Verbruikersake: ’n Selfoonles van die Ombudsman

Foto ter illustrasie. (Foto: William Iven/Unsplash.)

Die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste het volgens sy jaarverslag wat vandeesweek uitgereik is, in 57% van klagtes wat afgehandel is in die guns van verbruikers beslis. Die kantoor het 9 529 klagtes ontvang, vergeleke met 8 261 in die vorige jaar. Die meerderheid, 95%, was oor goedere, dienste en ooreenkomste, met 39% van die klagtes oor goedere wat foutief of beskadig is, 33% wat met swak diens verband hou en 22% oor ooreenkomste.

Al het minder verbruikers dié keer gekla oor dienste, was klagtes oor diens steeds in die meerderheid met 18%. Hierdie klagtes het gehandel oor goedere wat nie voldoen aan verwagtinge nie, kansellasie van dienste en buitensporige pryse. Die naasmeeste klagtes was oor elektriese toestelle (13%), gevolg deur selfone (11%), meubels (9%), rekenaars en rekenaartoerusting (5%) en klere (4%). Klagtes oor boumateriaal, telekommunikasie en satellietdienste, voedsel en drank, tyddeel, skoene, gimnasiums, hardeware en huisdekor is ook ontvang. Ina Opperman het gaan kyk na een van die lesse wat verbruikers kan leer uit die klagtes wat in die verslag uitgelig word.

Kansellasiefooie vir selfoonkontrak te hoog

Die klagte:

ʼn Verbruiker het sy selfoonkontrak, wat in November 2017 uitgeneem is, in Junie verlede jaar gekanselleer omdat die verskaffer sy voorwaardes eensydig verander het deur die maandelikse kontrakfooi te verhoog.

Die verbruiker het gekla omdat hy gemeen het die kansellasiefooi wat gehef is, was te hoog, aangesien dit meer sou wees as wat hy sou betaal het as hy met die kontrak sou voortgaan, wat beteken dat die verskaffer artikel 14(2) en regulasie 5 van die Wet op Verbruikersbeskerming oortree deur dit vir hom onmoontlik te maak om die kontrak te kanselleer.

Die verweer:

Die diensverskaffer het aangevoer die kansellasiefooi voldoen wel aan die bepalings van die wet en dat die ooreenkoms aandui dat die balans van die selfoon se prys betaalbaar sal wees indien die kontrak gekanselleer word. Kontrakselfone word gesubsidieer en die subsidievlak hang af van die selfoon en plan wat jy kies; duurder selfone en planne word meer gesubsidieer.

Volgens die diensverskaffer berus prysmodelle vir selfone op die veronderstelling dat verbruikers die kontrak vir die volle vaste termyn aangaan vir die verskaffer om ʼn opbrengs op sy belegging te kry. Kansellasie veroorsaak ʼn verlies aan opbrengs op belegging. Die verskaffer het ook aangevoer dat die wet wel voorsiening maak vir ʼn kansellasiefooi.

Die kansellasiefooi is bereken volgens die uitstaande fooie vir die huidige maand, ʼn kennisgewingperiode van 20 dae, die promosiefooi, die versekeringswaarde aan die begin van die kontrakperiode x die maande wat oor is. Die versekeringswaarde was R15 389,00 vir ʼn Samsung S8. Die verbruiker het R634,63 per maand betaal en daar was nog 4,15 maande van sy kontrak oor. Die verbruiker sou R2 633,71 betaal het indien die kontrak nie gekanselleer is nie, maar die kansellasiefooi was R3 199,71.

Wat sê die ombudsman?

Die ombudsman se kantoor het by nadere ondersoek gevind dit is presies hoe die kansellasiefooi bereken is, maar die ombudsman moes oorweeg of die kansellasiefooi wel voldoen aan die bepalings van artikel 14, wat lui dat die kansellasiefooi bereken moet word deur die bedrag wat jy nog skuld tot die datum van die kansellasie in gedagte te hou. Die verskaffer kan ʼn billike boete hef vir enige goedere wat verskaf is, dienste wat gelewer is en afslag wat gegee is met die oog daarop dat jy die volle kontrakperiode sal voltooi.

Hoewel die kansellasiefooi bereken is volgens hierdie artikel van die wet, moes die kansellasiefooi steeds getoets word vir billikheid en voldoen aan die vereistes van regulasie 5, wat lui dat ʼn diensverskaffer nie ʼn kansellasiefooi mag hef wat dit vir jou onmoontlik sal maak om jou reg op kansellasie uit te oefen nie.

Die ombudsman meen die diensverskaffer het ʼn kansellasiefooi gehef wat dit vir die verbruiker onmoontlik gemaak het om sy reg op kansellasie uit te oefen. Weens die beperkte inligting wat verskaf is oor pryse en subsidies kon die ombudsman nie voorstel wat die bedrag behoort te wees nie.

Die verskaffer is egter aangeraai om sy kontrakte te verander om te wys presies hoeveel die verbruiker betaal vir die selfoon en seker te maak dat verbruikers se reg om te kanselleer nie aangetas word nie.

In hierdie geval het die ombudsman voorgestel dat die verbruiker ʼn kansellasiefooi van R1 908,76 betaal, wat ʼn maand kennis insluit van R634,63 en die promosiefooi van R307,02 X 4,15 maande, aangesien die verbruiker die selfoon hou.

Kla hier

Kla by die Ombudsman se kantoor by 0860 000 272 of besoek die webwerf by www.cgso.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.