Verbruikersake: Ombudsman waarsku oor aanlyn klerewinkel

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Baie verbruikers het geleer om aanlyn te koop en vind dit nou so gerieflik dat hulle dit aanhou doen. Die aanlyn winkelmark is egter ook vol struikelblokke en die grootste klagte oor aanlyn inkopies is dikwels goedere waarvoor verbruikers betaal, maar wat nie afgelewer word nie. Ina Opperman het gaan kyk watter regte verbruikers het en na die onlangse waarskuwing van die ombudsman vir verbruikersgoedere en -dienste teen nog ʼn aanlyn winkel.

Die ombudsman waarsku verbruikers teen die aanlyn winkel Ana Eleven Brand wat vroueklere verkoop. Terwyl die klagtes teen die winkel toeneem, weier die winkel om met die ombudsman se kantoor saam te werk om die klagtes op te los.

Oor die afgelope nege maande het 328 verbruikers by die ombudsman gekla oor Ana Eleven Brand, wat volgens die klaers nie die klere afgelewer het nie, of indien dit afgelewer is, die verkeerde items of die verkeerde groottes gestuur het.

Volgens die ombudsman lyk dit volgens die klagtes asof die winkel besig is met lokaasbemarking, waar die winkel items adverteer wat “beskikbaar” is, terwyl hy weet dat daar nie genoeg voorraad is nie. Sodra verbruikers betaal, word hulle in kennis gestel dat die goedere uit voorraad is en die beloofde terugbetalings geskied nie of word onredelik vertraag.

“Ons is tans besig met 138 sake teen die boetiek, waarvan verskeie na ons verwys is deur die nasionale verbruikerskommissie omdat die winkel nie wou saamwerk nie. Die ombudsman het in Augustus met die verskaffer vergader, wat belowe het om al die klagtes binne ʼn week op te los, maar geen vordering is gemaak nie en die klagtes is nie opgelos nie,” sê Magauta Mphahlele, die ombudsman.

“As jy geld van verbruikers vat en dan nie die goedere en dienste verskaf waarop ooreengekom is nie, is dit ʼn oortreding van artikel 19 van die Wet op Verbruikersbeskerming, wat bepaal wat verskaffers se verantwoordelikheid is om goedere af te lewer en wat gedoen moet word indien hulle nie kan nie.”

Artikel 19

Artikel 19 bepaal dat verskaffers verantwoordelik is om goedere en dienste te lewer op die datum en tyd waarop ooreengekom is of andersyds binne ʼn redelike tyd nadat die transaksie afgehandel is. Verskaffers moet ook die aflewering doen op die regte plek. Indien die verbruiker nie tevrede is met ʼn ander tyd of plek nie, kan die verbruiker die transaksie kanselleer sonder om ʼn boete of heffing te betaal en al die verbruiker se geld moet terug betaal word.

Artikel 47

Volgens die ombudsman oortree Ana Eleven Brand ook artikel 47 van die wet, wat verskaffers verbied om betaling vir goedere te ontvang indien hulle nie van plan is om die goedere te lewer nie of beplan om goedere te lewer wat nie dieselfde is as die goedere waarvoor die verbruiker betaal het nie.

Artikels 30 en 41

Artikels 30 en 41 van die wet is ook van toepassing op Ana Eleven Brand. Artikel 30 verbied verskaffers om goedere te adverteer teen ʼn spesifieke prys wat daarop gerig is om verbruikers te mislei oor die werklike beskikbaarheid van die goedere teen die prys wat geadverteer is. Artikel 41 bepaal dat verskaffers nie valse, misleidende of bedrieglike voorstellings mag maak nie.

Loop lig hiervoor

Die ombudsman raai verbruikers wat aanlyn koop aan om net met handelaars met ʼn goeie reputasie sake te doen en lig te loop vir lae pryse wat onrealisties is. Sy raai ook verbruikers aan om op aanlyng roepe te kyk of iemand al oor ʼn onbekende handelaar gekla het voordat hulle iets bestel.

Aanlyn verskaffers moet aan die volgende bepalings van die wet voldoen:

  • Dui pryse korrek aan en indien daar ʼn fout is, moet dit aan verbruikers gekommunikeer word en binne ʼn redelike tyd reggestel word, anders kan verbruikers aandring op die aangeduide prys.
  • Gee ʼn beskrywing met al die besonderhede van die goedere of dienste om te keer dat verbruikers goed bestel wat nie geskik is vir die doel nie.
  • Maak dit duidelik wanneer goedere afgelewer gaan word en hou verbruikers op hoogte van vertragings.
  • Maak die voorwaardes duidelik, soos die omruilproses en hoe lank dit neem.
  • Wys waar verbruikers met die maatskappy in verbinding kan tree en hoe klagtes hanteer word.
  • Vermy lokaasbemarking en oorverkope deur seker te maak daar is genoeg voorraad of dui aan as die voorraad beperk is in alle advertensies.
  • Vermy dit om geld te aanvaar van verbruikers as daar nie voorraad is nie of indien daar nie genoeg bronne is om die goedere of dienste betyds te lewer nie.
  • Maak dit duidelik of daar bykomende kostes is soos afleweringskoste of boetes en heffings as die verbruiker kanselleer.
  • Bied ʼn stelsel aan waarop verbruikers kan sien hoe ver hul aflewerings is.

Kla hier

Kla by die ombudsman vir verbruikersgoedere en -dienste by [email protected] of stuur ʼn WhatsApp na 081 335 3005.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Daar is omtrent daagliks klagtes van mense wat ingeloop word. Ek hou maar verby die aanlyn aankope.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.