Verbruikersake: Oppas vir valse kredietverskaffers

Argieffoto.

Jy het nou net sit en wonder hoe jy jou begroting gaan laat klop aan die einde van die maand toe jou foon pieng met ’n boodskap. Dis sowaar ’n kredietverskaffer wat jou nooi om aansoek te doen om ’n lening wat al jou nagmerries oor skuld sal hokslaan! En jy hoef net ’n paar honderd rand vooraf te betaal! Haal diep asem en dink weer: waarom sal iemand in hierdie tyd van Covid-19 vir jou wil geld leen? Ina Opperman verduidelik hoekom jy moet ligloop vir valse kredietverskaffers.

Baie verbruikers het hul werk verloor weens die staat van afsondering wat ingestel is om te keer dat mense wat Covid-19 opdoen, die hospitale oorspoel. Hulle is desperaat vir ekstra geld en soek geleenthede om geld te leen om die wolf van die deur weg te hou.

Die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) waarsku dat verbruikers moet versigtig wees omdat daar nou skelms is wat maak asof hulle regte kredietverskaffers is wat jag maak op weerlose verbruikers gedurende die inperking deur lenings aan te bied wat sal uitbetaal indien jy ’n voorafbetaling maak, sê Nomsa Motshegare, hoof van die reguleerder.

“Ons kry gedurende hierdie tyd navrae van verbruikers oor ongeregistreerde ondernemings wat voorgee om geregistreerde kredietverskaffers te wees. Hulle bied lenings aan op teksboodskappe en e-posse,” verduidelik sy.

Hierdie skelms gebruik die registrasiebesonderhede van geregistreerde kredietverskaffers wanneer hulle verbruikers inlig dat ’n lening goedgekeur is. Voordat die lening uitbetaal word, moet die verbruiker ’n voorafbetaling maak, maar sodra die verbruiker betaal, verdwyn die skelms en die verbruiker is nog armer.

Die Nasionale Kredietwet verbied kredietverskaffers om ’n voorafbetaling te eis en verbruikers wat slagoffers van hierdie skelmstreek was, moet ’n aanklag van ’n strafregtelike misdaad by die polisie indien, sê Motshegare.

Ondernemings wat krediet verskaf moet by die reguleerder geregistreer wees en is dan onderworpe aan die bepalings van die Nasionale Kredietwet. Alle geregistreerde kredietverskaffers se besonderhede verskyn op die reguleerder se webtuiste (www.ncr.org.za) en verbruikers kan daar seker maak of ’n kredietverskaffer geregistreer is.

Watter kostes mag gehef word?

Volgens artikel 101 van die Kredietwet, wat handel oor die koste van krediet, mag ’n kredietooreenkoms net die volgende betalings insluit:

  • die hoofskuld;
  • aanvangsgelde;
  • diensgelde;
  • rente;
  • kredietlewensversekering;
  • ’n heffing vir wanbetalingsadministrasie; en
  • invorderingskoste.

Hoofskuld

Die bedrag wat jy leen of waarvoor jy finansiering, soos vir ’n motor, kry.

Aanvangsgelde

Die tarief wat die kredietverskaffer hef om die kredietooreenkoms met die verbruiker te sluit. Jy betaal dit net as die aansoek goedgekeur word en jy voortgaan daarmee. Die aanvangstarief mag nie meer as 15% van die hoofskuld beloop nie.

Diensgelde

Die diensgeld is die heffing wat jy betaal sodat die kredietverskaffer die ooreenkoms administreer en in stand hou. Jy mag nie meer as R50 per maand aan diensgeld betaal nie.

Rente

Rente is die bedrag wat jy aan die kredietverskaffer betaal op die uitstaande balans van die ooreenkoms. Jy mag nie meer rente as die voorgeskrewe bedrag vir elke soort lening betaal nie.

Kredietlewensversekering

Iemand wat lewenskredietversekering uitneem, se uitstaande skuld word gedek indien hy of sy permanent ongeskik raak om te werk, of sterf. Jy mag nie meer as R4,50 per R1 000 betaal vir versekering van ’n bedrag vir kredietgeriewe, ongesekureerde lenings, ontwikkelingskrediet of ander soorte kredietooreenkomste nie. Vir huislenings mag verbruikers nou nie meer as R2 per R1 000 van die versekerde bedrag betaal nie.

Wanbetalingsadministrasie

Hierdie bedrag mag net gehef word indien jy nie jou maandelikse paaiement betaal nie, vir onkoste om jou te laat weet dat jou betalings agterstallig is. Dit mag nie die voorgeskrewe maksimum vir die betrokke kategorie kredietooreenkoms oorskry nie.

Invorderingskoste

Die invorderingskoste mag ook net gehef word indien jy nie betaal nie en mag net die kredietverskaffer se werklike koste om die geld in te vorder, dek.

Kla hier:

Wanneer jy oor ’n kredietooreenkoms wil kla, moet jy eers by die kredietverskaffer self kla. Indien jou klagte nie opgelos word nie, kan jy kla by die Nasionale Kredietreguleerder. Besoek die reguleerder se webwerf by www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.