Verbruikersake: Kla oor onbillike pryse

(Foto: Artem Beliaikin/Unsplash)

Die kantoor van die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -Dienste het van 1 Maart verlede jaar tot 31 Mei vanjaar 1 758 klagtes oor pryse van goedere en dienste ontvang, waarvan 60% oor goedere gehandel het wat te koop aangebied is, maar waarvan daar nie voorraad was nie. Ina Opperman het gaan kyk wat gesê is by ʼn onlangse virtuele gesprek met belanghebbendes wat deur die departement van handel, nywerheid en mededinging saam met die Mededingingskommissie, Nasionale Verbruikerskommissie, die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -Dienste en Proudly South African aangebied is oor prysregulering.

Die gesprek was daarop gerig om verbruikers op te voed oor prysregulasies, prysstygings en prysbeheer en om die regulasies uit te lig waaraan ondernemings moet voldoen gedurende die pandemie. Verbruikers is aangemoedig om weerstand te bied teen onmededingende, onbillike en onregverdige pryspraktyke gedurende die pandemie.

“Die grendeltyd het verbruikers laat skuif na aanlyn inkopies, wat weer sy eie probleme gehad het en gelei het tot ʼn groot toename in die aantal klagtes oor aanlyn inkopies, met skurke wat verbruikers ook hier probeer besteel het,” het Magauta Mphahlele, Ombudsman vir Verbruikersgoedere en ‑Dienste, gesê.

Volgens die direkteur van die Sentrum vir Mededingingsreg en Ekonomie by die Universiteit Stellenbosch, prof. Willem Boshoff, is daar ʼn behoefte om die faktore wat prysstygings aandryf versigtig te oorweeg, veral waar pryse deur vraag gedryf word. Hy het oor die afgelope jaar baie stappe opgemerk wat gegrond is op soortgelyke regulasies wat ingestel is na natuurrampe.

“Ons moet nou ʼn ramp hanteer wat lank duur en groot struikelblokke bring. Aan die een kant moet jy onbillike prysstygings hanteer en aan die ander kant moet jy ook versigtig wees om vraag toe te laat om pryse effens op te stoot in sommige gebiede om voorraad te verseker. Ek dink dit is ʼn groot struikelblok vir die meeste entiteite, want hoe jy pryse hanteer, gaan baie ingewikkeld raak.”

Hy raai verbruikers aan om te onthou dat die entiteite net tot ʼn sekere mate kan help en dat hulle nie alle pryse kan monitor en bewus wees van alle gevalle nie. Daarom is verbruikersopvoeding so belangrik sodat verbruikers self kan besluit of iets verkeerd is. Boshoff sê dit is belangrik om te sorg dat daar meer ondernemings is wat handel dryf sodat die ekonomie aan die gang kan kom omdat dit sorg vir meer mededinging.

Sipho Mtombeni, ʼn analis by die Mededingingskommissie, sê die toekoms gaan interessant wees, aangesien ons daarna uitsien om die ekonomie te herstel en alle pogings aangewend moet word om dit te doen. “Die pandemie het gesorg dat ons alles weer deurdink en ʼn groter aantal klagtes hanteer. Gedurende die pandemie het die kommissie meer as 2 000 klagtes van verbruikers ontvang oor kleinhandelaars, verskaffers en apteke wat belangrike goedere en dienste verskaf.”

Joseph Selolo, maatskappysekretaris by die Nasionale Verbruikerskommissie, het beklemtoon dat die kommissie buiten prysstygings verskeie slegte goed in die verbruikersfeer gesien het. Daar was ook piramiedeskemas en aanlyn skelmstreke wat die kommissie moes stopsit.

“Ons het probeer om verbruikers te leer dat hulle hul eie eerste linie van verdedigers is deur seker te maak dat hulle net koop by winkels met ʼn goeie reputasie sodat hulle nie ingeloop word deur skelms wat voorgee om kleinhandelaars te wees nie.”

Kla hier oor buitensporige prysverhogings:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tino ·

Builders se dubbel muur prop was R57, week later R84 en die week daarna sommer R90

Rian ·

Daar behoort n webwerf te wees waar alle beduidende prysstygings aangemeld word en dié ondernemings moet dan onmiddelik geboikot word totdat pryse weer op aanvaarbare vlakke daal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.