Verbruikersake: Ombudsman slaan slag vir verbruikers in hof

hof-hamer

(Argieffoto)

Die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en Dienste het Vrydag ’n slag geslaan vir verbruikers in die Hooggeregshof in Pretoria nadat die ombudsman se kantoor die hof gevra het om te beslis of sy Gedragskode vir die Verbruikersgoedere en Dienstebedryf wettig is en dat hy die mag het om jaarlikse deelnemerstariewe te hef.

Die ombudsman is ’n onafhanklike en geakkrediteerde alternatiewe dispuutoplossingskema soos gedefinieer in die Wet op Verbruikersbeskerming en het reeds 979 lede wat hoofsaaklik bestaan uit die groot- en kleinhandelaars, vervaardigers, groothandelaars en verspreiders.

Die aansoek is by die hof ingedien nadat die elektriese groothandelaar, Voltex, die grondwetlike geldigheid van die kode bevraagteken het, sowel as die magte van die minister van handel en nywerheid om dit te promulgeer. Voltex het ook aansoek gedoen om ’n hofbevel om die ombudsman te dwing om ’n deelnemerstarief van R285 000 terug te betaal.

Astral Operations Limited het die grondwetlikheid van die kode bevraagteken, sowel as die minister van handel en nywerheid se magte om die kode te promulgeer. Die maatskappy het aangevoer dat dit nie verpligtend is vir maatskappye om aan die gedragskode te voldoen en die jaarlikse fooi te betaal nie.

Die hof het beslis dat:

  • Die gedragskode wettig is ten opsigte van die bepalings van die Grondwet en die Wet op Verbruikersbeskerming;
  • Die gedragskode wel die gesag het om te vereis dat alle betrokke ondernemings moet deelneem;
  • Die gedragskode wel wettig is en die gesag het om van alle betrokke ondernemings te vereis om die vereiste fooie te betaal;
  • Die ombudsman se raad wettig die gesag het om ’n tariefstruktuur vir deelnemende ondernemings vas te stel;
  • Die ombudsman die gesag het om van deelnemers te vereis om hul jaarlikse omset te verklaar sodat hul jaarlikse deelnemerstariewe bepaal kan word;
  • Die ombudsman die gesag het om regstappe in te stel om agterstallige tariewe in te vorder; en
  • Die ombudsman die gesag het om ’n hof, die Nasionale Verbruikerstribunaal of die Nasionale Verbruikerskommissie te nader wanneer ’n onderneming nie registreer by die ombudsman nie en nie tariewe betaal nie.

Die ombudsman, Magauta Mphahlele, was baie bly oor die uitspraak, aangesien haar kantoor verplig is om aandag te gee aan klagtes – of die onderneming geregistreer is of nie.

Die uitspraak beteken dat alle ondernemings wat kwalifiseer, aan die gedragskode moet voldoen deur by die ombudsman te registreer, hul jaarlikse omset te verklaar en die jaarlikse deelnemerstariewe te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.