natuurramp [of Act of God]) te steun.”

Gemene reg

“Die gemene reg maak voorsiening vir onafwendbare natuurrampe (of Act of God) en vir gevalle soos nou, waar die staat die “nuwe” reg daarstel en afdwing. In hierdie geval kan jy dan jou geld terugeis en jou bespreking kanselleer omdat iets wat jy nie kon voorsien of keer nie, veroorsaak dat jy nie jou bespreking kan gebruik nie,” sê sy.

Du Plessis waarsku dat verbruikers egter in hierdie geval versigtig moet wees indien hulle gedurende die afgelope twee maande bespreek het.

“As jy bespreek het nadat jy reeds bewus was van die coronavirus, sal jy nie so maklik kan kanselleer en jou geld terug eis nie. Selfs al was die virus op daardie stadium nog net in die buiteland, was daar genoeg mediadekking om bewus te wees van die verwagte verspreiding wêreldwyd en die beperkings wat ingestel word. Daar was dus geen Vis major-redenasie in hierdie geval nie, aangesien dit geklassifiseer word as ’n “bekende gebeurtenis”.”

Wat jou kind se skool betref, kan die skool redeneer dat dit ook ’n slagoffer is van die “nuwe normaal” en probeer om die kontrak in stand te hou.

“Dit is belangrik om te onderskei tussen noodsaaklike of essensiële dienskontrakte (soos skool) en nie-essensiële kontrakte (vakansievlugte of hotelle).  Die skool sal ‘n beter verweer hê om voort te gaan met die kontrak,” meen Du Plessis.

Wat kan jy doen?

Wanneer jy onderhandel om te kanselleer en jou geld terug te kry, kyk eers wat die verskaffer aanbied. Sommige plekke sal jou geld terug betaal, terwyl ander ’n reisbewys aanbied wat jy later kan gebruik. Sommige lugdienste gee jou ook die geleentheid om jou besprekings gratis te skuif.

Dit is vir almal ’n nuwe normaal waarvoor daar geen reëls bestaan nie en ondernemings moet maar ook self leer wat hulle in die situasie kan doen. Dit gaan nie help om te skree en ongeskik te raak nie en liewer te probeer om die beste moontlike oplossing vir almal te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.