Verbruikersake: Ongemagtigde debietorders

aanlyn-banke-faktuur-betalings

Ter illustrasie. Foto: Rawpixel/Pixabay.com

Debietorders vir bedrae minder as R100, wat nie deur die rekeninghouers goedgekeur is nie, het verbruikers weer erg omgekrap. Die Betalingsvereniging van Suid-Afrika (BVSA) is besig om saam met die Reserwebank en die banke die probleem te pak om verbruikers te beskerm. Ina Opperman het gaan vasstel wat hulle gaan doen.

Hierdie skelmstreke word soms “R99-debietorderskemas” genoem al kan die bedrae verskil. Dit het weer onlangs begin kop uitsteek toe verbruikers agtergekom het ’n paar rand word maandeliks deur middel van debietorders van hul bankrekeninge verhaal. Verbruikers is dan kwaad vir hul banke wat nie transaksies keer nie, maar die banke kan niks daaraan doen nie.

Die bank se rol

Banke tree op as fasiliteerders van betalings en moet volgens wet debietorders laat deurgaan wat vir betaling deur ander banke aangebied word, verduidelik die BVSA. Elke transaksie het ’n “gebruiker” en ’n bank en indien almal nie saamwerk nie, sal dié stelsel, wat maandeliks 55 miljoen betalings ter waarde van meer as R80 miljard hanteer, ophou werk.

Wanneer banke dus elke maand transaksies deursit namens gebruikers, doen hulle dit met die verstandhouding dat net geldige debietorders ingesluit word wat gerugsteun word deur ’n mandaat op skrif of op ’n stemopname. Hierdie mandate word egter deur die gebruikers bewaar en die banke sien dit nie en kan dit dus nie nagaan nie.

Die meeste debietorders waaroor verbruikers kla, is egter geldig omdat verbruikers daartoe ingestem het en word net gestop wanneer verbruikers se kontant opraak en hulle die geld vir iets anders wil gebruik, verduidelik die BVSA. Omtrent 1,5 miljoen (3%) van die 55 miljoen maandelikse debietorders word in twyfel getrek, maar die BVSA reken net omtrent 10% van die 1,5 miljoen debietorders is nie deur verbruikers goedgekeur nie.

Onwettig om debietorders te stop

Dit is onwettig en oneties om debietorders te stop wanneer verbruikers wel hul toestemming gegee het dat die bedrag vir betaling van ’n produk of diens afgetrek kan word. Die staking van geldige debietorders maak dit ook moeiliker om ongeldige debietorders raak te sien en laat dit lyk asof groot maatskappye ongeldige debietorders gebruik terwyl dit nie die geval is nie.

Maak die banke geld hieruit?

“Banke maak beslis nie wins uit debietorders wat omgekeer word nie en word eintlik op grond van hul borgskap van die transaksies en die regsverpligtinge wat daarmee saamgaan, blootgestel aan die volle waarde van debietorders wat bevraagteken word,” sê Walter Volker, uitvoerende hoof van die BVSA.

“Banke loop die risiko om die hele bedrag op ’n debietorder te verloor as hulle dit nie terugkry van die gebruiker nadat die bank dit omgekeer het nie. Aan die ander kant word die bank verantwoordelik gehou om die volle bedrag terug te betaal indien ’n onwettige debietorder betwyfel word, selfs wanneer die oneerlike verbruiker uit die stelsel verwyder is. Verbruikers weet nie altyd van al die risiko’s en koste wat daaraan verbonde is nie.”

Betaal as jy kla?

Sommige banke het ’n heffing ingestel om debietorders om te keer sodat verbruikers twee keer moet dink voordat hulle ’n debietorder wil omkeer, aangesien daar gevind is dat soveel debietorders wat betwyfel word, inderdaad geldig is. Dit vat baie tyd en moeite om debietorders om te keer, maar verbruikers kan die bedrag terugeis indien dit bevind word dat die debietorder wel ongeldig was.

Wat doen die BVSA daaraan?

Die BVSA is sedert 2013 saam met die bankbedryf besig om ’n omvattende en ingewikkelde stelsel, DebiCheck, in te stel. Die stelsel is enig in sy soort en die aanvanklike fase het op 1 Augustus verlede jaar begin, toe al 11 banke wat daaraan deelneem, die stelsel operasioneel ingestel het.

Gebruikers is tans besig om die stelsel te implementeer en nuwe bedryfsprosesse in te stel wat nodig is om DebiCheck ten volle te gebruik. Volgens Volker sal duisende maatskappye van alle groottes die stelsel gebruik en daarom is dit nodig om te verseker dit bly stabiel en dat verbruikers nie benadeel word nie.

Só werk DebiCheck

Met DebiCheck sal banke van verbruikers vereis om hul debietorders elektronies te bevestig wanneer ’n nuwe kontrak met die gebruiker gesluit word voordat enige geld verhaal word. Dit sal verseker dat verbruikers en hul banke presies weet hoeveel geld verhaal kan word. Die verbruiker se elektroniese mandaat word dan op die bank se databasis gehou en kan dan enige tyd nagegaan en gemonitor word.

Tydens die aanvanklike fase sal net verbruikers wat sake doen met maatskappye wat reeds DebiCheck ingestel het, gevra word om hul debietorders elektronies te bevestig. Hoewel DebiCheck reeds werk, sal dit tyd neem vir alle DebiCheck-gebruikers om hul gebruik van die stelsel aan die gang te kry. Die aantal maatskappye wat dit gebruik, sal mettertyd groei totdat die stadium bereik word waar alle debietorders wat nie deur verbruikers bevestig is nie, uitgewis word.

Aangesien DebiCheck so groot en ingewikkeld is, sal dit baie tyd en moeite verg om dit ten volle in te stel. Nuwe DebiCheck-debietorderklante kry reeds versoeke om debietorders te bevestig.

Die Reserwebank het die volledige implementering van DebiCheck met twaalf maande uitgestel tot Oktober 2020 voordat die ou stelsels gestaak word. Volgens Volker is die elf banke wat die stelsel implementeer, daartoe verbind om reeds vanjaar die meeste maatskappye deel te maak van die stelsel.

Wat word intussen gedoen?

Die BVSA werk intussen ook saam met die banke om die prosesse wat gebruik word om nuwe maatskappye tot die debietorderstelsel toe te laat, te verbeter om te verseker dat maatskappye met duister bedoelings uitgeken en verwyder word.

“Ons is baie ernstig daaroor en gaan ons bes doen om die maatskappye te identifiseer wat die debietorderstelsel misbruik,” sê Charl Ackerman, senior regsverteenwoordiger van die BVSA.

Verder werk die BVSA en die banke ook daaraan om bestaande reëls en prosesse in die betalingstelsel te verbeter en inligtingsmateriaal word ontwikkel en uitgereik om verbruikers die korrekte voorligting te gee ten opsigte van hul regte en verpligtinge met betrekking tot debietorders.

Sommige banke gebruik teksboodskappe om verbruikers in te lig oor debiettransaksies en bied ook aan om debietorders gratis om te keer as dit minder as ’n bepaalde bedrag beloop, asook goedkoper prosedures op apps en aanlyn om debietorders te bevraagteken.

Beskerm jouself só

  • Gaan jou bankstate gereeld na en bevraagteken aftrekkings wat jy nie herken nie.
  • Vra dadelik jou bank om ondersoek in te stel na ongeldige debietorders en meld die besonderhede aan by [email protected].
  • Maak seker dat jou bank die regte selfoonnommer vir jou het sodat jy ingelig kan word wanneer geld van jou rekening verhaal word en dat hulle vir jou versoeke DebiCheck-bevestiging kan stuur.
  • Wees versigtig wanneer jy kontrakte verbaal, elektronies of op skrif sluit.
  • Moenie jou bankbesonderhede vir iemand gee as jy nie seker is wat daarmee gedoen gaan word nie.
  • Moenie geldige debietorders bevraagteken nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christina ·

Ek het n boodskap gekry dat n debiet order sal afgaan op my rekening. Ek het dit dadelik bank roe gevat en vir hul gese van dit. En dat ek geen debiet order het wat moet deergaan nie. Vir my is gese ek moet wag dat dit gebeur en dit dan aanlyn betwis. Net om agter te kom die bank het R70 gevat vir stop van debiet order en nog R50 omdat ek dit betwis. Wat n verdere R120. Sonder dat ek enige geld terug gekry het. En dit is die 3de keer in 5 jaar wat dit gebeur. Sodra die banke kennis neem dat jy weet. Stop dit.

Rooikop ·

Geen debietorders op my rekening nie. Stuur ‘n faktuur dan betaal ek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.