Verbruikersake: Lesse oor korttermynversekering

versekering-motors-huis-lewens

Foto: Kalhh/Pixabay.com

Die ombudsman vir korttermynversekering het R94,9 miljoen vir verbruikers teruggekry in 2019 volgens sy jaarverslag wat onlangs uitgereik is. Die kantoor het 10 367 klagtes ontvang, waarvan 9 167 opgelos is. Byna die helfte van die klagtes het gehandel oor motorvoertuigeise, 1 843 oor huiseienaarsversekering en 551 oor huisinhoudsversekering. Ina Opperman het gaan kyk watter lesse mens kan leer uit van hierdie klagtes om te voorkom dat jy in dieselfde bootjie beland.

Les nommer 1: Kom jou verpligtinge na

As jy nie die voorwaardes van jou korttermynversekeringspolis nakom nie, kan dit jou duur te staan kom wanneer jou eis afgewys word. Of jy nou geweet het van die verpligtinge of dit bloot net ignoreer, gaan jou beursie maar dun wees agterna. Die feit dat jou premies op datum is, beteken nie jou versekeraar gaan beslis uitbetaal wanneer jy eis nie.

Volgens Peter Nkhuna, senior assistent-ombudsman, kom verbruikers dikwels nie die volgende verpligtinge na wanneer hulle ’n motorvoertuig verseker nie:

  • Hulle gee nie altyd al die werklike feite nie;
  • Hulle maak nie altyd seker dat net bestuurders met ’n geldige rybewys die voertuig bestuur nie;
  • Hulle bestuur onder die invloed van alkohol;
  • Hulle bestuur roekeloos;
  • Hulle maak nie seker dat hul voertuie padwaardig is nie; en
  • Hulle sorg nie dat die voertuig goed onderhou en in ’n goeie werkende toestand is nie.

Wanneer hierdie verbruikers ’n eis instel, word dit dan gewoonlik afgewys omdat die versekeraar nie aanspreeklikheid aanvaar nie. Die voertuig is dalk op sigwaarde verseker, maar is in werklikheid nie gedek nie omdat die verbruiker nie sy verpligtinge nagekom het soos uiteengesit in die voorwaardes van die polis nie. Jou eie optrede lei dan daartoe dat jou eis afgewys word.

Een van die klagtes, wat verlede jaar op die ombudsman se tafel beland het, wys hoe belangrik dit is om jou voertuig te onderhou. Die verbruiker se motor het aan die brand geslaan terwyl hy daarmee gery het. Nadat die brand geblus is, was hy nie seker wat die oorsaak van die brand was nie, maar hy het ’n eis ingestel by sy versekeraar.

Die versekeraar het in sy ondersoek na die eis gevind dat die voertuig swak onderhou is en dat die brand die gevolg van swak onderhoud was. Die versekeraar het bevind dat:

  • Die brandskade net in die enjinkompartement was;
  • Dit gelyk het asof die brandskade in die binnekant van die enjin ontstaan het;
  • Daar was bewys dat die enjin oorverhit het weens ’n gekraakte, stukkende plastiekpyp;
  • Daar was ook bewyse dat een van die verkoelingspype met draad vasgebind is en dat die seël aan die punt beskadig is;
  • Daar was ook bewyse van gevorderde slyting, soos olie wat lek deur die turboaanjaer se seëls; en
  • Die assessor het bevind die brand is direk veroorsaak deur die swak toestand van die voertuig en dat die brand nie sou ontstaan het indien die voertuig behoorlik onderhou is nie.

Die versekeraar het die verbruiker se eis afgewys aangesien een van die polisvoorwaardes is dat die versekeraar nie verantwoordelik is vir enige skade wat deur swak onderhoud veroorsaak is nie. Die verbruiker was nie tevrede hiermee nie en het by die ombudsman gaan kla. Die ombudsman het egter saamgestem met die versekeraar dat die eis afgewys word.

Wat leer ons hieruit?

  • As jy nie sorg dat jou voertuig behoorlik onderhou word nie, sal eise wat uit swak onderhoud voortspruit, nie goedgekeur word nie.
  • Kom jou verpligtinge na om seker te maak dat jou versekeringsdekking nie gekanselleer word nie.
  • Lees jou polis en maak seker jy kom al die voorwaardes na.

Les nommer 2: Jou geld of jou foon

’n Verbruiker se Samsung S7 Edge is gesteel gedurende ’n inbraak, maar die versekeraar kon nie die selfoon vervang met dieselfde een nie, omdat dit nie meer beskikbaar was nie. Die versekeraar het dit egter vervang met ’n Samsung Galaxy S8. Die verbruiker wou egter hê die versekeraar moet hom die kontantbedrag waarvoor die foon verseker was, uitbetaal. Toe die versekeraar weier, het hy by die ombudsman gaan kla.

Die verbruiker het vroeër een van sy versekeraar se verkoopspersoneel gevra hoeveel uitbetaal sal word as iets met sy selfoon gebeur en hy is meegedeel dat die versekerde bedrag R15 000 is, minus sy bybetaling van R500.

Die ombudsman moes dus besluit of die aanbod van die versekeraar om die selfoon te vervang, beskou kan word as vergoeding vir skade deur die versekeraar, aangesien dit die versekeraar se plig is om die verbruiker te plaas in die posisie waarin hy was net voordat die verlies of skade plaasgevind het.

Volgens Darpana Harkison, senior assistent-ombudsman, lui die polisbewoording duidelik dat eise geskik word deur kontantbetalings, herstelwerk, vervanging of enige kombinasie hiervan. Die maksimum versekerde waarde word bereken minus die betalings wat die verbruiker volgens die kontrak moet maak, sowel as bedrae met betrekking tot dubbelversekering en onderversekering.

Huisinhoud, soos selfone, verloor mettertyd hul waarde en aangesien tegnologie so vinnig vooruitgaan, is dit nie altyd so maklik om die verbruiker te plaas in presies dieselfde posisie wat hy voorheen was nie. Dus word die beginsel uitgebrei sodat die versekeraar die produk kan vervang met ’n nuwe een wat soortgelyk is aan die een wat gedek is.

Die ombudsman het die verbruiker dus aangeraai om die foon te aanvaar aangesien die versekeraar die reg het om te besluit hoe om die verbruiker vir sy verlies te vergoed.

Wat leer ons hieruit:

  • Die versekeraar besluit op grond van jou polisvoorwaardes hoe om jou te vergoed vir jou verlies.
  • Die versekeraar kan jou goed vervang met ’n soortgelyke ding en is nie verplig om kontant aan jou uit te betaal nie.

Kla hier:

As jy wil kla oor korttermynversekering, besoek die webwerf by www.osti.co.za of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.