Verbruikersake: Oppas vir identiteitsdiewe

(Argieffoto: Pixabay)

Identiteitsdiefstal, wat nuwe momentum gekry het met die aanvang van die pandemie, is nie verby nie en verbruikers moet steeds hul vertroulike inligting soos goud bewaar. Deesdae word jou identiteit ook gesteel deur kuberkrakers wat toegang tot maatskappye se stelsels kry. Ina Opperman verduidelik hoe jy jouself teen identiteitsdiefstal kan beskerm.

Die probleem van identiteitsdiefstal het nou tweeledig geraak: eerstens moet jy self sorg dat jy nie jou vertroulike persoonlike inligting met iemand anders deel nie en tweedens moet jy ligloop vir skelms wat jou identiteit, wat elders gesteel, is gebruik. In beide gevalle gaan jy geld verloor en daarom is dit belangrik om versigtig te wees.

Wat is persoonlike en vertroulike inligting?

Jou persoonlike inligting is jou identiteitsdokument, rybewys, paspoort, adres en kontakbesonderhede. Jou vertroulike inligting is gebruikersname, wagwoorde en persoonlike identifikasienommers (PINs).

Wanneer jou persoonlike inligting in skelms se hande beland, kan hulle dit gebruik, maar dit waarborg nie toegang tot jou bankprofiel en rekeninge nie. Wat hulle wel kan doen, is om jou te oortuig om jou vertroulike bankbesonderhede vir hulle te gee.

Hulle kan ook jou persoonlike inligting gebruik om jou identiteit aan te neem en rekeninge te open by banke en winkels waarvoor jy dan verantwoordelik gehou word. Van hierdie skelms het al selfs mense se versekeraars, mediese fondse en die Werkloosheidsversekeringsfonds ingeloop deur te maak asof hulle iemand anders is en so toegang tot hul bankrekeninge verkry.

Hoe om jou identiteit te beskerm

As verbruiker is dit jou plig om jou persoonlike en vertroulike inligting op te pas sodat die risiko nie so groot is dat skelms jou inligting kan gebruik om bedrieglike aansoeke in jou naam in te dien of toegang tot jou bankrekening te kry nie.

Manie van Schalkwyk, hoof van die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens, raai verbruikers aan om hul persoonlike inligting te hanteer soos kontant.

“Hou dit altyd veilig, want as dit eers uitlek, kan enigiemand dit enige tyd gebruik om te maak asof hulle jy is,” sê hy.

Aangesien mens nie sommer jou persoonlike inligting (soos jou identiteitsnommer en adres) kan verander nie, kan jy die volgende voorkomende stappe doen wanneer iemand vir jou inligting vra vir sekuriteitsmagtiging:

  • Moenie enige inligting gebruik wat dalk uitgelek is nie. Gebruik liewer persoonlike inligting wat jy nog nie voorheen gebruik het nie om in die toekoms te bevestig wie jy is;
  • Kry ’n nuwe e-posrekening;
  • Gebruik tweeledige toestemming vir alle finansiële produkte en rekeninge;
  • Registreer vir tekskennisgewings om jou te laat weet wanneer iemand toegang kry tot jou rekeninge;
  • Laat gereeld jou kredietprofiel nagaan om te sien of iemand namens jou vir krediet aansoek gedoen het en indien dit gebeur het, stel dadelik die kredietverskaffer in kennis;
  • Ondersoek en registreer vir kennisgewings by kredietburo’s wanneer iemand met jou besonderhede aansoek doen vir krediet;
  • Gaan gereeld jou bankstate na;
  • Moenie persoonlike inligting, soos wagwoorde, vir iemand gee wat jou kontak nie, of dit nou telefonies, per faks of teksboodskap of selfs epos is;
  • Verander gereeld jou wagwoord en moenie dit vir iemand anders gee nie;
  • Maak seker wie dit is wat jou persoonlike inligting aanvra en gee dit net as jy doodseker is dat daar ’n goeie rede daarvoor is;
  • Moenie onnodig persoonlike inligting in jou beursie hou nie;
  • Moenie jou wagwoorde en PINs neerskryf nie en moenie geboortedatums en name gebruik in jou wagwoorde en PINs nie;
  • Moenie banksake doen by internetkafees of onveilige terminale nie;
  • Gebruik sterk wagwoorde vir al jou rekeninge;
  • Sluit jou persoonlike dokumente veilig toe;
  • Wanneer jy dokumente met persoonlike inligting weggooi, versnipper of verbrand dit;
  • Maak seker dat jy goeie virusbeskerming gebruik om seker te maak ’n virus kan nie jou besonderhede van jou rekenaar af stuur nie;
  • Meld diefstal van jou identiteitsdokument, paspoort of rybewys dadelik by die polisie aan; en
  • Om te keer dat jou identiteit gebruik word om bedrog te pleeg wanneer dit gesteel word, laat dadelik die SAFPS weet by 0860 101 248 of by safps.org.za.

Wat kan jy doen as iemand jou identiteit gesteel het?

As jy vermoed dat iemand jou persoonlike inligting in die hande gekry het, moet jy dadelik aansoek doen vir ’n gratis beskermingsdiens teen bedrog by die Southern African Fraud Protection Service (SAFPS). Hierdie diens waarsku al die SAFPS-lede – wat banke en kredietverskaffers insluit – dat jou persoonlike inligting uitgelek het en dat hulle ekstra versigtig moet wees om seker te maak hulle doen sake met jou en niemand anders wat voorgee om jy te wees nie.

Jy kan aansoek doen vir die Protective Registration deur ‘n e-pos te stuur aan die diens by [email protected].

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.