Verbruikersake: Maak direkte bemarking oor die foon jou ook gek?

(Foto: Moose Photos/Pexels)

Aanhoudende oproepe van direkte bemarkers kan ʼn mens gek maak. Hulle probeer om alles onder die son aan jou te verkwansel en sommige bemarkers raak selfs ongeduldig en ongeskik as jy nie wil luister wat hulle jou probeer vertel nie. Soms raak dit so erg dat jy maar instem om te koop, net om later jou eie nek te wil omdraai omdat jy nou moet betaal vir iets wat jy in die eerste plek nie wou hê nie. Gelukkig beskerm die Wet op Verbruikersbeskerming jou regte wanneer dit by direkte bemarking kom. Ina Opperman vertel meer oor hoe dié wet jou beskerm.

Definisie van direkte bemarking

Volgens die Wet op Verbruikersbeskerming is direkte bemarking wanneer iemand jou kontak om direk of indirek iets te koop of geld te skenk. Dit is egter nie direkte bemarking as jy ʼn onderneming bel en hulle bel jou terug nie. Dit is ook nie direkte bemarking as jy op ʼn advertensie reageer of iets in ʼn winkel koop nie. Direkte bemarking moet van die maatskappy af kom, sonder dat jy daarvoor gevra het.

Die beskerming wat die Wet op Verbruikersbeskerming jou bied

Die wet beskerm jou reg op privaatheid en jou reg tot keuse in artikels 11 en 16, saam met regulasie 4 en 12 wat bepaal wanneer verkoopsmense jou mag kontak, wat jy kan doen om direkte bemarking te keer en hoe jy ʼn transaksie kan kanselleer as jy wel ingee en iets koop.

Artikel 11

Volgens artikel 11 het jy die reg om direkte bemarking te beperk. Jy kan weier om direkte bemarking toe te laat, eis dat die maatskappy ophou om jou te kontak en direkte bemarking blokkeer. Dit beteken jy kan vereis dat direkte bemarkers jou nie weer kontak nie en jou naam van hul lyste afhaal.

Artikel 11 bepaal ook dat iemand wat direkte bemarking magtig, beheer of uitvoer, prosedures moet instel wat dit vir jou makliker sal maak om te eis dat hulle ophou om jou te kontak en dat jy nie weer gekontak word nie. Direkte bemarkers mag jou ook nie ʼn fooi laat betaal om jou naam te verwyder nie.

 “Geen kontak”-register

Die wet maak voorsiening vir ʼn “Geen Kontak”-register waar verbruikers met hul identiteitsnommers, adres of alle besonderhede kan registreer as hulle nie deur direkte bemarkers gekontak wil word nie. Die Nasionale Verbruikerskommissie het egter steeds nie dié register aan die gang gekry nie.

Indien die register ingestel word, sal die blok binne 25 dae nadat jy geregistreer het aktief wees. Ondernemings sal dan, tensy hulle kan bewys dat jy ingestem het tot direkte bemarking, moet aanneem dat alle ander verbruikers wel geregistreer het om direkte bemarking te keer. Direkte bemarkers sal ʼn fooi moet betaal om by die register te registreer en hul besonderhede jaarliks moet opdateer.

Verbruikers stem gewoonlik op skrif in tot direkte bemarking, wanneer hulle byvoorbeeld aansoek doen vir krediet by ʼn winkel en ʼn blokkie moet merk dat hul inligting wil ontvang oor spesiale aanbiedings of nuwe produkte. Indien jy dit doen, mag net dié betrokke winkel jou egter kontak en nie ander maatskappye nie.

Wanneer mag direkte bemarkers jou bel?

Artikel 12 en kennisgewing 34180, wat in die Staatskoerant gepubliseer is, maak dit duidelik dat direkte bemarkers jou nie op Sondae en openbare vakansiedae mag kontak nie, op weekdae net tussen agtuur in die oggend en agtuur in die aand en tussen nege-uur en eenuur op Saterdae. Hulle mag jou egter op ander tye kontak indien jy daartoe ingestem het. Hierdie regulasie geld ook vir e-posse.

Direkte bemarking in jou posbus

Volgens regulasie 4 van die wet kan jy op jou posbus aandui dat jy nie direkte bemarkingsmateriaal wil hê nie. Niemand mag dan hierdie materiaal in jou posbus sit of dit selfs daar naby in jou hek druk nie.

Jou afkoelperiode om te kanselleer as jy wel iets koop

Artikel 16 bepaal dat jy ʼn afkoelperiode het as jy iets tydens ʼn direkte bemarkingstransaksie gekoop het. Jy kan die transaksie op skrif kanselleer binne vyf dae nadat jy dit beklink het of nadat die produk afgelewer is, wat ook al laaste gebeur het. Jy moet kan bewys dat jy dit binne vyf dae gedoen het, maar jy hoef nie ʼn rede vir die kansellasie te gee of ʼn boete te betaal omdat jy gekanselleer het nie.

Die onderneming moet dan enige geld wat jy betaal het binne 15 werksdae terugbetaal as die produkte nog nie afgelewer is nie, of indien die produkte wel afgelewer is, binne 15 nadat hy die produkte terugontvang het. Indien jy die produkte al gebruik het, kan die onderneming ʼn billike fooi hef daarvoor.

Hierdie artikel is egter nie van toepassing op ʼn transaksie indien artikel 44 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies daarop van toepassing is nie.

Kla hier:

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor ondernemings wat hulle nie by hierdie bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Braam ·

Hoe raak ek onslae van die advertensies op Facebook wat my so teister. Om dit te rapporteer help niks.

VaalDonkie ·

Los maar. Jy gaan nerens kom nie. Ignoreer maar net waarvan jy nie hou nie tot Facebook “leer” om vir jou ander goed te wys. Die groot fout is om enigsins kommentaar te lewer daarop. Dis die beste raad wat ek kan gee. Ek kry byvoorbeeld die heeltyd stories oor China se elektriese motors en “plant-based meats” want ek het in die verlede my mening gelug daaroor op soortgelyke advertensies. Facebook weet nie of jy positief of negatief reageer nie. Hulle weet nie jy reageer op sus en so, en dan kry jy meer daarvan.

Oom Jaap ·

Die advertensies op Facebook is die rede hoekom ons nie hoef te betaal om dit te gebruik nie.
Dis dieselfde met ander dienste soos bv Google.

Manie ·

Ek het al vrede gemaak daarmee dat ek nie direkte bemarking en mense wat jou verpes kan stop nie, ek antwoord die foon en wanneer hulle begin gesels, sit ek my foon neer en gaan voort met waarmee ek ookal besig is. Laat hulle maar rustig hul tyd en geld mors met die eie gesprek.

VaalDonkie ·

Ek doen dieselfde as hulle my nie kans gee om NEE te se nie. As hy nie na my wil luister nie, dan luister ek nie na hom nie.

groenboer ·

Dit is ‘n metode wat werk soos ‘n bom. As almal dit sou doen, stop telebemarking feitlik oornag.

Elma ·

Die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm MY vir seker nie. Ek kry steeds oproepe, tot 12 op n dag. Mens kan maar die nommers blok, dieselfde plek bel my bloot van n ander nommer af. Ek gaan nou name en shame, IPS HEALTH is n gewoonte misdadiger! Hulle maak my GEK. Ek wil soos Eben aangaan!

Nierkie ·

Mens kan amper nie sonder die Truecaller APP klaarkom nie. Dan kan mens sien of dit ‘n Telemarketer is wat op ongelee tye bel en gevolglik word hulle lekker geblok.

Manie ·

As iemand nie in my telefoon lys is of my foon nie aandui vanwaar die oproep kom nie, hanteer ek dit summier as ‘n “spam call”.

RS ·

Ja! Home choice is een van hulle. Ek word tot 4 of 5 keer n dag gebel. Dadelik blok ek die nommer, maar hul vind net nog n nommer om van te bel elke keer.

Klaar me Maroela ·

Blok die nommer REEKS. Hulle bel altyd van ‘n nommer af waar die laaste 4 nommers soms verskil, blok die nommer reeks.

Nommer 7 ·

Ek begin dadelik gesels. Hoe gaan dit? Waar bly jy? Hoe is die weer daar? Het jy broers of suster? Wat is jou stokperdjie? ……. Totdat hulle die foon neersit.

groenboer ·

Ek kry voortdurend eienaardige oproepe waarin ‘n opgeneemde stem vir my sê “This is an important consumer announcement” en dan sny die oproep outomaties af, sonder enige verdere inligting of advertensie. Kry soms tot vyf van hulle per dag. As ek die nommer blokkeer het ek weer vrede vir ‘n paar weke, en dan begin dit van voor af; deesdae dikwels van ‘n geheime nommer, sodat ek dit nie kan blokkeer nie.

Ek wonder wat die doel van die hele ding sou wees. Hulle adverteer immers niks nie. Dalk bloot ‘n manier om te toets of my nommer aktief is? Geen mens sal weet nie.

En oor ‘n jaar of twee bel die DA seker ook weer my foon warm.

“Vlug na berg of woud
dink jy dat daar geeneen is?
Dat jy eindelik alleen is?
Ag, verspieders loer op Venus!”

– Koos du Plessis, Spore op die Maan.

PieterJ ·

Ek sê net een maal mooi “nee dankie”. Dan kies ek tuseen ‘n baie duidelike en baie minder mooi “nee” of ek los net die foon op die tafel sodat die ander kant net met vars lug praat.

quartus ·

Net mense wat my toestemming het mag my bel. Ek antwoord geen ander oproepe nie. Eenvoudig soos dit

Gawie ·

Maak so om nie meer oproepe te ontvang nie:

Gaan na die Direct Marketing Association of South Africa se webtuiste.

Kies die “Register on the Opt Out Service”
Vul jou besonderhede in.

Ek het dit al ‘n paar jaar gelede gedoen en dit het vir my gewerk. Ek het omtrent nog nie weer ‘n oproep ontvang nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.