Verbruikersake: Maak seker jou versekering is op datum

versekering-motors-huis-lewens

Foto: Kalhh/Pixabay.com

Verbruikers se beursies raak al hoe dunner soos die afsonderingstydperk langer word en versekering is een van die dinge op ’n klomp van die verbruikers se begroting wat vir baie mense begin lyk na ’n nuttelose uitgawe. Dit is egter nie ’n goeie idee om jou versekering te staak nie, want as iets nou moet gebeur, terwyl jy al klaar platsak is, kan die gevolge jou finansieel finaal ruïneer. Die gedwonge tuisblyery bied ook ’n gulde geleentheid om te sorg dat jou huis- en huisinhoudversekering bygewerk is. Ina Opperman kyk na wat kundiges jou aanraai om te doen.

Met die beste van tye betaal verbruikers hul versekeringspremies met ’n lang gesig en om gereeld jou polis na te gaan, is gewoonlik ook nie hoog op die lys van dinge waaraan verbruikers graag aandag skenk nie. Dit is egter belangrik om dit wel te doen in die geval van huis- en huisinhoudversekering om seker te maak jy is nie onderverseker nie. Jy wil beslis nie uitvind dat jy onderverseker is eers wanneer jy moet eis nie.

As jy klaar kaste reggepak het en allerhande los werkies in en om die huis gedoen het waarvoor jy nooit tyd het nie, kan jy gerus die geleentheid tydens die afsondering gebruik om ook jou polisse na te gaan en seker te maak dat dit bygewerk is, sê Chris Cilliers, uitvoerende hoof en medeprinsipaal van Lew Geffen Sotheby’s International Realty in die Wynland.

“Veral ouer huiseienaars het polisse wat jare lank nie verander het nie en aangesien hulle teen hierdie tyd al afgetree het en ’n vasgestelde pensioen ontvang, kan dit hulle finansieel ruïneer wanneer die uitbetaling van ’n eis baie minder is as die vervangingswaarde.

“Ouer mense het dikwels nie ’n idee van die waarde van hul huise nie en het waarskynlik veertig jaar gelede omtrent R50 000 daarvoor betaal. Aangesien hulle oortuig is dat hulle daar gaan bly totdat hulle sterf, is hulle nie voorbereid op iets soos ’n brand nie.”

Terwyl eienaars met ’n huisverband ten minste versekering moet hê wat die uitstaande bedrag dek, vergeet ouer mense wie se huise afbetaal is, gewoonlik om te sorg dat hul huisversekering voldoende is.

“Huiseienaars moet begryp dat hulle moet sorg vir voldoende dekking om die huis te vervang en nie net die markwaarde nie, saam met al die inhoud. Hulle moet ook sorg dat waardevolle goed in die huis gespesifiseer word.”

Frans Labuschagne, direkteur van FJL Consultants, ’n makelaarsfirma van Kaapstad, stem saam en benadruk dat huiseienaars hul huiswerk moet doen en sorg dat hul polisdekking verleen wat die beste by hul behoeftes pas.

“Al is die standaard dekking vir alle versekering hoofsaaklik dieselfde, is daar tog verskille met verskillende voordele wat gebied word op sekere polisse wat jou behoeftes beter sal pas as ander. Die maniere waarop eise hanteer word, verskil ook aangesien sommige versekeraars strenger by hul onderskrywer se voorwaardes hou, terwyl ander meer buigsaam is en meer geneig om te onderhandel.”

Maak seker jou versekering is voldoende

Volgens Labuschagne moet die volgende dinge akkuraat waardeer word:

  • Vaste toebehore en toerusting;
  • Vaste ontspannings- en ornamentele strukture;
  • Plaveisel van enige aard, maar nie gruis nie;
  • Grensmure en ander mure; en
  • Hekpale en hekke, insluitende hekmeganismes en heinings.

Hy raai huiseienaars ook aan om altyd die natuurlike omgewing van die huis in ag te neem wanneer hulle hul huise verseker.

“Indien jy in ’n gebied bly wat bekend is vir ’n hoë risiko vir brande of waar vloede voorheen voorgekom het, is dit belangrik om voldoende dekking te hê om finansiële verliese te keer. Die laaste ding wat jy wil hanteer wanneer jy klaar deur die trauma is om jou huis en al jou besittings in vlamme te sien opgaan, is groot rekeninge en finansiële spanning omdat jy nie voldoende verseker was nie.”

Afhangende van die gebied waar jy bly en die aard van die brand, kan jy ook ’n rekening kry van die munisipaliteit vir hul werk om die brand te blus. Dit is belangrik om te weet wat so ’n ramp sal kos voordat dit gebeur, veral as jou versekering nie bygewerk is nie.

Volgens Cilliers geld dieselfde vir huisinhoudversekering en moet alles in jou huis verseker wees vir die bedrag wat dit nou sal kos om dit te vervang en nie vir die bedrag wat jy daarvoor betaal het nie. Sy raai verbruikers ook aan om alle belangrike dokumente, soos identiteitsdokumente, paspoorte en polisdokumente, sowel as noodnommers, in ’n veilige plek te hou sodat jy presies weet waar dit is in die geval van nood.

Dis nie lekker om aan hierdie soort dinge te dink terwyl jy al klaar bang is vir die koronavirus nie, maar dit is nou ’n goeie tyd om juis daaraan te dink en werk te maak daarvan terwyl jy tyd het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.