Verbruikersake: Loop lig vir Swart Vrydag

Inkopiegangers wag in ʼn lang ry vir ʼn winkel om oop te maak in Canal Walk-winkelsentrum op Swart Vrydag in 2017. Foto: Facebook via Game Stores

Verbruikers is nou al besig om planne te maak om Donderdagaand te begin toustaan by winkels sodat hulle Vrydagoggend heel eerste van die Swart Vrydag-winskopies kan koop. Soos baie ander bemarkingsfoefies het Swart Vrydag begin in die VSA, waar dit op die laaste Vrydag van November gehou word om die begin van die Kersinkopieseisoen in te lui. Met die ekonomiese groei in Suid-Afrika wat egter nie so goed lyk nie en pryse, soos die petrolprys, wat aanhou styg, terwyl afleggings ook oral kop uitsteek, is dit egter nie ’n goeie tyd om jou kredietkaart blink te vryf nie. Ina Opperman gee raad hoe jy Swart Vrydag moet aanpak.

Verbruikers wat al moeg is daarvoor om hul sente om te draai en graag ’n bietjie koopterapie wil gebruik om die jaar se swaarkry af te skud, sien baie uit na Swart Vrydag. Hulle word oorval met advertensies vir al die winskopies waarna hulle kan uitsien, maar dit sal nie ’n goeie idee wees om jou te laat opklits om te koop dat die biesies bewe nie.

Dit is so dat jy hier en daar ’n paar rand kan spaar as jy vooraf jou huiswerk doen, maar jy moet ook onthou dat niemand ’n onderneming begin om vir jou goed gratis te gee nie. Swart Vrydag is net ’n bemarkingsgeleentheid om jou winkel toe te lok met spesiale aanbiedings waar jy hopelik ook geld op ander goed (wat jy nie nodig het nie) teen normale pryse sal uitgee.

Verlede jaar het mense by sommige kleinhandelaars vuis geslaan – oor toiletpapier. Is dit werklik nodig? Kleiner items, soos toiletpapier, word dalk goedkoper verkoop, maar die hoeveelhede word beperk.

Beplan jou Swart Vrydag-kopies

Jy kan seker maak dat jy by die Swart Vrydag-winskopies baat deur jou inkopietog behoorlik te beplan. Besluit vooraf wat jy nodig het en kyk hoeveel die goedere tans kos. Kyk dan na die advertensies vir Swart Vrydag om te sien of jy werklik soveel minder gaan betaal.

Stel ’n begroting op vir die dag en hou daarby deur seker te maak jy vat net jou debietkaart met die bedrag wat jy kan bekostig wat daarin beskikbaar is. Los jou kredietkaart by die huis en as jy dit nie gaan nodig kry nie, jou identiteitsdokument ook, sodat jy nie in die versoeking gelei word om op krediet te koop nie.

Moenie op krediet koop nie

Dit is belangrik om nie met krediet vir jou Swart Vrydag-inkopies te betaal nie, aangesien die besparings wat jy wel vind, uitgekanselleer sal word deur die koste van die krediet. Dit is ook makliker om oor te bestee op krediet as wanneer jy kontant betaal.

Volgens die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) het 9,6 miljoen Suid-Afrikaanse verbruikers nie goeie kredietrekords nie omdat hul kredietbetalings drie of meer maande agterstallig is, hulle as slegte betalers gelys is by kredietburo’s of ’n hofbevel teen hulle het vir slegte skuld of onder administrasie is.

Jimmy Golele, waarnemende bestuurder vir opvoeding en kommunikasie by die NKR, wys daarop dat krediet terugbetaal moet word met rente en heffings, wat dit baie duurder maak. Hy raai verbruikers aan om net krediet te gebruik wat hulle kan bekostig, aangesien onbetaalde krediet tot ’n swak kredietrekord lei, wat kan keer dat hulle krediet kry wanneer dit werklik nodig is.

Begroot vir Swart Vrydag

“As jy nie begroot vir Swart Vrydag nie, kan jy impulsief koop wat jy nie kan bekostig nie en ’n swak kredietrekord kry,” sê Golele. ’n Begroting sal voorkom dat jy na jou inkopietog aan koperspyt ly en met ’n klomp goed wat jy nie nodig het nie, sit.

Hy meen verbruikers moet onthou Kersfees is nog om die draai en as jy nou nie wys koop nie, sal jy nog volgende jaar daarvoor betaal. “Maak seker jy betaal eers jou verblyf, vervoer, kruideniersware, skoolgeld en versekeringspremies voordat jy op Swart Vrydag geld uitgee. As jy geld beskikbaar het, is dit beter om dit te spaar of belê.”

Wenke vir Swart Vrydag

Hou hierdie wenke in gedagte vir Swart Vrydag-inkopies:

  • Stel ’n begroting op wat jy kan bekostig en hou daarby.
  • Moenie geld bestee wat jy nie het nie.
  • Moenie op krediet koop nie, want die koste van krediet kanselleer die besparing uit.
  • Moenie impulsief koop nie.
  • Maak ’n lysie van wat jy wil koop en hou daarby.
  • Onthou jy gaan daardie ekstra geldjies nodig kry in 2019.
  • Vergelyk pryse voordat jy koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.