Verbruikersake: Klasaksie vir verbruikers

Argieffoto

Die Universiteit Stellenbosch se regskliniek het vandeesmaand ʼn aansoek by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien om ’n klasaksie namens duisende verkulde verbruikers in te stel teen ʼn maatskappy wat aanlynlenings aanbied. Na bewering behandel die maatskappy die verbruikers teenstrydig met die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming. Ina Opperman verduidelik wat gebeur.

Verskeie verbruikers het die afgelope paar maande by die regskliniek gaan kla oor Lifestyle Legal se webwerwe wat lenings en/of gratis leningsverkrygingsdienste aanbied. Verbruikers word glo oorreed om ooreenkomste vir ongevraagde dienste te sluit en geld word dan onmiddellik van hul bankrekeninge verhaal.

Indien verbruikers daarin slaag om hierdie aftrekkings te staak, dreig en teister Lifestyle Legal hulle na bewering dat hulle op die kredietburos se swartlys geplaas gaan word en dat die maatskappy regstappe teen hulle gaan instel indien hulle nie betaal kragtens die ooreenkoms nie.

Altesaam 19 webwerwe is betrokke.

Volgens die regskliniek is die beweerde ooreenkomste gewetenloos, onregverdig, onredelik en onbillik gesluit ingevolge artikels 40, 41 en 48 van die Wet op Verbruikersbeskerming of andersins onwettig ingevolge die gemene reg. Die maatskappy se optrede om geld in te vorder, is volgens die regskliniek gewetenloos ingevolge artikel 40 van die wet of is andersins onwettig ingevolge die gemene reg.

Die regskliniek en agt verbruikers vra ’n interdik wat Lifestyle Legal beveel om die betrokke webwerwe te sluit, op te hou om bankrekeninge te debiteer en verbruikers te dreig. Die kliniek wil ook die klas laat sertifiseer sodat hy verbruikers in hierdie klasaksie teen Lifestyle Legal kan verteenwoordig. Verder word die hof ook versoek om te beveel dat alle geld wat onwettig van verbruikers se bankrekeninge verhaal is, aan hulle terugbetaal word en dat hulle vergoed word vir die verliese wat hulle gely het.

Vorige klasaksies

Die konstitusionele hof het drie jaar gelede beveel dat dit ongrondwetlik is om beslagleggingsbevele uit te reik sonder behoorlike regstoesig en dat hierdie bevele net uitgereik kan word deur ʼn hof in die omgewing waarin die skuldenaar woon.

Die saak is na die hoogste hof verwys nadat die regshulpkliniek by die Universiteit Stellenbosch ʼn aansoek ingedien het namens sestien Wes-Kaapse plaaswerkers. Hulle het klein salarisse verdien en het aansoek gedoen om klein lenings by SA Multi Loans. Toe die plaaswerkers agterstallig geraak het met hul terugbetalings, moes hulle nóg dokumente teken.

Op die ou end is verstekvonnisse teen hulle uitgereik en beslagleggingsbevele op hul salarisse is goedgekeur. Van die werkers se handtekeninge was vervals om die bevele te kry. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het vier jaar gelede in reaksie op die aansoek bevind dat dele van die Wet op Landdroshowe nie ooreenstem met die Grondwet nie omdat daar nie voldoende regstoesig was oor die uitreiking van die beslagleggingsbevele nie.

Ook ʼn slagoffer?

Tree in verbinding met die US Regskliniek op sy webwerf, www.sulawclinic.co.za, of bel Stephan van der Merwe, senior prokureur en notaris van die US Regskliniek, by 021 808 3600/2707.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

m.d.r. ·

Ek wonder of daar nie klasaksies ingestel kan word teen maatskappye wat beleggers ingeloop het met hulle geld nie—veral pensioen trekkers.
Wat van maatskappye soos Dynamic wealth wat na elf jaar darem ‘n hofdatum het iewers in 2020. vir een of ander eis. Intussen word ander instansies reuse bedrae betaal met ons geld om die saak op te los.
Met die Ovation debakel het my vrou na jare se gewag uiteindelik R250 uit ‘n belegging van R200 000 gekry.
Mens wonder darem waarom is daar ‘n Finansiele Dienste Raad…? Miskien is hulle uiteindelik maar van dieselfde stoffasie as die MRK-die menseregte kommissie. Die komissie en hulle lede is wel daar. maar van die “regte” is daar min tot niks te sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.