Verbruikersake: Vermy die pyne van direkte bemarking

telefoon-oproep-bel

Foto: Berkeley Communications/Unsplash.com

As daar nou een pyn is waaroor verbruikers saamstem, is dit jou foon wat onophoudelik lui met mense aan die ander kant wat alles van selfoonkontrakte tot versekering aan jou wil verkoop. Terwyl jy soms ’n goeie winskopie kan teëkom, kan jy net so maklik jouself vasteken (oor die foon!) en jare lank vir jou fout betaal. Die goeie nuus is dat jy as verbruiker spesiale regte het kragtens die Wet op Verbruikersbeskerming wanneer dit kom by direkte bemarking. Ina Opperman verduidelik wat jou regte oor direkte bemarking is.

Wat is direkte bemarking?

Die Wet op Verbruikersbeskerming definieer direkte bemarking as die proses wanneer iemand jou kontak om direk of indirek iets te koop of geld te skenk. Wanneer jy ’n maatskappy gebel het om iets te koop en iemand bel jou terug, is dit nie direkte bemarking nie. Wanneer jy op ʼn advertensie reageer of iets koop in ʼn winkel, is dit ook nie direkte bemarking nie. Die direkte bemarking moet van die onderneming af kom sonder dat jy voorheen met hulle kontak gehad het.

Hoe beskerm die Wet op Verbruikersbeskerming jou?

Die wet beskerm jou reg op privaatheid en jou reg tot keuse in artikels 11 en 16. Regulasie 4 en 12 van die wet bepaal duidelik wanneer verkoopsmense jou mag kontak, wat jy kan doen om direkte bemarking te keer en hoe jy ’n transaksie kan kanselleer as jy wel ingee en iets koop.

Artikel 11

Artikel 11 gee jou die reg om direkte bemarking te beperk. Jy kan weier om direkte bemarking toe te laat, eis dat die maatskappy ophou om jou te kontak en direkte bemarking blokkeer. Dit beteken jy kan vereis dat direkte bemarkers jou nie weer kontak nie en jou naam van hul lyste verwyder.

Volgens artikel 11 moet iemand wat direkte bemarking magtig, beheer of uitvoer, prosedures instel wat dit vir jou makliker sal maak om te eis dat hulle ophou om jou te kontak en dat jy nie weer gekontak word nie. Direkte bemarkers mag jou ook nie geld laat betaal om jou uit te los nie.

 Geen kontak-register

Die Wet maak voorsiening vir ʼn Geen Kontak-register waar verbruikers met hul identiteitsnommers, adres of alle besonderhede kan registreer as hulle nie deur direkte bemarkers gekontak wil word nie. Die Nasionale Verbruikerskommissie het egter nog nie die register aan die gang gekry nie.

Sodra die register ingestel word, sal die blok binne 25 dae nadat jy geregistreer het, aktief wees. Ondernemings sal dan, tensy hulle kan bewys dat jy ingestem het tot direkte bemarking, moet aanneem dat alle ander verbruikers wel geregistreer het om direkte bemarking te keer. Direkte bemarkers sal ʼn tarief moet betaal om by die register te registreer en hul besonderhede jaarliks bywerk.

Verbruikers stem gewoonlik op skrif in tot direkte bemarking, wanneer jy byvoorbeeld aansoek doen vir krediet by ʼn winkel en jy moet ʼn blokkie merk dat jy inligting wil ontvang oor spesiale aanbiedings of nuwe produkte. Indien jy dit doen, mag net die betrokke winkel jou egter kontak en nie ander maatskappye nie.

Artikel 12

Artikel 12 en Kennisgewing 34180, wat in die Staatskoerant gepubliseer is, maak dit duidelik dat direkte bemarkers jou nie op Sondae en openbare vakansiedae mag kontak nie en op weekdae net tussen agtuur in die oggend en agtuur in die aand en tussen negeuur en eenuur op Saterdae. Hulle mag jou egter op ander tye kontak indien jy daartoe ingestem het. Hierdie regulasie geld ook vir e-posse.

Direkte bemarking in jou posbus

Volgens regulasie 4 van die wet kan jy op jou posbus aandui dat jy nie direkte bemarkingsmateriaal wil hê nie. Niemand mag dan hierdie materiaal in jou posbus sit of dit selfs daar naby in jou hek druk nie.

Artikel 16

Artikel 16 bepaal dat jy ʼn afkoelperiode het as jy iets tydens ʼn direkte bemarkingstransaksie gekoop het. Jy kan die transaksie op skrif binne vyf dae nadat jy die transaksie gesluit het, kanselleer of nadat die produk afgelewer is, wat ook al laaste gebeur het. Jy moet kan bewys dat jy dit binne vyf dae gedoen het, maar jy hoef nie ʼn rede vir die kansellasie te gee of ʼn boete te betaal omdat jy gekanselleer nie.

Die onderneming moet dan enige geld wat jy betaal het, binne 15 werkdae terugbetaal as die produkte nog nie afgelewer is nie, of indien die produkte wel afgelewer is, binne 15 nadat die onderneming die produkte terugontvang het. Indien jy die produkte al gebruik het, kan die onderneming ʼn billike tarief hef daarvoor.

Wanneer geld hierdie bepaling nie?

Hierdie artikel is nie van toepassing op ʼn transaksie indien artikel 44 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies daarop van toepassing is nie.

Kla hier:

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor ondernemings wat hulle nie by hierdie bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

WIEBO ·

Ek doen direkte bemarking nou al vir die afgelope 7 jaar, en bel ongeveer 800 mense per week. Interessant dat dames die ongeskikste is en vreeslik vloek. Naas hulle is dit ou tannies wat die vreeslikste vloekwoorde gebruik. Wees net asseblief beskaafd. Ek is ook n mens wat n eerlike werk doen!

Judge Dredd ·

Eerbare werk ??
Baie besighede koop/verkoop databasis van kliente inligting van ander besighede, en bel dan mense wat geensins ingestem het vir hul direkte bemarking.

95% van direkte bemarkers is ‘n groot irritasie.

Antoinette ·

Selfone is fantasies – Sodra ek ‘n oproep van ‘n direkte bemarker gekry het en beskaaf nee gese het en die oproep be-eindig het, blok ek die nommer op my selfoon (reject call) en Voila hulle kan my nie weer bel nie. Ek kry al hoe minder oproepe

Ander Gert ·

Ek het so paar jaar terug deur ‘n sekere bekende organisasie blomme laat aflewer. Daarna het ek gereeld per e-pos advertensies van hulle ontvang. Ek het ‘unsubscribe’, maar steeds soms e-pos ontvang, en het daardie adres toe geblok.

Meer onlangs het ek toe vanaf ‘n ander adres advertensies van hul bemarkings bestuurder begin kry. Ek het die ‘unsubscribe’ skakel gevolg en op ‘n bladsy geland waar hulle vir ‘n “second chance” vra. Daar kan mens se hoe gereeld jy van hulle e-pos wil kry. Ek het vir die daaglikse opsie ingeskryf, en het my profiel met hul bemarkingsbestuurder se e-pos adres en telefoon nommer opgedatteer. Wat hy saai sal hy maai.

Mel ·

Ek was laas week gebel deur iemand van Discovery. Toe ek hul vra waar het hul my nommer gekry, toe antwoord hulle hul mag nie vir my sê ni. Ek het hul gevra om my nommer van hul lys te verwyder, want ek stel nie belang nie.

SeMaarNet ·

Jy mag hul vra om vir jou te se waar hul jou nommer kry. Die POPI wetgewing gee jou daai reg. Hulle koop daai inligting. Dit is dus oneerlik bekom.

Heinrich van Zyl ·

Omtrent alle 010 en 087 nommers is van iemand wat iets aan jou wil verkoop.
Dring by die bemarker daarop aan dat jy sy/haar selnommer wil hê, aangesien hy/sy joune het. Of hy gee sy persoonlike nommer, of jy druk die rooi knoppie.

Manie ·

Dus snaaks niemand noem hoe sleg die pad lyk tussen Stoffberg en Middelburg waar 7 mense dood is.

Djerrie ·

Ek het ‘n bekende oproep-blokkeerder vir ‘n tyd lank op my iPhone gebruik, maar nie die idee gekry dat die gemors-oproepe werklik stop nie. Ek het êrens gelees dat hierdie sogenaamde “call blockers” tog wel ‘n mens se nommer aan derde partye verkoop. Ek gebruik tans “Phone Pattern Blocker”. Dié “app” is nie gekoppel aan enige eksterne databasisse nie en die blokkering gebeur plaaslik op jou foon, wat baie veiliger is. ‘n Mens sleutel tipies iets soos 27 11074XXXX op die lys in en dit blokkeer dan alle nommers wat begin met die string 27 11074 (fiktiewe voorbeeld). Sover lyk dit of die programmetjie werk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.