Verbruikersake: Oppas vir skelms wat jou geld wil belê

Foto ter illustrasie. (Foto: Josh Appel/Unsplash)

Verbruikers is onlangs geskok toe hulle hoor die stigter van ’n beleggingskema, Mirror Trading International, het die pad landuit gevat met al hul geld. Dis egter nie nuwe nuus dat so iets gebeur nie. Daar is aanhoudend skemas in omloop waar verbruikers hul swaarverdiende spaargeld of pensioengeld verloor. Baie verbruikers is die afgelope paar maande ook afgelê en het afleggingspakkette gekry. Ina Opperman verduidelik hoe om jou geld te beskerm.

Mense moet veral nou, terwyl ons ekonomie op die rand van ’n katastrofe staan en dit nie altyd duidelik is wanneer die ekonomie weer aan die gang gaan kom nie, baie versigtig met hul geld wees. Die feit is dat jy jou spaargeld en pensioengeld moet beskerm en sorg dat jy geld beskikbaar het vir enige ander rampe wat nog kan tref.

Selfs verbruikers wat in hierdie moeilike tyd hul geliefdes verloor, moet versigtig wees met lewensversekering wat uitbetaal en sorg dat dit nie ook in ’n skelm se sak beland nie. Dit is ongewoon om skielik ’n klomp geld in jou bankrekening te hê en die meeste verbruikers leen ongelukkig hul ore uit oor wat om daarmee te doen.

Sommige mense wat nog lede moet werf om geld te maak, sal sommer vir maande lank aan jou karring om die geld in die een of ander wonderlike skema te stort wat baie hoë rente belowe. Dis gewoonlik iemand wat jy ken en jy kan nie so maklik nee sê soos wat jy sal doen indien ’n vreemde mens jou bel en probeer oortuig dat ’n skema ’n goeie belegging is nie.

Skemas soos Mirror Trading International het ’n lieflike webtuiste wat jou laat dink dit is ’n professionele onderneming wat nie die pad sal vat met jou geld nie. Wat natuurlik presies is wat Johann Steynberg met omtrent 60 000 beleggers se geld gedoen het.

Alle skemas MOET geregistreer wees

Jou heel eerste vraag moet wees of die skema by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) geregistreer is. Die persoon wat dit verkoop, moet ook as ’n finansiële tussenganger geregistreer wees. Vra vir bewys van registrasies en moenie stellings glo soos “as mens in kripto belê, hoef jy nie te registreer nie”. Dis blote onsin.

Dít moet jou waarsku

  • Beleggingsgeleenthede wat te goed klink om waar te wees, soos ’n hoë opbrengs met min risiko. Dan moet jy vra hoe die geld so vinnig kan vermeerder en, nog belangriker: hoe kan die maatskappy so ’n hoë opbrengs waarborg?;
  • ’n Rentekoers wat meer as omtrent 7% per jaar beloop en gewaarborg word. Niemand kan ’n rentekoers van iets soos 30% waarborg nie;
  • Ingewikkelde grafieke en groot woorde as jy vra hoe die skema werk;
  • Verskonings dat die strategie te ingewikkeld is om te verduidelik of dat dit vertroulike inligting is wat nie met jou gedeel kan word nie;
  • ’n Gebrek aan dokumente oor die skema; of
  • Enigiemand, selfs ’n vriend of familielid of die agent self, wat druk op jou plaas om so gou as moontlik te belê, veral as jy gewaarsku word dat jy “die geleentheid moet gebruik voordat dit verval”.

Waar kom die geld vandaan?

Bedrieglike skemas gebruik gewoonlik nuwe lede se geld om ouer lede se “wins” te betaal. Die “kommissie” wat lede kry om ander lede te werf, is gewoonlik hoog en daarom sal jy vind dat selfs goeie vriende en familie baie kwaad word as jy weier om aan te sluit.

Waar is jou rente?

Rente wat nie dadelik of binne ’n redelike of beloofde tyd uitbetaal word nie, is ’n gevaarteken.

Beleggers word gewoonlik aangemoedig om hul rente te laat oorloop na die volgende maand sodat hul geld nog meer kan “groei”. Van hulle sal selfs vir jou state stuur wat wys hoe jou belegging groei, totdat jy dit wil onttrek en vind niemand beantwoord jou oproepe nie.

Wat van die Wet op Verbruikersbeskerming?

Artikel 43 van die Wet beskerm verbruikers teen piramide- en verbandhoudende skemas, soos vermenigvuldigingskemas en kettingbriewe.

  • ’n Vermenigvuldigingskema is wanneer iemand ’n effektiewe jaarlikse rentekoers (op die voorgeskrewe wyse bereken) wat minstens 20% meer is as die Reserwebank se repokoers, soos op die datum van belegging of aanvang van deelname, aan ’n verbruiker, belegger of deelnemer aanbied, belowe of waarborg, ongeag of die verbruiker, belegger of deelnemer ’n lid van die skema word.
  • ’n Piramideskema is ’n reëling, ooreenkoms, praktyk of skema indien deelnemers vergoeding ontvang wat hoofsaaklik afkomstig is van hul eie werwing van ander mense as deelnemers en nie die verkoop van goedere of dienste nie; of die klem val op die bevordering van hierdie skema.
  • ’n Kettingbrief is ’n reëling, ooreenkoms, praktyk of skema wat verskeie vlakke van deelname het en van bestaande deelnemers vereis om nuwe deelnemers te werf; of van elke nuwe deelnemer verwag om by aansluiting ’n sekere teenprestasie te betaal, wat onder een, sommige of al die bestaande deelnemers verdeel word, ongeag of die nuwe deelnemer goedere of dienste in ruil vir daardie teenprestasie ontvang en op die laagste vlak van deelname begin; en by die werwing van nuwe deelnemers deel in die teenprestasie wat ’n nuwe deelnemer betaal en na ’n hoër vlak binne die skema beweeg.

Onthou:

  • Jy kan self in die moeilikheid beland as jy deelneem aan so ’n skema.
  • Jy sal jou hele opbrengs moet teruggee as die skema ineenstort en die FSCA stel ondersoek in.
  • Jy kan nie rente van 30% per jaar verdien nie.
  • As dit te goed is om waar te wees, is dit.
  • Moenie belê in skemas waar jy nog lede moet werf nie.
  • Moenie belê in ongeregistreerde skemas nie.
  • Moenie toelaat dat ’n ongeregistreerde makelaar jou geld vir jou belê nie.
  • Moenie enigiemand toelaat om druk op jou te plaas oor waar jy jou geld belê nie.
  • Moenie belê in ’n skema wat op WhatsApp of Facebook verkoop word nie.

Meer inligting

Besoek die webwerf van die FSCA by www.fsca.co.za of skakel die tolvrynommer: 0800 110 443.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Goue reel. hoe groter die opbrengs, hoe groter die risiko. Bly weg van soete beloftes en mooi praatjies.

OW ·

Goeie skrywe en inligting.Ek dink een van die groot probleme vandag is die wet op die openbaarmaking van inligting.Wat my betref kan hierdie wetgewing geskrap word.Baie onheil broei onder hierdie wetgewing uit.Die publiek se inligting lê die hele wêreld vol en hierdie sogenaamde telefoon bemarkers en verkopers is ‘n onding wat uitgeroei moet word.As byvoorbeeld ‘n redelike bedrag geld in iemand se rekening inbetaal word is dit nie lank voor die aasvoëls toeslaan en met besigheid wil begin nie.My raad:Moet geen finanies,

Hannes ·

‘n Insiggewende berig wat water dra maar daar is wel platforms waar jou hard verdien de geld kan woeker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.