Verbruikersake: Oppas vir hierdie krediet

geld-finansies-beursie-maatband

Foto: Myriams-Fotos/Pixabay.com

Mens sien hierdie advertensies vir lenings daagliks: “No credit checks” en “Black listed welcome”. As mens in ʼn finansiële krisis is, lyk hierdie advertensies egter nie so ongeloofwaardig nie. Totdat jy aansoek doen en eers ʼn paar duisend rand in vreemde rekeninge moet inbetaal om die krediet te kry. En op die ou end sit jy met nog skuld en sonder die krediet. Ina Opperman neem die kwessie onder die loep.

Kyk ʼn mens op die internet, is daar honderde aanbiedings vir lenings wat belowe jou kredietrekord sal nie nagegaan word as jy vir krediet aansoek doen nie en dit maak nie saak of jy ʼn slegte kredietgeskiedenis het nie – jy sal by hierdie plekke ʼn lening kry.

Van hierdie skemas wat “krediet” aanbied is baie eenvoudig, terwyl ander van jou vereis om by ʼn “maatskappy” aan te sluit om krediet te kry. In alle gevalle moet jy tot soveel as R14 000 betaal voordat jy jou krediet kan kry – net om maande te wag voordat jy agterkom jy was die slagoffer van ʼn geldmaakskema.

Die belangrikste ding om te onthou is dat hierdie uitleners nie geregistreer is by die Nasionale Kredietreguleerder nie en daarom onwettig bedryf word. Sedert 11 November 2016 moet alle kredietverskaffers by die reguleerder registreer, terwyl net dié wie se transaksies meer as R500 000 beloop het of wat meer as 100 kredietooreenkomste beklink het, voorheen moes registreer.

Kredietverskaffers wat geregistreer is by die reguleerder is ook verplig om die regulasies wat in terme van die Kredietwet gemaak is, om na te gaan of verbruikers krediet kan bekostig, na te kom. Hierdie regulasies, wat in April 2016 uitgevaardig is, help kredietverskaffers om te besluit of ʼn verbruiker krediet kan kry en dit beskerm verbruikers teen roekelose uitleenpraktyke. Voorheen kon kredietverskaffers self besluit hoe hulle kredietwaardigheid wil toets.

Volgens die regulasies moet kredietverskaffers praktiese stappe doen om die verbruiker se inkomste na te gaan deur ten minste die laaste drie maande se salarisstrokies na te gaan of die bankstate van die laaste drie maande as die verbruiker nie ʼn salaris ontvang nie.

Verder moet die kredietverskaffer bepaal of die verbruiker die paaiemente kan bekostig nadat belasting, werkloosheidsversekering, onderhoud en alle ander verpligte betalings, insluitend paaiemente op krediet, afgetrek is. Inligting van ʼn kredietburo moet hiervoor gebruik word.

Dit beteken dat niemand vir jou op ʼn wettige manier geld gaan leen as jy dit nie kan bekostig nie – tensy dit ʼn onwettige skema is.

Kredietverskaffers moet ook praktiese stappe doen om te verseker dat krediet gebruik word vir die doel waarvoor die verbruiker dit leen. Mense wat reeds skuldberading kry, mag nie nog skuld aangaan nie.

Onthou:

  • Gaan die registrasienommer van die kredietverskaffer na by die reguleerder. Onwettige skemas het nie ʼn registrasienommer nie of gebruik vals nommers.
  • Wettige kredietverskaffers vra nie dat jy enige bedrag betaal om ʼn lening te kry nie. Dit is onwettig om dit te doen. Kredietverskaffers kan vra dat jy ʼn aanvangsfooi betaal, maar jy betaal dit eers wanneer die lening toegestaan is.
  • Loop lig vir kredietverskaffers wat lenings op teksboodskappe aanbied, veral as hulle beweer die lening is “gewaarborg”.
  • Loop ook lig vir maatskappye wat aanbied om vir jou ʼn lening “te vind”.
  • Lees alle dokumente goed deur voordat jy ʼn lening aanvaar. Onwettige skemas laat jou dikwels maandeliks aansluit vir iets soos ʼn begrafnispolis en as jy nie betaal nie, begin hulle jou pla met dreigoproepe.
  • Moenie jou bankbesonderhede gee wanneer jy aanlyn vir ʼn lening aansoek doen nie.

Vir navrae oor klagtes oor krediet, besoek die Nasionale Kredietreguleerder se webblad by www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Justice ·

`n “Developmental Credit Provider” wat wettiglik by die Nasionale Krediet Reguleerder geregistreer is kan lenings verskaf sonder om aan roekelose lenings praktyke skuldig bevind en vervolg te word. Hulle is gedurende 2015 kwytgeskeld van die uiters belangrike seksie 81 to 84 van die Nasionale Kredietwet wat roekelose uitleen praktyke aanspreek. Hulle hoef dus nie die verbruiker se inkomste te bevestig of die verbruiker se krediet geskiedenis na te gaan nie. Dit is gemik op die SME mark want “tradisionele” Banke is glo te streng en diskrimineer. Huidiglik word hierdie kwytskelding tot die ergste graad misbruik deur veral private geldleners met wettige “Developmental Credit Provider” status sonder enige vrees van vervolging. Hierdie lenings word veral op bate finansiering misbruik en rente koerse bokant die toegelate maksimum perk word ook vir hulle toegelaat weens die risiko waaraan hulle blootgestel is. Ongelukkig is die grootste verloorders uiteindelik die ongekunstelde verbruikers wat daaraan blootgestel word met geen voet om op te staan nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.