Verbruikersake: Up Money se doppie geklink?

Een van die foto’s op Up Money se Facebook-blad. (Foto: Facebook)

Die Up Money-skema wat gedurende die inperking groot aftrek gekry het omdat mense kospakkies en vleis, sowel as kontant, belowe is as hulle nog lede werf, se doppie is waarskynlik geklink. Dié skema, wat op WhatsApp aangedryf is, het van verbruikers vereis om R180 te betaal om aan te sluit. Diegene wat dan vyf of meer lede gewerf het, het gekwalifiseer vir kruideniersware in die skema wat die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) ’n piramideskema noem. Ina Opperman het gaan kyk wat intussen gebeur het.

Volgens die kommissie het nuwe lede die basis van die piramide gevorm en die befondsing verskaf vir lede wat reeds gewerf is en op hoër vlakke van die skema is. Die skema is bemark as ’n stokvel, ’n tradisionele Suid-Afrikaanse gemeenskapsgegronde spaarskema en die promotors het die piramideskema as ’n stokvel vermom, sê die kommissie.

Ken piramideskema só uit

Volgens die Wet op Verbruikersbeskerming is ’n piramideskema ’n ooreenkoms, praktyk of skema waarin deelnemers vergoeding verdien deur hoofsaaklik nuwe deelnemers te werf eerder as om goedere en dienste te koop en verkoop.

Volgens die ondersoekers het verskeie faktore hulle laat dink dat die skema eintlik ’n piramideskema is. Hulle verduidelik dat kontantvloei in ’n wettige onderneming ontstaan uit belegging, finansiering en/of bedryfsaktiwiteit. Die opbrengs van die aktiwiteite word aangeteken in die finansiële state van die onderneming, naamlik die balansstaat en die inkomstestaat en uiteindelik die kontantvloeistaat.

Up money het geen belegging, finansiering of beleggingsaktiwiteit in ooreenstemming met die internasionale rekeningkundige standaard 7 (“IAS 7”) nie. Alle vergoeding aan deelnemers het berus op die werwing van nuwe deelnemers. Geen goedere of dienste is teen ’n tarief verkoop en versprei om ’n inkomste te verdien nie.

Ook ’n vermenigvuldigingskema

Buiten die piramideskema, het Up Money ook ’n vermenigvuldigingskema bedryf en beloftes gemaak aan deelnemers, verbruikers en beleggers in die skema dat hulle ’n rentekoers van 20% bo die repokoers van die Reserwebank sal verdien. Die belofte om ’n belegging van R20 te verander in kruideniersware en R500 elke dag, beteken die rentekoers wat aangebied is, werk uit op 125% per jaar en is heelwat meer as die 20% wat in artikel 43 (3) van die Wet op Verbruikersbeskerming genoem word.

Straf vir die operateurs?

Die ondersoekers sê uit die oogpunt van die Wet is dinge ingewikkeld omdat dit nie ’n wettige onderneming is nie, maar ’n geldmaakskema. Oor die algemeen mag die administratiewe boete nie meer wees as 10% van die onderneming se totale omset of R1 000 000 wees nie.

Strafregtelike ondersoek

Die skema word ook strafregtelik ondersoek en die kommissie het ’n verklaring aan speurders gegee en ’n preserveringsbevel is deur die Hooggeregshof in Johannesburg uitgereik vir die volgende bates van die skema:

  • ’n Bedrag van R18,36 miljoen in ’n First National Bank Gold-sakerekening in die naam van Up Money (Pty) Ltd;
  • ’n Bedrag van R205 586 in die naam van Uniitco (Pty) Ltd. Hierdie rekening is geïdentifiseer deur die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS) omdat R3 950 000 uit die bogenoemde rekening daar inbetaal is; en
  • Drie luukse voertuie: ’n Audi TT, ’n Hummer H3 en ’n Jaguar XKR Coupe, wat direk gekoop is uit die Uniitco (Pty) Ltd-bankrekening en geregistreer is in die naam van ’n direkteur.

Wat word van die deelnemers se geld?

Volgens die NVK is hy baie ernstig daaroor dat deelnemers nie hul geld moet terugkry nie, aangesien deelname aan ’n piramideskema onwettig is ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming. Die ondersoekers sê terwyl die Wet geanker is op die beskerming van weerlose verbruikers, het Covid-19 sake vererger en daarom is dit nog makliker om verbruikers om te praat om aan die skema deel te neem.

Oppas hiervoor, sê NVK

  • Meer skemas duik op in moeilike tye soos nou met Covid-19.
  • Skemas belowe verbruikers ’n vinnige, maklike pad uit hul ellende.
  • Enige belegging wat egter soveel meer rente bied as die banke, moet beskou word as ’n skelmspul totdat bewys word dat dit nie een is nie.

As jy wil raad vra of kla:

Tree in verbinding met die Reserwebank of die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (Gofs) om seker te maak dat entiteite geregistreer is as banke of verskaffers van finansiële dienste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

As jy jouself uitgee as ‘n toffie, moet jy gekou word.

Vlooi ·

Die Grendelstatus het bewys dat die wat arm is net nog armer geword het, maar dat die bose magte wat slinkse planne in die mou gevoer het skatryk geword het. Waarheen nou, met die voorbeeld van bo af, hoe het ons anders verwag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.