Verbruikersake: Lesse te leer uit klagtes oor korttermynversekering

weer-storms-huis-dakloos-versekering

Argieffoto: Blitzmaerker/Pixabay.com

Die kantoor van die ombudsman vir korttermynversekering het onlangs sy jaarverslag bekend gestel. In die vorige boekjaar het die kantoor 13 162 klagtes ontvang en 9 797 nuwe klagtes geregistreer, waarvan 250 verband gehou het met Covid-19, 197 met versekering teen sakeonderbreking en 62 met reisversekering. Die verslag het ook opsommings van verbruikersklagtes bevat, wat baie waardevol is vir verbruikers om uit te leer. Ina Opperman het gaan kyk waaruit ʼn mens kan leer.

Die klagtes waaruit ʼn mens die meeste kan leer in die jongste jaarverslag het gehandel oor skade wat tydens storms veroorsaak is aan mense se huise. In 2021, het 50% van al die verbruikers wat oor huiseienaarsversekering gekla het, juis hieroor of oor skade weens ander natuurrampe gekla.

Hulle klagtes is afgewys omdat die skade eintlik veroorsaak is deur aftakeling oor ʼn lang tyd, geen onderhoud nie, slytasie en foutiewe ontwerp, konstruksie of vakmanskap.

Soos alle ander kontrakte, is korttermynversekeringspolisse ook ʼn kontrak wat bepaalde bepalings en voorwaardes bevat wat die grondslag vorm van die dekking wat verskaf word. Die meeste huiseienaarsversekeringspolisse bevat die gebeurtenisse, soos ʼn storm, wat die versekeraar sal dek en die uitsluitings wat van krag sal wees indien die versekeraar nie die eis betaal nie, al het die gebeurtenis wel plaasgevind, sê die ombudsman.

In die geval van ʼn storm sal die uitsluitings byvoorbeeld aftakeling oor ʼn lang tyd, te min onderhoud, slytasie en foutiewe ontwerp, konstruksie of werkmanskap insluit. Die voorwaardes van die polis sal ook aandui wat die verbruikers se verpligtinge is, soos om die eiendom en geboue te onderhou om verlies of skade te vermy.

Wanneer jy dan ʼn eis indien, moet jy wys dat die eis binne die grense van die polis val, soos om te wys dat die skade veroorsaak is deur die gebeurtenis waarteen jy verseker is, soos ʼn storm. Sommige polisse is gegrond op uitsluitings en bevat nie ʼn lys van die gebeurtenisse waarteen jy verseker is nie, maar die meeste polisse dui spesifiek aan watter gebeurtenisse gedek word.

Wanneer ʼn versekeraar ʼn eis afwys omdat dit uitgesluit is, is die bewyslas op die versekeraar om te bewys dat die skade veroorsaak is deur iets wat uitgesluit is. Sou ʼn versekeraar byvoorbeeld ʼn eis afwys op grond van aftakeling oor ʼn lang tyd, moet die versekeraar bewys dat dit inderdaad so is, sê die ombudsman.

Die storm wat ʼn muur laat omval het

ʼn Verbruiker het ʼn eis ingedien omdat haar grensmuur omgeval het gedurende ʼn storm. Sy het gesê die muur het vir 15 jaar gehou wat sy die eiendom besit en die storm was die enigste rede dat dit omgeval het.

Die versekeraar het egter die eis afgewys op grond daarvan dat die muur geleidelik verweer is en ʼn foutiewe ontwerp en vakmanskap gehad het. Die versekeraar het hier gesteun op die verslae van ʼn assessor en ʼn ingenieur, wat albei aangedui het dat die muur nie gebou is volgens die nasionale bouregulasies nie en dat die oppervlak geleidelik verweer is en dus nie sterk genoeg was om die storm te weerstaan nie.

Die ingenieur het gesê as die muur volgens die nasionale standaarde gebou was, sou dit nie omgeval het nie. Die verbruiker het egter nie saamgestem nie en gesê sy het nie geweet van die swak bouwerk aan die muur nie en dat, indien die versekeraar daarom haar eis wil afwys, die versekeraar die eiendom moes ondersoek het voordat hy dit verseker het.

Die ombudsman het bevind daar was geen plig op die versekeraar om die eiendom te inspekteer voordat dit verseker word nie. Enige inspeksie of waardasie word gedoen om te kyk of die verbruiker wat ʼn huislening uitneem en die bank waarde vir sy geld kry.

Volgens die bewyse was die skade aan die muur moontlik te wyte aan die uitsluitings en nie die storm nie. Die ombudsman het saamgestem dat die eis afgewys word.

Waterskade aan houtvloere

ʼn Verbruiker het ʼn eis ingedien vir storm- en vloedskade aan die houtvloere in sy huis omdat die pomp van die borrelbad ophou werk het weens reënskade. Hy het sy diensverskaffer gevra om na die pomp te kyk en hy het gevind dat daar waterskade was wat waarskynlik deur die reën veroorsaak is. Die water het die bedrading beskadig en die pomp het uitgebrand.

Die versekeraar se diensverskaffer het ook na die skade gekyk en gevind dat die laers besig was om vas te brand en dat daar nog ʼn foutiewe onderdeel was. Volgens hom het die skade plaasgevind oor ʼn lang tyd en was dit die gevolg van normale slytasie.

Die versekeraar het die eis afgewys op grond van sy polisbewoording wat onder die opskrif uitsluitings lui dat die polis nie dekking verskaf vir skade wat direk of indirek veroorsaak is deur slytasie, waardevermindering, vog of ander probleme wat mettertyd opduik nie. Die polishouer moet ook sorg dat hy alle moontlike maatreëls tref om verlies of skade te keer.

Dit is ook die verbruiker se plig om te verseker dat die bouwerk onderhou word en dat dit veilig is om die minimum verlies of skade te verseker.

Die ombudsman het besluit dat die eis wel uitbetaal moes word, omdat die versekeraar se diensverskaffer nie die stukkende onderdeel getoets het nie en daarom kon die versekeraar nie op sy bevindings vertrou nie. Die versekeraar het saamgestem dat die toets op die ou end die beste bewys sou wees van skade aan die pomp.

Aangesien die polis gegrond is op uitsluitings, moet die versekeraar bewys dat die skade aan die pomp heel moontlik deur slytasie veroorsaak is, wat die versekeraar nie gedoen het nie. Die versekeraar het ingestem om die eis te betaal.

Die eis vir ʼn stukkende geiser

ʼn Verbruiker het ʼn eis ingedien om die geiser in sy huis te vervang omdat dit van die muur af geval het, maar sy versekeraar het die eis afgewys omdat die polis net dekking verleen vir geisers wat bars, lek of oorloop of as die geiser se klep of ander onderdele gebreek het.

Volgens die versekeraar het die verbruiker nie enige rede vir die geiser wat van die muur afgeval het verskaf nie en daarom is dit nie gedek nie. Die verbruiker het egter in sy klagte aan die ombudsman gesê dat ʼn storm die geiser losgeruk het en dat dit toe van die muur afgeval het.

Die versekeraar se verweer was dat die verbruiker sy aanvanklike beskrywing van die rede verander het om dit binne die grense van die polis te bring en die versekeraar het ook ʼn weerverslag ingedien vir die dag wat wys dat daar nie ʼn storm was nie.

Toe die ombudsman na die aanvanklike eis-oproep geluister het, was dit duidelik dat die verbruiker net gesê het dat die geiser van die muur af geval het. Die verbruiker het ook geen bewyse gelewer dat ʼn storm die skade veroorsaak het nie.

Die ombudsman sê die versekeraar is net verplig om te betaal indien die eis binne die grense van die polis val. Dit is die verbruiker se plig om hom te vergewis van die polisbewoording en met die versekeraar te praat as hy nie gelukkig is met die uitsluitings nie.

Die verbruiker kon ook nie staatmaak op die dekking vir goedere wat per ongeluk breek nie, omdat sy polis net skade dek aan glas, spieëls of baddens en toilette. Die ombudsman het besluit die versekeraar hoef nie die eis uit te betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos ·

Gelukkig het ek in my bloedjong dae gesien dat hierdie organisasies parasities optree. Baie vinnig om ‘n polis aan jou te verkoop totdat jy eis. Daarom het ek vroeg-vroeg al geld gespaar en belê, sodat ek nou myself kan verseker. Geen verskonings, geen ekstra verhoging omdat ander valse/ vergrote eise instel nie, geen versekeraar se gulsigheid nie. En as ek nie teen myself eis nie, dan is die geld nog steeds myne. Korttermynversekering – NEE DANKIE!
As mens nou net iets teen SARS ook kon doen….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.