Verbruikersake: Sou jy ’n bonus kry

(Foto: Maroela Media)

Daar is vanjaar beslis minder verbruikers wat so gelukkig gaan wees om ’n bonus of dertiende tjek te kry ná ’n jaar waarin almal se finansies drasties geraak is deur Covid-19. Diegene wat bonus kry, gaan ook ná ’n moeilike jaar voel dat ’n bietjie inkopieterapie net die ding gaan wees wat hulle beter sal laat voel. Dit is egter nou die tyd om ander soorte terapie te soek wat nie jou beursie gaan dunner maak nie, want jy moet liewer elke sent van jou bonus goed gebruik om te sorg dat 2021 nie so erg is as wat 2020 was nie. Ina Opperman gee raad oor wat jy met jou bonus kan doen om die volgende jaar ’n bietjie makliker te maak.

Jy kan jou bonus gebruik om verskeie gaatjies toe te stop, soos om skuld af te betaal, te spaar vir volgende jaar en ’n ietsie afknyp om jou gesin darem so ’n bietjie te bederf. Mens voel sleg omdat jou gesin ook deur ’n moeilike jaar is, maar wanneer julle volgende jaar nie so erg oor finansies hoef te stres nie, sal daardie skuldgevoel dat jy nie groot geskenke gekoop het nie, gou vervaag.

Suid-Afrikaanse verbruikers het baie skuld en hulle sukkel al van voor die pandemie begin het om dit te betaal. Boonop het baie van ons betalingsvakansies gekies toe die pandemie op sy ergste was en daar sit jy met nog ekstra skuld wat jy moet betaal.

Die beste opsie is om jou bonus te verdeel tussen alles wat betaal moet word. Jy kan begin deur ’n begroting op te stel net vir jou bonus en dit te verdeel tussen skuld, voorsiening maak vir 2021, dalk ’n bietjie spaar en ietsie om jou geliefdes mee te bederf.

Verminder jou skuld

Wanneer mens finansiële kenners vra wat om met ekstra geld te doen, het almal verskillende menings, maar almal sal sê jy moet heel eerste jou skuld afbetaal voordat jy enigiets anders koop of spaar, want die rente wat jy spaar op jou skuld, is die beste manier om te spaar as jy skuld het.

Begin met ’n lysie van al jou skuld en bepaal waarop betaal jy die meeste rente. Jou kredietkaart is gewoonlik jou duurste skuld en indien jy die geld in ’n noodgeval moet gebruik, is dit steeds beskikbaar. Die volgende item op jou lysie sal persoonlike lenings wees en daarna klererekeninge.

As jy gelukkig genoeg is om nog geld oor te hê vir skuld afbetaal, kan jy ’n bykomende bedrag in jou huisverband inbetaal om dit vroeër af te betaal en verder op rente spaar.

Maak gereed vir 2021

Onthou hoe lank het 2020 gevoel – asof dit vir ewig gaan aanhou. Dink nou aan hoe Januarie gaan voel as jy al jou geld nou opgebruik. Onthou, jy moet nog skoolklere en skryfbehoeftes koop en nog geld oorhou vir al die gewone maandelikse uitgawes.

Gebruik jou bonus vir eenmalige betalings vir die jaar, soos skoolgeld en versekering, wat jy vooruit kan betaal. Gewoonlik kry jy afslag as jy in Januarie vir die jaar betaal en jy hoef nie snags wakker te lê oor nog ’n rekening wat nie betaal is nie.

Spaar of belê

As jy kan, spaar van jou bonus. Suid-Afrikaners is daarvoor bekend dat hulle nie spaar nie, maar ons het vanjaar gesien wat gebeur as jy nie geld wegsit vir moeilike tye nie.

Bederf jou gesin

Baie verbruikers ry ook vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie en nou voel mense nog slegter dat jy nie baie geld het om uit te gee op speelgoed en vakansie nie. Hou ’n bietjie van jou bonus uit en gebruik dit om jou gesin te bederf. Vind veilige aktiwiteite wat goedkoop is of koop vir die gesin speletjies, boeke en kunsmateriaal om julle deur die vakansie besig te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.