Verbruikersake: Verskillende waarborge onder die vergrootglas

beursie-koop-betaal

Foto: JESHOOTScom/Pixabay.com

Verbruikers is dikwels verward oor die verskil tussen “warranty” en “guarantee” in advertensies wat net in Engels beskikbaar is. In Afrikaans word albei terme gewoonlik vertaal as waarborg en ons almal weet wat ʼn waarborg is. Of nie? 

Die terme “guarantee” en “warranty”, of dan waarborg, is ʼn belofte dat ʼn maatskappy iets wat jy koop gratis binne ʼn sekere tydperk sal herstel of vervang as iets daarmee fout is. Dit beteken ook, in die geval van ʼn “warranty”, ʼn versekering op skrif dat die produk of diens van goeie gehalte is.

In Afrikaans word hierdie twee terme dikwels op dieselfde grondslag gebruik om aan te dui dat jy regverdig vergoed sal word indien iets skort met die diens of produk wat jy koop. Produkte wat gewoonlik nie ʼn waarborg het nie, is in die verlede as “voetstoots” verkoop.

Voetstoots

Handelaars mag egter nie meer goedere as voetstoots verkoop waar jy goedere aanvaar met defekte en alles anders wat daarmee kan fout wees nie. Jy kan net instem om goedere voetstoots te koop indien die transaksie nie onder die Wet op Verbruikersbeskerming val nie, soos die privaat verkoop van ʼn huis.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Dié wet maak voorsiening vir die gehalte van goedere en dienste in artikels 54, 55 en 56.

Artikel 54 bepaal jy kan van ʼn handelaar verwag om ʼn diens betyds te lewer of voltooi, of betyds ingelig te word indien daar ʼn vertraging gaan wees.

Die diens moet verrig word op die manier wat jy verwag en alle produkte, wat daarmee verband hou, moet ook van goeie gehalte en sonder defekte wees. Jou eiendom moet ook hanteer word met sorg om te verseker jy kry dit ten minste in dieselfde toestand terug. Indien die diens nie van goeie gehalte is nie, kan jy van die handelaar verwag om defekte te herstel of ʼn billike deel van die prys aan jou terug te betaal na gelang van die probleem.

Volgens artikel 55 kan jy verwag dat goedere wat jy koop sal doen waarvoor dit ontwerp is, van goeie gehalte is, in ʼn werkende toestand en sonder defekte is, terwyl artikel 56 bepaal daar is ʼn versweë waarborg in elke transaksie wat onder die wet val en goedere moet voldoen aan die bepalings van artikel 55.

Die versweë waarborg is egter nie van toepassing op geskenke nie, maar die persoon wat die geskenk gekoop het kan sy regte in terme van artikels 55 en 56 uitoefen.

Waarborge op herstelwerk

Volgens artikel 57 het herstelwerk, wat onderdele en arbeid insluit, ʼn waarborg van drie maande, maar normale slyting en ongepaste verbruik word nie gedek nie.

Uitdruklike waarborg

ʼn Uitdruklike waarborg (“express warranty”) is gewoonlik ʼn duidelike verklaring oor die gehalte, toestand, werkverrigting of kenmerke van goedere en die maatskappy waarborg dat die goedere aan die uitdruklike waarborg sal voldoen. Die verklaring dat ʼn veiligheidshek “onbreekbaar” is, is ʼn voorbeeld van ʼn uitdruklike waarborg.

Vervaardigerswaarborg

Die vervaardigerswaarborg (“manufacturer’s warranty”) is gewoonlik ʼn waarborg dat die produk geen defekte het nie en dat dit vir ʼn sekere tydperk sal hou, andersins sal dit vervang word of jy sal jou geld terug kry. Wanneer ʼn bed byvoorbeeld vir tien jaar gewaarborg is en dit breek na vyf jaar, moet die maatskappy die bed herstel of jou geld terugbetaal.

Verbruikers kan gerus bedag wees daarop dat bedwaarborge gewoonlik ʼn “guarantee” het vir ʼn sekere tyd en ʼn “warranty” vir nog ʼn paar jaar. In hierdie geval word die bed gratis vervang of herstel indien jy binne die tydperk van die “guarantee” kla, maar indien jy binne die “warranty”-tydperk kla, sal jy ʼn bedrag betaal om die bed te laat herstel of vervang.

Uitgebreide waarborge

ʼn Uitgebreide waarborg (“extended warranty”) word aangebied wanneer die vervaardiger se waarborg verval. Jy koop hierdie waarborg gewoonlik vir ʼn motor of toestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.