Verbruikersake: Stop pesoproepe só

slimfoon-pexels-pixabay

Foto: Pexels/Pixabay.com

Selfone maak dit darem makliker om te sien of dit iemand is wat jy ken wat bel, maar soms antwoord mens maar en dit is dan wanneer ’n knaende televerkoopspersoon jou ore van jou kop af probeer praat om enigiets van krediet tot selfoonkontrakte aan jou te verkoop. Terwyl mens besef dat hierdie mense ook maar net ’n werk doen, is dit moeilik om jou nie te vererg vir hierdie vreemdeling wat jou op jou doopnaam aanspreek en daarop aandring om te weet hoe dit met jou gaan nie. Ina Opperman verduidelik dat jy darem regte het om die oproepe te staak en nie buite sekere tye gebel te word nie.

Wanneer iemand jou bel om iets aan jou te verkoop, sonder dat jy gevra het dat die persoon jou kontak, word dit direkte bemarking genoem. Direkte bemarking word breedvoerig in die Wet op Verbruikersbeskerming gereguleer.

Volgens die Wet is dit direkte bemarking wanneer iemand jou kontak om direk of indirek iets te koop of geld te skenk. Dit sluit ook teksboodskappe, e-posse, briewe en fakse en die jongste gier – opgeneemde bemarkingsboodskappe wat speel wanneer jy antwoord – in.

Die Wet beskerm jou teen direkte bemarking as deel van jou reg as verbruiker op privaatheid en keuse en bepaal wanneer iemand jou mag bel om iets aan jou te verkoop, wat jy kan doen om dit te stop en dat jy ’n koopooreenkoms kan kanselleer tydens ʼn afkoelperiode sou jy wel iets koop.

Hou op bel!

Artikel 11 van die Wet bepaal dat jy die reg het om te weier om met die televerkoopspersoon te praat, te eis dat hulle ophou om jou te bel en hulle te blokkeer. Jy kan ook eis dat jou besonderhede van die maatskappy se lys van kontakte verwyder word.

Hierdie artikel bepaal ook dat oproepsentrums wat direkte bemarking doen, prosedures moet hê wat dit maklik maak om jou besonderhede te verwyder. Hulle mag jou dan nie weer kontak nie.

Die Nasionale Verbruikerskommissie is volgens die Wet veronderstel om ʼn “Geen Kontak”-register te hê waar jy jou identiteitsnommer, adres of ander besonderhede kan registreer sodat direkte bemarkers jou nie kan kontak nie, maar die kommissie het nie ’n begroting daarvoor nie en die register is nog nie in werking nie.

Deesdae kry mens ook ’n dikwels ‘n elektroniese stem wat ‘n advertensie aframmel wanneer jy jou foon antwoord. Luister maar tot die einde van die oproep sodat jy kan hoor watter knoppie om te druk sodat jou naam van die lys verwyder kan word.

Moenie instem nie

Volgens regulasie 12 mag direkte bemarkers jou net kontak as jy ingestem het daartoe. Jy doen dit soms wanneer jy ’n vorm invul en ’n regmerkie maak in die blokkie wat aandui dat hulle jou mag kontak oor promosies of spesiale aanbiedings. Dit beteken egter net die betrokke maatskappy kan jou kontak en niemand anders nie. As jy dus nie gepla wil word nie, moenie hierdie blokkie merk nie.

Al het jy aangedui dat jy gekontak kan word, mag hulle jou ook net kontak op tye wat deur artikel 12 en die regulasies vervat in Kennisgewing 34180 vasgestel is. Niemand mag jou op Sondae en openbare vakansiedae bel nie en op weeksdae net tussen agtuur in die oggend en agtuur in die aand en op Saterdae tussen nege-uur in die oggend en eenuur in die middag, tensy jy skriftelik ingestem het dat hulle jou op ander tye kan bel.

Koel af!

Volgens artikel 16 het jy ʼn afkoelperiode om te kanselleer as jy iets tydens ʼn direkte bemarkingstransaksie koop. Jy kan die transaksie op skrif kanselleer binne vyf dae, maar jy moet kan bewys wanneer jy die kansellasiebrief gestuur het en jy hoef nie ʼn rede te gee waarom jy kanselleer nie. Jy moet jou geld binne 15 werksdae terugkry.

Kla hier

Kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantoor vir Verbruikersake oor lasposte wat die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming verontagsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Ek het so ‘n probleem met RCS. Hulle bel, stuur briewe, e-pos, sms en deesdae sommer WhatsApps ook. Ek het al mooi gepraat, stilgebly, gevloek, gedreig en die foon net doodgedruk, maar niks help nie. Binne ‘n week of twee begin hulle weer. Hoe stop mens hulle? Dis soos ‘n slegte uitslag wat nie wil weggaan nie.

Wielspore ·

Truecaller werk puik, jy kan self nommers bestuur en staatmaak op ander se terugvoering. As die selfoon lui raak die skerm rooi met ‘n boodskap “suspected SPAM caller” en dan druk jy net die rooi knoppie en lys hom as SPAM. As iemand weer van dieselfde nommer af skakel lui jou selfoon net eenkeer en dan reject hy die oproep, so die persoon wat bel kry dan die boodskap, by weg.

charmaine ·

RCS, MyWay, ADT, Bonitas, Consolidate debt,MTN dis gewoonlik wie my pla maar hulle is almal geblok.
MiWay bel net weer van n ander nommer af! BLOK 1, 2,3!!

Leon ·

Jy blokeer hom, dan bel hy jou op ‘n ander nommer. Ek 498 nommers van dieselfde maatskappy wat my al gebel het. Hulle stop nie. Moenie kla nie, want niemand kan iets daaraan doen nie.
Dit moet as ‘n euwel beskou word en deur die wet verbied word. Die bellers moet ‘n R1 miljoen boete kry en hulle handelslisensie moet gestop word.

Anoniem ·

Ek antwoord my foon en plaas die foon rustig eenkant neer sodat hulle met hulself kan gesels. Hulle mors nie my tyd en geld nie.

Gawie ·

Van hierdie mense raak agressief as jy vir hulle verduidelik jy stel nie belang nie. Aangesien ek tans werkloos is, probeer ek so vroeg as moontlik in die gesprek om dit só aan die persoon te verduidelik dat ek huidiglik nie kan bekostig om hulle produk te koop nie. Ek is menigmaal – veral deur een spesifieke maatskappy – uitgeskel dat ek onbeskof is. Lyk my dit is hulle tegniek om jou te probeer oordonder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.