Verbruikersake: Oppas vir skelmstreke met beleggings

Argieffoto (Foto: nattanan23, Pixabay)

Almal knyp nou hul beursies styf toe, maar daar is steeds skelms wat jou van jou swaarverdiende geld wil beroof met die wonderlikste beleggingsgeleenthede wat as wortel voor jou neus gehou word. Dit is veral nou ’n probleem met mense wat afgelê word tydens die ekonomiese inkrimping en groot bedrae ontvang. Dit is baie belangrik om seker te maak jou geld word reg en veilig belê. Ina Opperman het gaan kyk waarvoor jy moet ligloop.

Noudat jy jou pakket gekry het, wil almal vir jou raad gee. Jou kop is deurmekaar omdat jy ná die inperking afgelê is en dis moeilik om reguit te dink oor wat om met jou pakket te doen.

Dit is goeie raad om jou grootste skuld eers af te betaal en dan die res te belê, maar dit is net hier waar jy moet ophou om jou ore uit te leen, veral vir vriende en familie wat allerhande WhatsApp-beleggingskemas aanbeveel.

Dit klink fantasties wanneer jy daarvan hoor: ’n Hoë opbrengs met min risiko klink wonderlik totdat jy begin vrae vra. Dis wanneer jy agterkom dat die mense wat die skema bedryf, nie goed kan verduidelik hoe hulle jou geld so vinnig vermeerder nie dat die alarms moet afgaan en die rooi ligte flikker. Wat goed lyk op papier, beteken beslis nie dat jou bankrekening ook so goed gaan lyk op die ou end nie.

Hoë opbrengs en min risiko

Wanneer skemas rente waarborg wat ongelooflik hoog is, moet jy al begin wonder hoe iemand dit kan regkry om so ’n hoë opbrengs te waarborg. Vergelyk die rentekoers met ander beleggingsprodukte wat by erkende instellings beskikbaar is. Indien die rente meer as omtrent 7% per jaar beloop, is die moontlikheid groot dat jy jou geld sal moet groet as jy daarin belê. Buitendien kan niemand ’n rentekoers van iets soos 30% “waarborg” nie.

As die verduideliking tekort skiet

Iemand wat ’n werklike belegging verkoop, kan verduidelik presies hoe dit werk sonder te veel grafieke en groot woorde wat gewone verbruikers nie verstaan nie. Wanneer die beleggingsagent begin met verskonings soos dat die strategie te ingewikkeld is om te verduidelik of dat dit vertroulike inligting is wat nie met jou gedeel kan word nie, is dit ’n duidelike teken dat hierdie ’n skema is wat jou geld gaan sluk.

Is die skema geregistreer?

Dit behoort jou heel eerste vraag te wees. As die skema nie geregistreer is by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (GOFS/FSCA) nie, stap weg. Vra sommer ook vir die makelaar of agent se registrasiesertifikaat om seker te maak jy doen sake met iemand wat weet wat hy doen.

Waar is die dokumente?

’n Agent of makelaar wat nie die nodige dokumente en finansiële state by hom het nie, is beslis daarop uit om jou van jou geld te beroof. Iemand wat weet wat hy doen en dit reg doen, sal alles beskikbaar stel.

Word druk op jou geplaas om te belê?

As enigiemand, soos ’n vriend, familielid of die agent self druk op jou plaas om so gou as moontlik te belê, veral as jy gewaarsku word dat jy “die geleentheid moet gebruik voordat dit verval”, hardloop weg.

Hierdie skemas gebruik gewoonlik nuwe lede se geld om ouer lede se opbrengs te betaal. Mense kan baie lelik raak as jy weier om aan te sluit en maak jou maar reg vir Kersfees alleen by die huis as jy nee dankie sê vir die skema waarmee jou neef so goed geld maak. Ten minste sal jy geld hê vir ’n lekker Kersete al is jy alleen tuis omdat die familie kwaad is vir jou.

Waar is my rente?

As jy steeds jou geld belê het ten spyte van die voorafgaande raad, is rente wat nie uitbetaal word nie, beslis ’n gevaarteken. Beleggers in hierdie nare skemas word ook dikwels aangemoedig om hul rente te laat oorloop na die volgende maand sodat hulle geld nog meer kan groei. Hulle sal selfs vir jou state stuur wat wys hoe jou belegging groei totdat jy dit wil onttrek en dan antwoord niemand meer jou oproepe nie.

Onthou:

  • Jy kan nie rente van 30% per jaar verdien nie.
  • As dit te goed is om waar te wees, is dit.
  • Moenie belê in skemas waar jy nog lede moet werf nie.
  • Moenie belê in ongeregistreerde skemas nie.
  • Moenie toelaat dat ’n ongeregistreerde makelaar jou geld vir jou belê nie.
  • Moenie enigiemand toelaat om druk op jou te plaas oor waar jy jou geld belê nie.
  • Moenie belê in ’n skema wat op WhatsApp verkoop word nie.

Oppas vir die WhatsApp ‘JSE Investment-skema’

Die Johannesburgse Effektebeurs het onlangs gewaarsku dat hy bewus is van ’n skema op ’n WhatsApp-groep genaamd JSE Investment wat voorgehou word as ’n gematigde skema van die Effektebeurs.

In hierdie WhatsApp-skema word voornemende beleggers aangemoedig om hul geld in ’n bankrekening in te betaal met beloftes van gewaarborgde rente op hul belegging. Die Effektebeurs het dit duidelik gemaak dat hy nie die groep of skema goedgekeur het nie, aangesien hy nie beleggers so werf nie, maar net met aandelemakelaars werk.

Kla hier:

As jy van so ’n skema hoor of in een belê het, stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.