Verbruikersake: Oppas vir skelmstreke by banke

Foto ter illustrasie. (Foto: Rupixen.com/Unsplash.)

Verbruikers weet die grendeltyd het vir skelms wat bankkliënte teiken, genoeg tyd gegee om nuwe streke te bedink. Dit is duidelik in die nuutste skelmstreek wat gerig is daarop om kliënte van Capitec van hul swaarverdiende geld te beroof. Hierdie is skelms wat jou naam en bankrekeningnommer ken en hulle praat so mooi met jou dat jy sommer lief raak vir jou bank. Ina Opperman vertel hoe die skelms te werk gaan en verduidelik waarvoor jy moet ligloop.

Capitec het verbruikers onlangs gewaarsku dat skelms sy kliënte bel en maak asof hulle van Capitec se bedrogafdeling is. Hulle waarsku jou dan dat daar ’n poging was om bedrog te pleeg met jou bankrekening of dat ’n stoporder gelaai is waarvan jy nie weet nie.

“Om hierdie bedrieglike optrede te keer, moet jy dan die transaksies goedkeur wat na jou bank app gestuur word deur jou geheime nommer te gebruik. Die bedrieërs lei jou dan deur die proses om ’n transaksie te doen op die app terwyl jy onwetend geld oorplaas na die bedrieërs,” het Capitec verduidelik.

’n Woordvoerder van Capitec het sê daar is egter geen verband tussen hierdie bedrogspul en die uitlek van verbruikersinligting by die kredietburo Experian nie.

Oppas hiervoor

  • Iemand wat bel van jou bank en vra vir jou bankkaartnommer en OTP-nommer. Jou bank sal nooit bel en hierdie inligting vra nie;
  • Verdagte teksboodskappe met skakels na versoeke om jou vertroulike bankinligting by te werk of anders verloor jy toegang tot jou rekening. Jou bank sal dit ook nooit doen nie. As jy twyfel, bel eers jou bank en maak seker,
  • Jou selfoon hou skielik op werk of jou diensverskaffer laat jou weet van ’n slimkaartruiling vir jou foon wat jy nie aangevra het nie. Stel dadelik jou bank in kennis;
  • Moenie enige vertroulike inligting vir ’n vreemdeling oor die foon gee nie;
  • Moenie ingee as iemand jou probeer oortuig om dit te doen nie. Laat weet jou bank as jy so ’n oproep kry;
  • Indien jy ’n OTP-nommer kry vir ’n transaksie wat jy nie gedoen het nie, bel dadelik jou bank en meld dit aan, maar moenie die OTP-nommer vir enigiemand gee nie, nie eens vir die mense by die bank nie;
  • Skelms gebruik dikwels bedrieglike e-posse om jou vertroulike internetbanktoegangskode en wagwoorde te kry. Skelms doen baie moeite om die webwerwe en e-posse soos die ware Jakob te laat lyk, maar moenie daarvoor val nie
  • Moenie klik op skakels of icons in e-posse nie. Moenie op die e-posse antwoord nie, al is dit net om die skelms sleg te sê. Skrap hulle heeltemal.
  • Die inhoud van hierdie e-posse is nie waar nie. As jy bekommerd is, stel vas wat die waarheid is deur die bank te kontak op hul gewone nommer en nie die nommer wat die “skelm” verskaf nie;
  • Tik die bank se hele URL in wanneer jy vir internetbankdienste wil aanmeld en maak seker dit is wel die bank s’n;
  • As jy ooit vermoed jou wagwoord en besonderhede is gesteel, kontak dadelik jou bank;
  • Gebruik ingewikkelde wagwoorde wat nie maklik ontrafel kan word nie;
  • Jou bank en enige wettige onderneming sal jou nooit vra vir jou persoonlike, vertroulike of sensitiewe inligting by die bank, aanlyn of oor die foon nie;
  • Gaan gereeld jou bankstate na om te sien of daar transaksies is waarvan jy nie weet nie; en
  • Moenie ’n e-pos stuur met jou kaartnommer en die kaart se vervaldatum nie.

Kla by die Ombudsman of stuur ’n e-pos na [email protected] of bel 0860 800 900.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cecilia ·

Rerig Jan Publiek. Het jul nog nie geleer om geen kodes te deel met enige iemand nie. Die SMS se duidelik “moenie die 3D Secure code met enige iemand deel nie. Die kode is om die bogenoemde transaksie goed te keur”
Jan Publiek is net “ignorent” of het verleer om te lees.

Vriendelike Frikkie ·

As iemand vandag nog, 40-45 jaar na die koms van elektroniese bankwese , met enige van die kulstreke gevang word moet hy maar sy pak soos ‘n man vat.

Dup ·

Al sê ons wat,mense val nog elke dag vir hierdie slenters.Dan praat ek nie eers van die bedrieglike stokvel,piramide en ander gou ryk word skemas wat steeds mense in ñ wip vang nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.