Verbruikersake: So maak jy met kredietburo’s

krediet-kredietkaarte-geld-bank

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Mens kom gewoonlik eers agter dat jy “geswartlys” is wanneer jy aansoek doen om krediet en jou aansoek word geweier. Hoewel die bedryf versigtig is om van ’n “swartlys” te praat, is dit genoeg om net die woord te noem voordat verbruikers van angs begin sweet, want wat kan jy daaraan doen? Ina Opperman verduidelik hoe kredietburo’s te werk gaan.

Die swartlys

Daar bestaan nie regtig ’n swartlys nie. Die term is voorheen gebruik toe kredietburo’s net negatiewe inligting oor verbruikers gehou het, maar dit word nie meer gedoen nie. Kredietburo’s hou nou ook al jou positiewe kredietinligting.

Die Nasionale Kredietwet

Artikel 43 van die Nasionale Kredietwet bepaal kredietburo’s mag inligting versamel en in stand hou oor jou ten opsigte van:

  • Kredietaansoeke;
  • Kredietooreenkomste;
  • betalingsgeskiedenis of betalingspatrone; en
  • verbruikerskredietinligting.

Kredietverskaffers gebruik jou kredietinligting om jou betalingsgeskiedenis na te gaan en te kyk hoe jy vorige skuld terugbetaal en bestuur het sodat hulle kan sien hoe groot die risiko sal wees om vir jou geld te leen en of jy dit sal kan terugbetaal. Die kredietverskaffer besluit of jy krediet kry en nie die kredietburo nie.

Kredietinligting

Artikel 70 van die Kredietwet beskryf verbruikerskredietinligting as jou kredietgeskiedenis, wat aansoeke om krediet, kredietooreenkomste wat jy gesluit het, jou betalingspatroon, skuldherstrukturering, stappe om betaling af te dwing en die omstandighede waarin kredietooreenkomste beëindig is, insluit.

Jou finansiële geskiedenis is ook deel van jou kredietinligting en sluit in:

  • jou vorige en huidige inkomste;
  • bates en skuld;
  • ander inligting oor jou finansiële vermoëns, vooruitsigte en verpligtinge;
  • opleiding, indiensneming, loopbaan en professionele of sakegeskiedenis;
  • jou identiteit, naam, geboortedatum, identiteitsnommer, huwelikstaat en familieverwantskappe;
  • vorige en huidige adresse; en
  • ander kontakbesonderhede.

Kredietverskaffers en kredietburo’s

Kredietverskaffers betaal om verbruikerskredietinligting by kredietburo’s in te dien en te gebruik.

Kredietburo’s moet volgens die Kredietwet:

  • redelike stappe doen om seker te maak verbruikerskredietinligting wat hulle ontvang, is korrek;
  • inligting vir ’n voorgeskrewe tydperk hou;
  • dadelik voorgeskrewe verbruikerskredietinligting uit sy boeke verwyder wat ingevolge die regulasies nie aangeteken mag word nie;
  • inligting aan kredietverskaffers verskaf wanneer jy om krediet aansoek doen of self vra vir jou kredietgeskiedenis;
  • nie ’n negatiewe gevolgtrekking maak oor jou kredietwaardigheid as dit geen inligting oor jou het nie; en
  • nie verkeerde inligting uitgee nie.

Jou regte

Artikel 72 van die Kredietwet bepaal dat jy die reg het om:

  • binne 28 dae deur ’n kredietverskaffer in kennis gestel te word voordat hy aan ’n kredietburo verslag doen oor enige voorgeskrewe ongunstige inligting oor jou;
  • te vra vir ’n afskrif daarvan;
  • een keer per jaar ’n gratis afskrif van jou kredietgeskiedenis te kry sodat jy kan seker maak dat al die inligting korrek is;
  • die korrektheid van enige inligting daarin te betwis;
  • van die kredietburo en verskaffer te verwag om enige foute te ondersoek en reg te stel;
  • te verwag dat kredietverskaffers wat verkeerde inligting aan kredietburo’s gee, jou vergoed vir die koste om die inligting reg te stel;
  • te verwag dat die kredietburo nie die betwiste inligting gebruik as deel van jou inligting wat verskaf word nie;
  • die kredietburo te bel om ’n afskrif van jou kredietgeskiedenis aan te vra;
  • die inligting te betwis deur die kredietburo se voorgeskrewe vorms in te vul en aan te stuur; en
  • by die kredietombudsman te kla indien jy nie binne twintig dae terugvoering kry nie.

Kredietverskaffers mag ook nie van jou verwag om ’n verslag van ’n kredietburo te kry wanneer jy om krediet aansoek doen nie. Die kredietverskaffer moet dit self doen.

Jou inligting

Verskillende soorte ongunstige inligting bly vir verskillende tydperke op jou kredietgeskiedenis:

  • Inligting oor skuld wat jy nie betaal nie, laat betalings, dat jy verdwyn het sonder om te betaal, stadige betalings of nie gekontak kan word nie, bly vir ’n jaar op jou kredietgeskiedenis; en
  • Inligting oor skuldinvordering deur kredietverskaffers, soos om regstappe te doen of jou skuld af te skryf, bly vir twee jaar lank.

Wanneer jy ’n agterstallige rekening ten volle betaal het, word die skuld nie dadelik van die lys verwyder nie, maar daar word aangedui jy het betaal.

Kredietburo’s hou nie inligting oor jou ras, etniese herkoms, politieke menings, geloof, lidmaatskap van vakbonde, jou gesondheid, seksuele voorkeure of kriminele oortredings nie.

Hoe om jou kredietgeskiedenis “skoon te maak”

Volgens artikel 71 van die Kredietwet kan jy, indien jy jou skuld laat herstruktureer het en dit afbetaal het, by ’n skuldberader aansoek doen vir ’n klaringsertifikaat, wat jy indien by die kredietburo. Die kredietburo moet dit dan uit sy boeke verwyder.

Kla hier:

  • Die kantoor van die kredietombud: 0861 662837 of stuur e-pos na [email protected].
  • Die nasionale kredietreguleerder: 0860 627 627 of 011 554 2600 of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.