Verbruikersake: Spaar só elke dag

spaar-sente

Foto: Rawpixel/Unsplash.com

Die ekonomie druk elke dag harder op ons beursies en met pryse wat aanhou styg, moet verbruikers allerhande planne bedink om hul begrotings te laat klop. Dit raak al hoe belangriker om spaarsamig te wees, maar waar begin mens? Ina Opperman het gaan kyk hoe mense daagliks besnoeiend kan lewe deur ’n paar wenke in gedagte te hou.

Dit is belangrik om spaarsamig te wees op alle gebiede in jou lewe, elke liewe minuut van die dag. Jy moet altyd weet hoeveel geld jy beskikbaar het om op daaglikse uitgawes te bestee, hoeveel jy gespaar het en natuurlik hoeveel jy kan bestee op luukshede. Die beste manier om dit te doen, is om ’n begroting saam te stel en daarby te hou.

Waarheen gaan jou geld?

Wanneer jy nie by ’n begroting hou nie, is dit maklik om geld uit te gee asof dit op jou rug groei. As jy egter ’n begroting saamstel, is dit makliker om te sien hoeveel geld jy uitgee en waarop. Begin só om ’n begroting op te stel:

• Skryf vir ’n maand lank elke sent wat jy uitgee neer en waarop jy dit uitgegee het. Nou sal jy sien hoeveel geld jy uitgee op luukshede, soos wegneemetes en vermaak.
• Gebruik hierdie lys om ’n begroting saam te stel sodat jy kan sien watter uitgawes jy kan sny en watter noodsaaklik is.
• Maak voorsiening vir ’n bedrag wat jy maandeliks spaar vir moeilike tye soos ’n motor wat breek of onvoorsiene mediese uitgawes. Wanneer jy jou begroting saamstel, en sien waar jy kan spaar, kan jy die bedrae wat jy spaar in jou spaarrekening bêre.
• Wees ook op die uitkyk vir winskopies om te spaar op versekering, bankkoste of selfoonkoste. As jy net R100 op bankkoste spaar elke maand, spaar jy R1 200 in ’n jaar.

Jou begroting

Stel jou begroting op skrif in ’n boek waartoe die hele gesin toegang het. ’n Begroting op ’n los stuk papier beland maklik in die asblik.

• Skryf in die linkerkantse kolom al jou grootste en noodsaaklike uitgawes neer, soos verblyf, vervoer, water en elektrisiteit, selfone, internettoegang, versekering, skuld, spaargeld, skoolgeld, kruideniersware, klere en salaris vir jou huishulp. Nou kan jy luukshede byvoeg, soos boeke, fliek, vermaak, wegneemetes, uiteet, vakansie en ietsie om jouself mee te bederf.
• Skryf nou jou salaris en ander inkomste in die regterkantse kolom neer.

Skop die skuldmonster uit

Mens kan nie werklik spaar as jy skuld het nie. Niemand kan ’n huis of motor kontant koop nie, maar die feit bly staan dat minder skuld die beste manier is om te spaar.

• Los jou plastiekgeld by die huis wanneer jy winkels toe gaan en vat net jou debietkaart om te verseker jy gee net geld uit wat jy het.
• Sê nee dankie vir aanbiedings om nog skuld te maak.
• Betaal elke maand ’n bietjie meer aan jou skuld sodat jy dit gouer afbetaal.

Spaar op finansiële dienste

• Maak seker jy kies die mees bekostigbare opsie vir bankdienste.
• Betaal ’n bietjie ekstra op jou huislening om te spaar op rente.
• Moenie onnodig op krediet koop nie. Betaal kontant vir kruideniersware en spaar vir ander duur items.
• Indien jy wel ’n kredietkaart gebruik, maak seker dat jy die balans elke maand betyds afbetaal sodat jy nie rente daarop betaal nie.
• Maak seker jy betaal die laagste moontlike premies vir versekering deur met jou versekeraar te onderhandel oor ’n beter prys.

Spaar op jou motor

• Laat jou motor gereeld versien om te verseker dit gebruik nie te veel brandstof nie en dat jy nie geld moet uitgee vir groot herstelwerk nie.
• Wanneer jy brandstof laat ingooi, laat sommer ook gereeld die olie, water en banddruk nagaan.
• Jou motor sal ook meer ekonomies wees as die bande reg opgepomp is en gereeld vervang word.
• Beplan jou ritte om seker te maak jy ry nie onnodig op en af nie.

Spaar tuis

• Jou elektrisiteitsrekening is een van die grootste geldvrate in jou huis. Maak werk daarvan om minder elektrisiteit te gebruik deur ’n tydskakelaar op jou geiser te installeer wat dit vir die grootste deel van die dag afsit. Skakel alles in ’n kamer, soos die ligte en televisie, af as niemand in die kamer is nie en vervang gloeilampies met ander wat minder krag gebruik. Was klere in koue water en beperk die gebruik van ’n tuimeldroeër. Wanneer jy weer nuwe toestelle koop, maak seker dit gebruik minder krag.
• Water is deesdae ook duurder en daarom maak dit ook sin om water te bespaar. Sorg dat lekkende krane herstel word, gebruik gryswater vir die tuin en vervang vol baddens en lang storte met ’n kort stort.
• Kies televisiekanale wat minder kos.
• Hou jou huis in stand deur gereeld werk te maak van krake en stukkende geute. Hou ook jou tuin in stand.

Spaar op selfone

• Koop ’n goedkoper selfoon en betaal kontant daarvoor.
• Beplan oproepe sodat jy eerder jou gratis minute gebruik.
• Gaan jou selfoonrekening na en kanselleer onnodige dinge wat ekstra kos.

Spaar by die winkel

• Wees op die uitkyk vir winskopies.
• Lees die eenheidsprys op die rakke by klein handelaars en kyk watter grootte kos die minste per 100 gram of 100 milliliter.
• Gebruik afslagkoepons waar moontlik.
• Beplan wat jy gaan koop en maak ’n lysie waarvan jy nie afwyk nie.
• Probeer om vars produkte te koop wat vrygestel is van BTW.
• Vergelyk pryse om te sien waar jy kan spaar.
• Koop duur klere, soos baadjies en jasse, aan die einde van die winter op uitverkopings.
• As jy jouself met iets duur wil bederf, stel dit vir ’n paar dae uit en dink eers of jy regtig soveel geld wil uitgee.

Spaar by die skool

• Koop generiese skoolklere soos wit hemde, grys broeke en skoolskoene by goedkoper winkels.
• Koop skoolklere soos baadjies by die skool se tweedehandse winkel. Koop ook skoolboeke daar.
• Spaar om aan die begin van die jaar die skoolfonds vooruit te betaal vir die jaar. As jy dit doen, kry jy gewoonlik afslag.

Spaar by die werk

• Pak vir jou middagete in om werk toe te vat eerder as om iets ten duurste te koop.
• Vat liewer kraanwater werk toe as om gebottelde water te koop.

Spaar met pret

• Doen lekker dinge soos piekniek hou, wat minder kos as fliek.
• Besoek eerder die biblioteek of ’n tweedehandse boekwinkel as om nuwe boeke te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos1 ·

Gaan jou motor se vloeistofvlakke en bande self na. ‘n Foutjie van ‘n petroljoggie kan jou baie geld kos!

Connie ·

Tel jou kleingeld by die kasregisters. Ek is nou onlangs by Clicks twee keer verneuk en een keer by Pick ‘n Pay.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.