Verbruikersake: Stormskade en jou huisversekering

weer-storms-huis-dakloos-versekering

Argieffoto: Blitzmaerker/Pixabay.com

Dit is weer stormseisoen in die somerreënvalstreke van die land en daarom is dit baie belangrik om te verseker jy en jou huis oorleef storms en vloede. Versekeraars het al klaar ’n hopie eise op hul tafels van die storms wat tot dusver skade veroorsaak het en van hierdie eise sal afgewys word omdat die verbruiker nie die huiseienaarsversekeringspolis gelees het of goed verstaan het nie. Ina Opperman verduidelik meer oor huiseienaarsversekering en hoe dit werk in die geval van skade wat deur ’n storm veroorsaak word.

Verbruikers het huiseienaarsversekering nodig in ’n tyd van storms, want dit dek die struktuur van jou huis in geval van natuurrampe soos storms of ander rampe soos brande. Jou huiseienaarsversekering kan op versoek ook jou motorhuis en swembad insluit saam met alle ander verbeterings, soos ingeboude kombuiskaste.

Wanneer jy ’n huislening uitneem, sal jou bank waarskynlik van jou verwag om huiseienaarsversekering ook uit te neem, maar daar is geen wetgewing wat dit verpligtend maak as jy nie ’n huislening het nie.

Banke vereis huiseienaarsversekering om jou en die bank teen die risiko van strukturele skade aan jou huis te verseker. Verbruikers kanselleer soms hul huiseienaarsversekering wanneer hulle hul huise afbetaal het, maar dit is nie ’n goeie idee nie omdat jy dan self verantwoordelik is vir skade aan jou huis.

Jy het wel ’n keuse om jou huiseienaarsversekering by ’n ander versekeraar as die een wat gewoonlik aan die bank gekoppel is, uit te neem, volgens die Wet op Korttermynversekering. Jou bank kan vereis dat jy bewys lewer van hierdie versekering.

Huiseienaarsversekering is ’n goeie idee

  • Indien jou huis beskadig word in ’n storm, word herstelwerk gouer gedoen en jy hoef nie eers die geld bymekaar te skraap daarvoor nie.
  • Indien jou versekering nooddekkingsversekering insluit, sal die versekeraar noodherstelwerk laat doen om te verseker jou huis word nie verder beskadig nie.
  • As jy jou huis moet ontruim omdat dit onbewoonbaar is, betaal jou versekering vir ander blyplek totdat jou huis herstel is.

Kies die regte opsie

  • Besluit vooraf wat jy alles gedek wil hê.
  • Hou ook in gedagte dat klimaatsverandering deesdae baie erger storms as ooit veroorsaak en dat jou huis nie noodwendig gespaar sal bly omdat jy een straat verder van ’n spruit af bly nie.
  • Vra ’n paar versekeraars vir ’n kwotasie voordat jy besluit, maar maak seker jy vergelyk appels met appels – al die kwotasies moet dieselfde voordele vir dieselfde risiko bied.
  • Onthou ook dat vervangingskoste van huis tot huis verskil. As jy ’n duur kombuis laat inbou het, moet jy seker maak dit is so aangedui op jou polis. Dit is jou verantwoordelikheid om seker te maak dat jou versekering voldoende is.

Wat word gedek

  • Brande, ontploffings en aardbewings
  • Natuurrampe, soos skade veroorsaak deur wind, donderweer, weerlig, storms, hael, vloede of sneeu
  • Waterpype wat bars
  • Diefstal
  • Kragstuwings
  • Iets wat in jou huis vasry of daarop val en skade veroorsaak
  • Skade wat per ongeluk veroorsaak word
  • Veranderings en verbeterings
  • Heffings vir die brandweer om ’n brand te blus
  • Tydelike verblyf
  • Aanspreeklikheid teenoor ander partye.

Uitsluitings

Maak seker wat jou polis nie dek nie, soos:

  • Skade veroorsaak deur swak onderhoud;
  • Engie skade wat nie skielik en onvoorsien gebeur nie;
  • Skade wat deur jou troeteldiere veroorsaak word, soos krapmerke; en
  • Skade wat veroorsaak word deur plantegroei.

Gewoonlik sal jou versekering ook nie skade dek indien jy vir ’n lang tyd nie in jou huis gewoon het voordat dit beskadig is nie.

Verseker ook die inhoud van jou huis

Ander korttermynversekering, soos huisinhoudversekering, is ook nie verpligtend nie, maar is wel nodig as jou huis in ’n storm beskadig word. Onthou, huiseienaarsversekering dek net die struktuur van jou huis en nie die inhoud nie. Wanneer jy die inhoud van jou huis verseker, sal dit ook vervang word in geval van natuurrampe, diefstal, inbrake en brande. Huisinhoud sluit in meubels, gordyne, toestelle en klere.

Wenke

  • Dien jou eis so gou as moontlik in;
  • Wees eerlik; en
  • Maak seker daar is nie plekke om jou huis waar water kan opdam nie, soos verstopte wateruitlaatpype.

Kla hier:

Kla oor korttermynversekering by die Ombudsman vir Korttermynversekering. Besoek die webtuiste by www.osti.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Stefan

As iemand ‘n onwettige meth produksie lab bedryf in ‘n huurhuis en die plek brand af, betaal die versekering dan uit as die eienaar van die huis blykbaar van niks geweet het nie?