Verbruikersake: So help selfoondiensverskaffers en banke jou

Foto ter illustrasie. (Foto: Rupixen.com/Unsplash.)

Duisende verbruikers wat nog ’n maand gelede nooit kon dink dat hulle nie al hul skuld aan die einde van die maand sou kon betaal nie, begin nou wonder wat hulle gaan doen as hulle nie vir basiese dinge soos lugtyd en data sal kan betaal nie. Elektroniese kommunikasie is al wat mense nou laat voel hulle is deel van ’n groter geheel en om geldige inligting oor die nuwe koronavirus en die inperking te kry. Ina Opperman het gaan kyk hoe die verskillende diensverskaffers en banke verbruikers gaan help.

Die regering het die privaat sektor gevra om saam te werk om Suid-Afrikaners gedurende hierdie moeilike tyd te help en banke en kommunikasiediensverskaffers het al klaar planne gemaak om verbruikers by te staan.

Kommunikasiediensverskaffers

MTN SA het stappe gedoen om te verseker sy infrastruktuur bied genoeg kapasiteit vir verbruikers wat nou van die huis af werk en diegene wat met die wêreld in verbinding wil bly. Die maatskappy bied ook gratis oproepe (*130*119#) vir mense wat korona-infeksies wil aanmeld of ander kritieke inligting wil kry, sowel as twee Ayoba COVID-19-kanale met die jongste nuus en inligting en 20 MB gratis data op Ayoba Data Lifeline vir verbruikers om met familie en vriende in aanraking te bly.

Mense kan ook gratis vir mekaar bedrae van minder as R200 stuur op MTN se MoMo-app. Leerders in graad 10, 11 en 12 kry ook gratis toegang tot die e-leerplatform van die Siyavula-maatskappy, sowel as volledige toegang tot die leermateriaal, wat oefeninge en eksamenvoorbereiding insluit vir wiskunde, rekenaartoepassingstegnologie, inligtingstegnologie en fisiese wetenskap.

Vodacom gee ook gratis toegang tot die amptelike Suid-Afrikaanse COVID-19-webblad, al het gebruikers geen data of lugtyd oor nie. Die maatskappy het ook die kapasiteit van sy e-School-platform verhoog wat toegang bied tot inhoud in ál 11 amptelike tale vir leerders van grade R tot 12. Hierdie inhoud sluit take, vasvra en video’s in en voldoen aan die CAPS-curriculum.

Telkom bied ook gratis toegang tot die amptelike webblaaie van die Instituut vir Oordraagbare Siektes (IOS) en die department van gesondheid, sowel as gratis toegang tot opvoedkundige instellings se webblaaie.

Banke

Die banke het saam besluit om Saswitch-tariewe, wat jy betaal as jy by ’n ander bank geld trek, op te skort.

Die FNB bied sy kliënte wat ’n goeie naam by die bank het, vanaf 1 April ’n betalingsvakansie van drie maande. Dit sluit in om ’n deel van paaiemente te betaal of glad nie te betaal nie, ’n voorkeurtarief met geen tariewe vir maatreëls wat ingestel word, hulp met die verwerking van kredietversekeringseise en oorbruggingsgeriewe. Elke aansoek sal op individuele meriete hanteer word en verbruikers kan die bestaande elektroniese kanale gebruik om aansoek te doen.

Nedbank sal ook sy kliënte tegemoet kom wat vasbrand en weens kontantvloeiprobleme nie hul skuld kan terugbetaal nie. Dit sluit in die staking van terugbetalings of ’n deel daarvan, langer tyd om lenings terug te betaal en bykomende krediet om te help met tydelike kontantvloeiprobleme. Elke geval sal ook op meriete beoordeel word.

Standard Bank het besluit om vir sy kliënte wat minder as R7 500 per maand verdien, ’n outomatiese betalingsvakansie van drie maande op hul skuld te gee. Dit sluit huisverbande, motorfinansiering, kredietkaarte en persoonlike lenings in, maar sal net gedoen word vir kliënte wie se terugbetalings op datum is. Klein ondernemings met ’n omset van minder as R20 miljoen per jaar en heeltydse studente kry ook ’n betalingsvakansie van drie maande vir terugbetaling van lenings. Verbruikers wat meer as R7 500 per maand verdien, kan ook om skuldverligting aansoek doen.

Absa bied ook ’n betalingsvakansie van drie maande aan waartydens kliënte net ’n deel of geen van hul skuld betaal. Geen administrasiegelde sal gehef word nie. Maatskappye kan ook aansoek doen.

African Bank moedig ook kliënte aan om aansoek te doen vir ’n betalingsvakansie.

Wenk: Hou in gedagte dat rente en fooie op uitstaande saldo’s kan ophoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Ek wil ook net graag noem dat selfs my versekerings maatskappy my tegemoed gekom het met n aansienlike laer premie, mense moet ook nie daarvan vergeet nie.

Genis ·

Dankie Jaco, sal dit beslis ook beproef… as jy skaars jou motor gebruik, is die risko veel minder, as jy tuis is, is skade en diefstal ook minder… net snaaks dat versekerings maatskappye dit nie adverteer..

Johnny ·

Sien my kommentaar op die artikel “loop lig vir betaalvakansies”
Hierdie is nie suiwer hulp nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.